Lesingsaal by Wits aan die brand gesteek

Wits Universiteit is van voorneme om diegene wat verantwoordelik is vir die gewelddadige betogings op sy Braamfontein-kampus in Johannesburg, te skors.

Dit kom nadat ‘n groep swart studente van die EFF en PAC klasse Maandag ontwrig het, die fooiekantoor bestorm het en ‘n lesingsaal op die hoofkampus in ligte laaie gelaat het.

Die universiteit moes inderhaas Maandagmiddag vroeg sluit en lesings kanselleer nadat geweld uitgebreek het en stoele en tafels in Senate House omgegooi is.

‘n Babelse verwaaring het geheers toe skoonmakers, lesbiërs, gays en lede van die #FeesMustFall beweging, slaags geraak het oor wie die belangrikste groep is.

Swart feministe het gesê manlike lede van die beweging gebruik hulle as “figurante” en laat “bekende misdadigers” toe om betogings op hul kampus te lei sonder hul kennis.

“Ons is kwaad omdat vroue nie in die #FeesMustFall beweging is nie. Dis asof vroue in hierdie beweging nie tel nie,” het ‘n vroulike student, wat anoniem wou bly, aan IOL gesê.

Die universiteitswoordvoerder, Shirona Patel sê hulle bestudeer die beeldmateriaal om die skuldiges te identifiseer wat Maandag die lesingsaal aan die brand gesteek het.

Studente wat aan die EFF verbonde is, het ook potplante omgegooi toe hulle die kantoor bestorm het.

Hulle eis gratis onderrig by die instelling. Die polisie is na die kampus ontbied om die situasie te monitor.

Patel sê die betoging is waarskynlik polities gemotiveerd met “wyer doelwitte” wat in die vooruitsig gestel word.

Die administrasie het die huidige geweld veroordeel op die hoofkampus, en gesê politieke opportunisme heers by die instelling.

Wits se Studenteraad het die protes gesteun. Die woordvoerder, Fasiha Hassan het haar volle ondersteuning aan die “dekolonisasie beweging” toegesê namens die Studenteraad, maar gesê dit moet sonder geweld geskied.

Die universiteit sê hulle het beter sekuriteit ontplooi en die polisie ingelig oor die jongste gebeure.

Patel sê sommige van die betogers is nie geregistreer as Wits-studente nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.