Gaan s? vir Professor Ben Liebenberg

Gustav Venter

GustavVenter

Ek ken die professor nie, het nog nooit 'n woord met hom gewissel nie, het niks gelees wat hy geskryf het nie. Ek weet hy het 'n reputasie gehad as 'n uitstekende akademikus, maar veel meer as dít weet ek nie van hom nie. Tog, elke jaar, hierdie tyd, dink ek aan hom, en omdat ek 'n onwillekeurige bewussyn van datums en tydperke het, dink ek veral hierdie jaar aan hom.

In 2003 het ek hom probeer opspoor want toe was dit twintig jaar. Hierdie jaar is dit vyf-en-twintig jaar.

Ek het sy naam raak gelees in 'n boek oor helde van die S.A.W. wat die Honoris Crux vir dapperheid verwerf het. Dit was 'n kort opdrag voorin, waarin die dood van sy seun, Tweedeluitenant Piet Liebenberg in kort, strak sinne beskryf is. Dis hoe ek geweet het.

Nou vra ek, as hy nog in hierdie wêreld is, en as jy hom ken, sal jy asseblief vir Professor Liebenberg sê ek het sy seun geken.

En dáárdie dag, die 31ste Desember 1983, op dáárdie oomblik, was ek, net soos Piet, in 'n desperate vuurgeveg net buite Cuvelai, 'n dorpie in Angola. En dis waaroor ek met hom sou wil praat, al is ek verbouereerd dat ek nie sal weet wat die regte dinge is om te sê nie.

Ek en Piet was saam in basies. Dis 'n eenvoudige stelling maar een wat vir die ingeligte alles beteken. Die weermag was 'n organisasie wat voortdurend vervorm en hervorm het en die lid is dikwels in ander pelotonne ingeskakel en in ander dissiplines opgelei as sy makkers van basies. Hy kon selfs sy hegste vriendskappe gevorm het met troepe wat nié saam met hom basiese opleiding ontvang het nie. Maar om saam met iemand “in basies” te wees, het 'n eiesoortige verhouding geskep, 'n onuitwisbare kameraadskap, 'n lidmaatskap in 'n klub waarin daar vir altyd en ewig net sóveel lede was.

Net iemand wat basiese opleiding in die Bataljon HK-peloton van 1 Suid-Afrikaanse Infanteriebataljon (ook bekend as Verkennerspeloton) van 1983 ontvang het, sal die presiese atmosfeer, uitdagings, terugslae, ontnugterings en ontdekkings daarvan kan onthou. Dit maak nie saak waar ons mekaar in ons onderlinge swerwinge in die organisasie en geografie van die weermag raakgeloop het nie, daar was daardie onmiddellike, diepgaande herkenning en kameraadskap.

Ons het almal vrywillig by die Verkennerspeloton aangesluit. Dit was die naaste keuse aan iets werklik dramaties soos die spesmagte. Elkeen van ons het sy rede gehad. Sommige het hulle hand opgesteek omdat hulle iets gehad het om te bewys en ander vanweë 'n sekere idealistiese drif. Piet? Wel, ek glo hy het daar aangesluit omdat hy verkennermateriaal was. Hy het daar behoort.

Piet was op elke manier 'n voortreflike mens en 'n waardevolle kameraad. Hy het 'n opvallende, rustige selfvertroue gekaats sonder enige uitspattigheid; 'n aantreklike ou, met wat beskryf kan word as 'n oop gesig en 'n manier om vas in jou oë te kyk as hy met jou praat. Hy was die vergestalting van Afrikanervoortreflikheid, die soort wat gemaklik is met sy leierseienskappe maar sonder vertoon of selfs 'n geritsel van snobisme. Dit was maklik om hom te vertrou en hy het die vertroue nooit verraai nie. Piet was stil, onthou ek, maar nie teruggetrokke nie. Dis net dat hy sy woorde goed oorweeg het en presies uitgespreek het.

Hy was ongetwyfeld 'n presteerder in 'n peloton met 'n taai program, een van dié wat altyd, maar altyd, sy deel gedoen het en dikwels meer as dit. Hy was van die skool wat gereken het dis tyd mors om oor iets onregverdig of iets onredelik taai te kla; doen dit net en kry klaar, dis beter. Sy inspeksies was altyd nét reg, sy teorie op datum, sy wapenbehendigheid op standaard en sy fisiese toetse met gemak geslaag. En hy was nooit, ooit een van daardie verwenste spesie, die gatkruiper nie. Piet was een van daardie kosbare lede wat 'n innerlike momentum aan 'n peloton gee en hy het dit gedoen sonder om die aandag op hom te vestig. Hy was duidelik offisiersmateriaal en is inderdaad na basies gekeur vir 'n juniorleierskursus by die Meg Leiersvleuel.

