Verlede week was ‘n slegte week om ‘n leeu in Kenia te wees.
Donderdag is ‘n tweejarige leeu bekend as Lemek dood aangetref, met ‘n spies deurboor, het die Kenya Wildlife Service gesê.
Die tweede dooie leeu kom net ‘n dag nadat veldwagters van die diens ‘n ander leeu, Mohawk doodgeskiet het omdat hy glo ‘n swarte van sy motorfiets gestamp het.
Die swarte het vermoedelik self afgeval van skrik, maar het nogtans die leeu blameer vir sy geringe beserings.
Die spoor- en pad-projek wat sny deur die hart van ‘n natuurreservaat, Nairobi Nasionale Park, aan die buitewyke van die hoofstad, veroorsaak dat die leeus probeer om te ontsnap op soek na stiller jagvelde, volgens Reuters.
Beide leeus is in die suide van die park, gestig in 1946, doodgemaak. Die park word tans omring deur krotbuurte.
“Voor die konstruksie in die park begin het, het die leeus nie ontsnap nie, so daar is aanduidings dat die geraas en skietwerk hul bewegings beïnvloed,” sê Robert Ndetei, bewaringbestuurder by die Nairobi-kantoor van die World Wildlife Fund.
Die moorde het min verontwaardiging uitgelok, in teenstelling met wêreldwye woede-uitbarstings oor ‘n wit Amerikaanse tandarts ‘n leeu met ‘n kruisboog doodgeskiet het.
Walter Palmer is selfs deur die Zimbabwiese polisie in verband met aanklagte van stropery gesoek. Die Huisgenoot het selfvoldaan na die tandarts verwys as “die mees gehate man in die wêreld”.
Theo Bronkhorst, ’n professionele jagter van Zimbabwe en eienaar van Bushman Safaris in Bulawayo, moes ook in die hof verskyn het op ’n aanklag van die stroop van ene Cecil.
Die oud-CNN-aanbieder Piers Morgan het getwiet : “Ek sal graag die moordenaar-tandarts dr. Walter Palmer gaan jag sodat ek hom kan opstop en op my kantoormuur kan monteer.”
Die TV-persoonlikheid Sharon Osbourne het op Twitter getwiet sy hoop dat Palmer sy huis, praktyk en geld verloor aangesien hy “reeds sy siel kwyt is”.
“Walter Palmer is Satan. Ek weet nie hoe enigiemand ná dít vir tandheelkundige dienste na die man kan gaan nie. Hy is ‘n moordenaar,” het sy in ‘n daaropvolgende twiet gesê.
Richard Dawkins het alle trofeejagters as “sleg” uitgekryt en “olifant- en renosterstropers is nog erger” het hy getwiet.
Die Suid-Afrikaanse supermodel Candice Swanepoel en die Namibiese model Behati Prinsloo was ook besonder vyandig.
“Hoe durf jy, Walter Palmer! Watter plesier kry jy deur so iets te doen? Dit is ‘n seën om die diere lewendig in hul natuurlike habitat te sien. Jy moet siek wees om so ‘n majestueuse skepping van God te wil doodmaak,” het Swanepoel gesê.
Prinsloo het op Instagram uitgevaar: “Verveelde idiote wat dink dat trofeejag ‘n sport is, moet gestop word. Hoe kan ons steeds mense toelaat om hierdie ongelooflike diere te jag.”
In teenstelling word die swart plakkers in Kenia wat dié diere doodmaak, nie deur die media of bekendes veroordeel nie. In plaas daarvan word liters ink verspil oor die onafwendbaarheid van die leeus se krimpende habitat.