Leon Lemmer: Verraad in Rhodesië/Zimbabwe en Suid-Afrika

Op 1 Maart is David Coltart se boek, The struggle continues: 50 years of tyranny in Zimbabwe (Auckland Park: Jacana, 2016, 647p, R380; Amazon Kindle $20,51) gepubliseer. Ek was verbaas om so ‘n lywige boek oor Rhodesië/Zimbabwe, gepubliseer deur ‘n plaaslike uitgewery, in die boekwinkel te sien. Ek onthou dat Ian Smith (1919-2007, Rhodesiese eerste minister 1965-1979) geen hoofstroom- of Suider-Afrika-uitgewer vir sy outobiografie (The great betrayal: The memoirs of Ian Douglas Smith, London: John Blake Publishing, 1997, 418p; 2de uitgawe in 2001: Bitter harvest: The great betrayal) kon vind nie, al het hy daarin geskryf: “We have in Nelson Mandela a leader with the maturity, wisdom, compassion and courage that derives from great experience” (p 412). Dít was by Smith ‘n voorbeeld van (soos Rhodesiërs graag sê) “leaning too far blackwards”. Uiteindelik het dit niks gehelp nie. In 2012 het die Mugabe-bewind op sy plaas beslag gelê.

Hoekom sou Jacana hierdie boek gepubliseer het? Coltart is ‘n regsgeleerde wat lank ‘n Zimbabwiese parlementslid en selfs ‘n minister in Robert Mugabe se kabinet was. Maar in bv Suid-Afrika is hy minder bekend as Ian Smith. Ek dink politieke korrektheid was dié faktor wat die besluit ten gunste van publikasie deurslaggewend beïnvloed het. Coltart het met verloop van tyd baie van sy aanvanklike gesonde politieke beginsels versaak en aangepas by die brutale werklikheid van Mugabe se swart meerderheidsregering. “I have changed from a teenager who thought that Ian Smith was a hero into an adult who believes his policies were both disastrous and morally wrong” (Kindle 177).

Die halfeeu van tirannie waarna in die boek se newetitel verwys word (1965-2015), begin met Smith se eensydige onafhanklikheidsverklaring. Soos toe die blanke bewind in Suid-Afrika op ‘n einde gekom het, het “die wêreld” grootliks belangstelling in Zimbabwe verloor toe Mugabe se swart bewind in 1980 die politieke mag oorgeneem het. Nuus oor wat in daardie land gebeur, het sedertdien skaars geword. Daarom is dit insiggewend as Coltart se eerstehandse waarnemings krities gelees word.

Coltart is in 1957 in Gwelo gebore met ‘n Skotse pa en ‘n Suid-Afrikaanse ma. In sy ouerhuis was die politieke klimaat links-liberalisties, wat skeptisisme, selfs vryandigheid, teenoor die Smith-bewind ingesluit het. Maar sy ouers se politieke oortuigings was nie bodemloos pro-swart nie. Toe Mugabe in 1980 die staatshoof geword het, het hulle hulle spoedig in Suid-Afrika hervestig.

Coltart het egter in Rhodesië opgegroei, daar skoolgegaan en ook ‘n tyd lank in die veiligheidsmag (polisie) gedien. In sy jeug was hy polities meer konserwatief as sy ouers, onder meer omdat hy eerstehandse ondervinding van die dade van die terreurbendes gehad het. Hy het egter met die goedkeuring van sy ouers spoedig sy militêre plig teenoor sy geboorteland versaak en aan die Universiteit Kaapstad regte studeer. In Suid-Afrika het hy hom van die begin af by anti-apartheidselemente geskaar deur bv gratis regshulp aan swartes te verleen. Dit het as voorbereiding gedien vir sy toenemende politieke verligtheid nadat hy sy regsloopbaan in Bulawayo begin het.

Die boek volg dieselfde patroon as die van sommige ander skrywers. Byvoorbeeld, as RW Johnson, Anthea Jeffery, Peter Godwin of Leopold Scholtz die swartes kritiseer, doen hulle dit eers nadat hulle hulle bona fides probeer bewys het deur apartheid so sleg moontlik te sê. Coltart doen dieselfde. Hy vrek omtrent van politieke korrektheid. Wanneer hy uit ou geskrifte aanhaal, laat hy die hele woord (wat met ‘n k begin) weg sodat baie lesers moontlik nie eens sal weet watter woord gesensor word en waarom nie (256).

'n Britse spotprent uit 1964 waarin Ian Smith en HF Verwoerd voorgestel word.
‘n Britse spotprent uit 1964 waarin Ian Smith en HF Verwoerd voorgestel word.