Gaan sê vir Professor Ben Liebenberg sy seun was 'n uitmuntende en hooggewaardeerde kameraad.

Ek was ook gekeur maar het nou geen onsekerheid oor my fisiese perke gehad nie. Ek is opgelei as 'n “spesdrywer,” die bestuurder van 'n Ratel Infanteriegevegsvoertuig. In Augustus, terwyl Piet Liebenberg nog in 'n strawwe offisierskursus gesweet het, is ek saam met my nuwe drywers na die operasionele gebied. Ek het hom eers weer in November 1983 op die grens raak geloop en nou was daar 'n splinternuwe, bottergeel vinielsterretjie op elkeen van sy skouers. Hy was nou Tweedeluitenant P. Liebenberg en wanneer ek hom gesien het, het ek hom volgens militêre protokol gesalueer en hy het my saluut altyd met so 'n effe verleë, skewe glimlag teruggestuur.

Die laaste keer wat ek met hom gepraat het, was toe ons almal as deel van Veggroep Delta van Oshivello vertrek het, Oshikati se kant toe, en toe Oshikango toe met die witpad langs en oor die grens deur Santa Clara in Angola in. Die Ratels het in 'n uitgespreide linie met die paradegrond af voor Sektor 10 Opleidingsvleuel se menasie gestaan. Ek en Piet het amper letterlik voor sy Ratel in mekaar vasgeloop.

Ek het met groot militêre vertoon gehalt, my regtervoet op aandag ingeskop en hom gesalueer.

“Toe nou,” het hy bedaard gesê terwyl hy terugsalueer. “Moet dit nou nie oordoen nie.”

Oor sy linkervoorarm het hy 'n kartonboks langlewemelkhouers gehad. Hy het vir my een gegee.

“Prof,” het hy met skielike nadruk gesê. “Laat dit goed gaan.”

Hy het omgedraai en die boks aan 'n troep op sy Ratel aangegee, op die sytrap geklim, die bokant van die kar beetgekry, op die voorwiel getrap met sy linkervoet, toe op die deurskanierknop met sy regtervoet en maklik tot bo geklim voor hy in sy bevelstoring ingesak het en begin grawe het vir sy kopstuk.

Ek het na die kajuit gekyk en vir Keipie, sy drywer, agter die stuur van die Ratel gesien en vir hom gewaai. Ek en Keipie het saam bestuurs-en-onderhoudopleiding gedoen en, meer nog, uitgedraf vir O-kompanie se tafeltennisspan. Hy was 'n opgeruimde, driftige soort.

Ek is vort na 19 Juliet, my ou Merk 1 Ratel waarvan die toring verwyder is sodat ons dit vir 'n ambulans kon gebruik. Na ek die groot 12-liter dieselenjin laat oorswaai het en gewag het vir die lugtenks om die regte drukkiing te bereik, het ek die melk sommer so uit die kartonhouer gedrink. Dit was die laaste koue vloeistof wat ek vir 'n paar maande sou inneem. 'n Ratelbemanning is voortdurend op die uitkyk vir meevallers en sulke vondse word gewoonlik onder hulle verdeel. Om 'n koue liter melk vir 'n lid van 'n ander bemanning te gee is 'n gebaar van uitsonderlike vrygewigheid.

Gaan sê vir Professor Ben Liebenberg sy seun was 'n ware heer en 'n goeie offisier.

'n Meganiese operasie, in die binnewerk daarvan beleef, is 'n frenetiese, deurmekaar besigheid met voertuie wat in seksies, pelotonne, vegspanne en eskadronne opvorm en waaruit karre weer net so maklik kan afdeel vir spesifieke take. Ek het vir Piet Liebenberg net nog 'n paar keer deur daardie harwarmaand van Desember 1983 gesien en dan net op 'n afstand terwyl ons logge echelon sy weg deur 'n ruie, papnat Angola gekronkel het. Ek het wel dikwels sy Ratel iewers in die opmars voor myne opgemerk.

Op die oggend van 31 Desember 1983 het ons Veggroep 'n gekoördineerde aanval op Fapla en Kubaanse stellings in die dorpie Cuvelai geloods. Ons was vroeg reeds in die moeilikheid vanweë foutiewe inligting en gebrekkige ontleding van die taktiese situasie. Ons vyand het baie sorgvuldig 'n omvattende doodsakker voorberei. Ons het deur 'n ruigte opgemarsjeer en het skielik 'n spookagtige vlakte getref waar al die bome kniehoogte afgesny was en ons sonder enige skuiling ontbloot was.

Ons was voorberei om 'n bataljonsterk opponerende mag aan te tref en sou eers later uitvind dat ons reg in die tande van 'n brigade vasgeloop het. Ons intelligensiediens het ons verseker daar sal nie slagtenks teen ons ontplooi word nie, maar T34- en T54 tenks het groot en dodelik opgedoem. Ons veggroep het hoofsaaklik uit ligte infanterie bestaan, geensins in die gewigsklas om dit met swaar pantser uit te sloeg vir behoud van die terrein nie. Ons enigste pantserafweervermoë was “Noddykarrtjies,” verouderde Eland 90 pantserkarre, wat te laag was om in die bebosde gebied op tenks te skiet en te skoert.

19 Juliet was in die HK-formasie in die middel van die opmars. Skuins voor my was boesemvriend Grobbies met 'n Ratel vol genietroepe en anderkant hom was Piet Liebenberg in sy Ratel.

Daardie aanval kon in 'n slagting ontaard het maar die Ratelbevelvoerders en 'n paar senior offisiere het kop gehou, die opmars betyds gehalt en onttrek. In hierdie tyd was daar hewige vuur uitgedeel deur beide kante. Stof. Rook. Krete oor die radio’s. Bevele. Rapporte. En dis asof die lug self van klank gemaak is in 'n onsamehangende geraas wat uit alle dimensies oor ons gebreek het. Dit was in hierdie tydstrek wat dáárdie noodlottige rondte afgevuur is, maar dit sou ek eers later weet. Eers moes ek na die vuurfront verskuif vir 'n “Casevac” ('n ongevalle-ontruiming.) Ek is by Grobbies se kar verby, by Piet s'n verby…

Die hele veggroep het uiteindelik onttrek en langs 'n sjôna versamel.

Dis hier wat ek gehoor het van 'n Luitenant Liebenberg wat noodlottig getref is. Eers het ek nie die verband getrek nie maar die draadjies tussen die inligting en die implikasie het gaandeweg aanmekaargeryg totdat die volle kennis my verbyster het. Ek kon 'n Ratel sien waar rondom daar onheilspellende geskarrel was.

Daar het ek vir Keipie gekry wat voor by sy Ratel op die grond gesit het. Ek het met hom gepraat maar hy het my óf nie gehoor nie, óf nie die siel oorgehad om te antwoord nie. Daar was net hierdie vreeslike, wye, uitgeputte verdriet om hom en hy het gesit en ver gestaar na iets wat hy nie kon sien nie.

Ek het na die Ratel gekyk. Dit het onder skoot gekom van 'n nare wapen, 'n 23mm wisselvuurdubbellooplugafweerk

anon wat Fapla geleer het om op grondteikens te rig. Dit kan 'n absolute verwoestende hael van vuur besorg. Daardie Ratel is deur net een rondte, 'n pantserbreek, getref.

'n Ratel se bevelstoring is 'n kort, stewige konstruksie met 'n koepeldeksel, links bo op die voertuig. Aan die bokant is 'n ry plat, koeëlbestande venstertjies wat deur balkies van so dertig millimeter wyd geskei word. Die koeël is deur een van die balkies, so presies in die middel gespasieer, dis asof dit uitgemeet is. Die pantserstaal het karige weerstand gebied en die koeël is dwarsdeur. En aan die anderkant was ons vriend, Piet Liebenberg.

Ons het met groot vaart en in 'n uitgerafelde formasie onttrek om te hergroepeer. Daardie nag, in 'n gietstorm, het ek opgekrul op die plaat oor 19 Juliet se ratkas. Deur alles waarin my verstand probeer vastrap kry het, en my flarde gebede deur, het ek aan Piet gedink. Ek kon nie help om aan daardie laaste oomblikke in Piet se Ratel te dink nie. Ek het gewonder…

Maar ek weet wat die atmosfeer daarin was. Dit was 'n kar wat sy plig sou doen tot die einde toe. Ek weet, want Piet Liebenberg was daar in bevel. Ek weet hy het wakker maar koel die situasie ontleed, bevele ontvang, ontsyfer en deurgestuur. Ek weet hy was doelgerig en seker van sy bewegings. En sy kalm bestendigheid sou deurgewerk het na sy bemanning en elkeen het geweet wat hy moes doen en dat hy dit sóú doen. Hulle was Piet Liebenberg se bemanning.

Gaan sê vir Professor Liebenberg sy seun het gesterf terwyl hy sy werk as 'n soldaat gedoen en goed gedoen het.