Hy het die grootste moontlike waardering vir die ANC se Waarheids- en Versoeningskommissie en voel sterk daaroor dat Zimbabwe ook die gewaande voordele van so iets moet beleef. By Engelssprekende Rhodesiërs, soos Coltart en Godwin, is daar, ten spyte van hulle gewaande verligtheid, die bedenklike neiging om hulle kultureel beter en moreel hoër as Afrikaanssprekende Rhodesiërs – en natuurlik ook Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners (as apartheidsapologete) – te ag.

‘n Ander kwaal waaraan Coltart ly en wat dikwels by regsgeleerdes aangetref word, is dat meer oor regskwessies uitgewei word as wat gewone lesers graag verduur. Soos die ANC-bewind in Suid-Afrika is die Mugabe-regering voortdurend in regsgedinge betrokke, wat baie belastinggeld tap. Die koms van ondoeltreffende en korrupte swart regerings in Suidelike Afrika het vir die regsberoep finansieel ‘n bloeityd ingelui. In regsgeledere word hierdie wantoestand uit eiebelang nooit gekritiseer nie, al is dit sekerlik in die openbare belang dat sulke buitensporige duur aktiwiteite besnoei word. Dieselfde kan gesê word van die nuwe Suid-Afrika se onnodige aanvulling van die Appèlhof met die Grondwethof.

In die ou Suid-Afrika was daar ‘n oormaat van kritiek op die regstelsel. Deesdae is daar veel meer rede vir kritiek (bv gebrekkige skeiding van die politieke en regsbedeling, dus ANC-gedienstigheid, en aanstellings en bevorderings op grond van ras en geslag, wat ‘n laer bekwaamheidsvlak tot gevolg het) maar dit gebeur selde dat kritiek hierop in die openbaar uitgespreek word. In Zimbabwe is die regspleging selfs in groter mate sy onafhanklikheid van die politiek kwyt. Die Grondwethof se uitspraak oor Nkandla op 31 Maart sal nie in Mugabe se Zimbabwe gebeur nie.

Soos in die nuwe Suid-Afrika reis Zimbabwiese kabinetslede baie graag in die buiteland. Coltart het hieraan meegedoen, al weet hy die staatskas is leeg. As minister van onderwys het hy donasies vir skole by Westerse lande gewerf. Toe hy sy ministerskantoor betrek, het die gebou nie watertoevoer of werkende hysers gehad nie. Hy moes hierdie sake self regstel omdat sy swart voorganger en sy personeel versuim het om dit te doen, of gewoon nie die vermoë het om so iets te doen nie. Wat wel goed funksioneer, is die voorsiening van luukse motors aan ministers. Tot sy eer het Coltart op sy eerste werksdag as minister geweier om ‘n nuwe, luukse Mercedes-Benz as ampsmotor in ontvangs te neem. Later het hy ‘n Nissan gekry wat meer geskik was vir die besoeke wat hy in onherbergsame gebiede by skole afgelê het.

As ‘n mens ten spyte van katastrofiese politieke veranderings in jou geboorteland aanbly, kan dit positief vertolk word. Die probleem is dan om te besluit in watter opsigte en in hoeverre jy bereid is om aan te pas; dus te verander. By Coltart neem dit myns insiens oordrewe afmetings aan. Hy skaam hom byvoorbeeld omdat hy in die Smith-bewind se veiligheidsmagte gedien het. Hy het die grootste bewondering vir die Nieu-Seelander Garfield Todd (1908-2002, eerste minister van Suid-Rhodesië, 1953-1958) en sy dogter Judith (gebore in 1943), wat albei fanaties teen die blanke bewind gekant was. Albei het die terroriste aktief gesteun (Peter Godwin, When a crocodile eats the sun, Northlands: Picador, 2006, p 195). Coltart poog om die anti-Mugabe-opposisie te verstrek, maar verdeeldheid en verkiesingsbedrog veroorsaak dat opposisiepolitici eerder in die Mugabe-kabinet opgeneem word as wat daar ‘n grondige bewindsverandering is.

Met sommige Mugabe-kornuite kom Coltart beter klaar as met ander. Sulke pro-Coltart-kamerade word in sy boek beter voorgestel as die anti-Coltart-kamerade. Maar onder dié waaroor net gunstig berig word, is daar diegene wat die allerverskriklikste misdade as terroriste gepleeg het, blanke plase daarna gratis ingepalm het en deur en deur korrup is. Coltart se politieke korrektheid, verligtheid en bereidwilligheid om saam te werk, word myns insiens erg oordryf. Ek volstaan met ‘n enkele voorbeeld.