Ek het agterna 'n medic uitgevra wat gehelp het om Piet se liggaam uit die Ratel te haal. Hulle het dit na 'n tafel buite die mediese tent geneem om te versorg. As deel van hulle pligte moes hulle deur sy sakke gaan. In sy linkerhempsak het hulle 'n laaste brief aan sy meisie gevind

“Wat het daarin gestaan?” het ek die medic gevra.

Hy het my verwoed aangekyk. “Ons het dit nie gelees nie,” het hy driftig geantwoord, en toe, sagter: “Dit was privaat.”

Gaan vertel vir Professor Liebenberg van die ontroerende sorgsaamheid en die oorweldigende teerheid waarmee die mediese personeel sy seun se liggaam hanteer het, gewas het en voorberei het vir daardie laaste vlug terug na sy land.

Ek wonder al vir twee-en-'n-half dekades lank wat Piet in daardie laaste brief geskryf het. Ek glo dit was 'n brief vol toekomsplanne. Hy het sy argitektuurstudies onderbreek om sy diensplig eers af te handel. Piet sou 'n goeie argitek gewees het, soos ek hom geken het. Hy was 'n bouer, een van daardie kragbronne gebore uit die saad van mense wat 'n sterk, welvarende land uit die wildernis van 'n donker kontinent kon kap. Hy was van die beste soort wat ons volk kon voortbring, en dit was duur, duur, baie duur, om hom af te staan. En ek weet dit was 'n prys oneindig groter vir sy ouers, sy familie en daardie meisie vir wie hy 'n laaste keer geskryf het.

Gaan sê vir Professor Liebenberg dat ek weet nie een van ons, of almal van ons saam, kan hulle vergoed vir die prys wat hulle moes betaal nie.

Maar dít wat ek kan betaal, die karige teenprestasie wat ek kan maak… ek wil nie in gebreke bly om dit te gee nie. Hier is wat ek kan doen: Solank ek een tikvinger oor het, kan ek spartel om seker te maak dat nie een Afrikaner ooit sal vergeet wat vir hulle oorlewing betaal is nie. Ek sal aanhou skryf hieroor. Ek sal aanhou om die gruwelleuens wat met soveel kil arrogansie oor Piet en die ander se opoffering vertel word, met alle verbetenheid te ontbloot en aan te spreek. En ek sal aanhou om die voorbeeld van die Piet Liebenbergs van hierdie land hoog te hou sodat vandag se jonggeslag sal weet wat 'n goeie man is.

En ek sal dié wat mor dat Piet-hulle se opoffering, en sy naastemense se rou, oorbodig was, skerp vermaan. Piet Liebenberg en al die ander wie se harte die laaste keer geklop het in daardie stryd het vir ons iets ontsaglik kosbaar en onsterflik gegee: Hoop. Want dít wat van Piet gemaak het wie hy is, het nie verdun geraak en toe verdwyn nie. Dit is nog steeds daar. Ek sien dit elke dag wat ek 'n beleefde Afrikanerseun se ferm handdruk voel, wat ek in die fierheid van hulle oë vaskyk, hulle ongeduld aanvoel.

Gebare het in ons tyd oorgewoon en verwaterd geraak. Maar soms is gebare al wat ons het. Ek het geen groot gebaar wat ek kan maak nie maar wat dit in omvang ontbreek, sal ek met opregtheid probeer vergoed.

Gaan sê vir Professor Liebenberg dat hierdie jaar, om middernag op die 31ste Desember, op die vyf-en-twintigste herdenking van sy seun se groot prestasie, gaan ek 'n vlag hys, 'n vlag met oranje-blanje-blou bane, ek gaan dit salueer en ek sal die name noem van my kamerade wat gesneuwel het. Een van daardie name sal Piet Liebenberg wees.

Ek hoop ek sal nie alleen wees wanneer ek dit doen nie maar sal probeer om veterane in die Clarens-omgewing te kry om by my aan te sluit sodat hulle húlle gevalle makkers se name kan noem.

En ek vra elke oud-lid wat hierdie lees om by ons aan te sluit, waar jy ook al daardie oomblik mag wees. Ek vra dat waar moontlik, jy 'n vlag sal hys en sal salueer en jou vriende wat nooit soos ons ouer sal word nie, se name sal noem.

Ons land is in die soort krisis wat Piet geveg het om te voorkom. Dit het tyd geword vir gebare in die donker.

En as jy hierdie lees, en jy ken vir Professor Ben Liebenberg, gaan sê vir hom dit was my eer om sy seun, Piet, te ken.

Ek sal hom nooit vergeet nie.

светильники карданный купитьлобановский александр биография

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.