“My own year ended on a high with a visit to Malawi to celebrate my elder son Douglas’s marriage to a Malawian, Chloë McGrath. One of the thoughts I have tried to instil in my children has been to think of Southern Africa rather than Zimbabwe, because its successful future, I believe, is dependent on its integration. It was pleasing for me to see this principle being put into practice through this SADC [Southern African Development Community – 15 countries] marriage. The wedding itself was a celebration of hope in the future – three of my son’s groomsmen were young black Zimbabweans, a scenario almost unthinkable in my generation because of racial segregation” (10711).

Coltart verpolitiseer hierdie troue. As drie van die strooijonkers swart was, hoeveel was daar altesaam? Dit is duidelik dat die troue op ‘n groot en seker duur skaal gedoen is. Deur te verafrika is daar glo hoop, ook vir die blankes. Dit klink darem asof die bruid wit is. Soos by Coltart se ouers is sy seun se pro-swart ingesteldheid dan seker ook nie bodemloos nie.

Soos in Suid-Afrika was die oorgang van politieke mag in Zimbabwe van wit na swart hoogs skandalig. Ook daar kon dese en gene by enige verkiesingslokaal stem omdat geen kieserslys bestaan het nie. Ook daar het intimidasie hoogty gevier. Blykbaar word daar sonder meer aanvaar dat wat in die ANC se Vryheidsmanifes van 1955 staan evangelie is: “South Africa belongs to all who live in it.” Dit is ‘n kommunistiese idee dat daar nie private besit is nie; dat die staat of bevolking alle grondgebied besit en oor alle eiendomsreg beskik. ‘n Land moet nooit aan al die inwoners behoort nie; sekerlik nie aan diegene wat hulle onwettig in die land gevestig het nie.

Desnieteenstaande kon alle onwettige immigrante en ander misdadigers in sowel Zimbabwe as Suid-Afrika stem toe daar van die blanke bewind ontslae geraak is. Blykbaar is dit net wanneer swartes moontlik benadeel kan word dat daar eties gehandel moet word. In die nuwe Suid-Afrika is dit steeds iedere misdadiger se heilige reg om te stem, terwyl stemreg in beskaafde lande tydelik of permanent van misdadigers ontneem kan word. Eerstens gee ek toe dat die nuwe Suid-Afrika in vergelyking met die ou Suid-Afrika kwalik ‘n beskaafde land genoem kan word. Tweedens gee ek toe dat as alle (oud)misdadigers hulle stemreg ontneem word daar mense in leidende posisies in politieke partye sou wees wat geen stemreg sou hê nie. Maar hoort sulke mense in die politiek? Is dit nie in landsbelang dat vereis word dat politici aan hoë morele standaarde moet voldoen nie? Toon dit nie duidelik dat die grondslag waarop die nuwe Suid-Afrika en Zimbabwe staatkundig funksioneer fundamenteel foutief is nie?

Die punt waarby ek wil uitkom, is dat Coltart geen wesenlike beswaar het teen die manier waarop van die blanke bewind in Zimbabwe ontslae geraak is nie. In Suid-Afrika het FW de Klerk die dwaasheid gepleeg om die veiligheidsmagte (polisie en weermag) voor die 1994-verkiesing grootliks te neutraliseer/ontmagtig. Die gevolg was dat opgeleide terroriste in groot getalle die land binne gestroom het en kiesers geïntimideer het om vir die ANC te stem. Die terroriste het terselfdertyd groot hoeveelhede ammunisie ingesmokkel. As die ANC die verkiesing verloor, sou hy sy terrorisme uit strategies beter posisies kon voortsit.

Anthea Jeffery bied in haar boek, People’s War (Johannesburg: Jonathan Ball, 2009, 634p; Amazon Kindle $11,96), ‘n deeglik nagevorste, gesaghebbende relaas hiervan. Sedert ek hierdie boek gelees het, is dit vir my onmoontlik om respek te hê vir hoogs immorele kamerade wat leidende posisies in die ANC beklee het (soos Nelson Mandela) en ander wat steeds sulke posisies beklee (soos Cyril Ramaphosa). Laasgenoemde het blanke sakelui pas verseker dat die ANC sal sorg dat hulle ingevolge swart ekonomiese bemagtiging deur die regering beroof word totdat die ekonomie oorwegend in swart besit is (Netwerk24, 24 Maart). Dit is die tema van Anthea Jeffery se uitstekende boek, BEE: Helping or hurting? (Kaapstad: Tafelberg, 2014, 507p; Amazon Kindle $12,53).

Die uitgangspunt is dat swartes die reg het om blankes van hulle welvaart te ontneem eerder as om self welvaart te skep. Waarop dit neerkom, is: “The race engineers annihilate what’s left of the economy” (Ciaran Ryan, “How SA slept through the BEE revolution,” Moneyweb Today, 7.12.2015). Alle landbougrond sal na verwagting deur die ANC-regering genasionaliseer word, ter bevoordeling van swartes en ter benadeling van blankes en Suid-Afrika (Anthea Jeffery, “Die kruipende nasionalisering van grond bied nie ‘n antwoord vir armoede nie,” Maroela Media, 9.03.2016; ook BizNews.com, 1.03.2016). In die hoofstroommedia word die feite wat Jeffery in haar navorsing opgediep het egter verswyg, seker omdat dit polities inkorrek ongunstig op die ANC reflekteer. Of is die twee Jeffery-boeke vir sulke joernaliste te dik en moeilik om te lees?

Terug na die oorgang van blanke na swart bewind in Rhodesië en Suid-Afrika. Veel vroeër (in 1980) was die situasie in Rhodesië (‘n terrorisbesmette land) soortgelyk aan dié in 1994 in Suid-Afrika. Die De Klerk-regering het geen verskoning vir hierdie ernstige flater (verkiesing in chaotiese omstandighede, een van sy menige flaters) wat in 1990/1994 begaan is nie. Vir ‘n objektiewer beskrywing as Coltart s’n van Zimbabwe se “eerste demokratiese” verkiesing in 1980 verwys ek na George Selby (1937-2006) se boek, From safari suit to camouflage: The memoirs of George Selby (edited by Lillian van Velden, Partridge Publishing, 2015, 276p; Amazon Kindle $4,55). Die Selbys het hulle kort na die Nasionale Party se verkiesingsoorwinning in 1948 in Rhodesië gevestig omdat hulle op soek was na ‘n opset wat meer Brits was. Maar soos Coltart se ouers het George Selby en sy gesin hulle in 1980 in Suid-Afrika hervestig. Anders as Coltart het George Selby egter die hele duur van die stryd teen terrorisme in aktiewe militêre en veiligheidsdiens meegemaak. Anders as Coltart was Selby glad nie ‘n politieke dier nie.

Tydens die drie dae lange 1980-verkiesing in Februarie 1980 het Selby as polisiereservis diens gedoen om te verseker dat die hoofpad van Beitbrug tot Fort Victoria oop en veilig is. “With an estimated 35 000* insurgents flooding into the country to vote, and to cause trouble if the outcome was not to their liking, the security forces certainly had to be on their toes” (Kindle 4498). “It was amazing just how many blacks had already gathered for the next day’s voting, many of them carrying weapons: RPG-7s, machine guns, and rifles” (4557). [* Ek kon nie inligting oor die getal terroriste in Ian Smith se outobiografie of in Peter Godwin se vier boeke opspoor nie. In Suid-Afrika is die getal terroriste wat voor die 1994-verkiesing die land binnegekom het op 13 000 gestel (Jeffery, People’s War, Kindle 8091, 14416). Kan dit wees dat FW de Klerk voor ‘n veel kleiner getal terroriste as Ian Smith geswig het en daarby in ‘n veel groter mate? In die Zimbabwiese parlement van 100 lede het 20 blankes sewe jaar lank gewaarborgde sitting gehad. De Klerk het glad nie daarin geslaag om iets soortgelyks te beding nie.]

Die terroriste waaroor dit hier gaan, verstaan bv AK47-gewere maar daar moet nie van hulle verwag word om doeltreffend boek te hou van enigiets nie. Oor die getal terroriste is daar dus nie eenstemmigheid nie. ‘n Ander polities korrekte Jacana-publikasie, Janet Cherry se boek, Umkhonto weSizwe (Auckland Park: Jacana, 2011, 156p), kan hieroor geraadpleeg word. Cherry erken: “There is … a bias in the framing of the book, stemming from my own involvement as an ANC and an anti-war activist” (p 12).

“By May 1995, some 15 000 of the 35 000 non-statutory [!] forces members (comprising 28 000 MK and 6 000 APLA soldiers) had reported to assembly points. While they are referred to by some analysts as guerrillas, it should be noted that many thousands had not been formally trained nor engaged in guerrilla operations; they included some of those informally trained inside South Africa, including SDU [Self-Defence Units] members” (127-128). Laasgenoemdes verwys na terroriste wat danksy die toegeeflikheid van FW de Klerk in 1990/1994 in Suid-Afrika as terroriste opgelei is, bv in Bantu Holomisa se Transkei. In haar boek verskaf Jeffery heelwat inligting hieroor. Volgens bostaande statistiek is moontlik net soveel terroriste binne as buite Suid-Afrika opgelei, wat op uiters laakbare versuim van die De Klerk-regering dui.

In 1990/1994 is 15 000 mense in die gewapende stryd gedood (Jeffery 14301), veral omdat dit die ANC se verklaarde beleid was om nie terrorisme te staak terwyl grondwetlike onderhandelinge gevoer word nie. Die doel was om voor die verkiesing die invloed van sowel Inkatha as die blankes te neutraliseer. Hoewel Mandela een van die hoofargitekte van hierdie beleid was, het hy op sy grenseloos immorele manier gelieg: Dit was ‘n “universally recognised fact that the ANC has not killed a single person since the peace process began” (Jeffery 7476). En “die wêreld” het hom geglo, want “die wêreld” wou hom glo. Die getal kamerade wat aanspraak op terrorisstatus gemaak het, het heelwat meer geword nadat die ANC-regering besluit het om hulle met staatstoelaes te vergoed vir niksdoen/ledigheid of vir die dood en verwoesting wat hulle gesaai het.

“By June 1995, nearly 12 000 members of the non-statutory forces members had been integrated into the SANDF [South African National Defence Force]. It was expected that in the end around 14 000 MK members would be integrated into the SANDF. If Motumi’s* estimate that there were no more than 10 000 to 12 000 MK members who received formal training outside South Africa is accurate, then most of this number were absorbed into the new army” (Cherry 128). [* Tsepe Motumi, “Umkhonto we Sizwe: structure, training and force levels (1984-1994)”, African Defence Review, 18, 1994.]

Die 13 000 buitelandsopgeleide terroriste waarna Jeffery verwys, stem dus min of meer ooreen met die tot 12 000 waarvan Motumi gewag maak. Dit is hierdie elemente wat die kern van die weermag van die nuwe Suid-Afrika uitmaak. Cherry erken: “In military terms MK has to be judged one of the least effective armies in modern history” (141). Dit maak De Klerk se algehele politieke magsoorgawe des te meer skandalig. Cherry se erkenning wek noodwendig twyfel oor die gehalte van die nuwe Suid-Afrika se weermag. Sy merk ligweg op dat die terroriste in die weermag geïntegreer is. Wat sy verswyg om te noem, is dat dit ten koste van blankes geskied het, terwyl FW de Klerk voor die 1992-referendum plegtig belowe het dat geen blanke sy werk sou verloor nie.

Die populêre opvatting is blykbaar dat toi-toi sommer maar net ‘n onskuldige uitdrukking van swart kultuur is. Die HAT is nader aan die waarheid deur toi-toi te beskryf as ‘n “militêre dans, veral tydens ‘n optog uitgevoer, waardeur die skare opgesweep (kan) raak.” Toi-toi is histories uitdruklik anti-blank en pro-terrorisme. Hier volg ‘n laaste aanhaling uit Cherry se boek: Toi-toi-danse is “simulation of the military training that MK soldiers underwent, which they had in turn learned from ZIPRA [Joshua Nkomo’s Zimbabwe People’s Revolutionary Army] cadres in Zimbabwe” (67). As die ANC-regering werklik versoening begeer, sou hy toi-toiery verbied.

‘n Lid van die Britse vredesmag het voor die 1980-verkiesing in Rhodesië vir Selby (as lid van die Rhodesiese veiligheidsmag) gevra: “Don’t you think your presence here is provocative? With all these freedom fighters and the local population around here, anything could spark off trouble” (4564). Selby skryf: “Much as I have always liked the British, this one definitely annoyed me intensely, and I thought to myself, You stupid arsehole! This is not even your country. You haven’t risked your life fighting for it” (4564). Daardie aand in die kroeg het ‘n Britse polisieman, wat ook deel van die buitelandse vredesmag was, darem ‘n ander deuntjie gesing: “The Bri’ish guv’ment is be’aving like a bluidy ostrich with its ‘ead stuk up its arse!” (4573).

“As more and more insurgents came out of the bush, so did intimidation and beatings of the locals, who had no choice but to vote for whom they were told. Despite the monitors being aware of the problem, they said they were unable to pinpoint anything specific” (4580). “The three days of polling were full of tension as many heavily armed insurgents loitered around the polling station … Once the elections were over, the ballot boxes were flown to Britain to await the outcome of what many believed was a rigged election” (4617).

In die 1994-verkiesing in Suid-Afrika het dit selfs meer chaoties daaraan toe gegaan. Die finale uitslag, soos beskryf deur Jeffery, is deur die politieke partye onderling beding (13962, 13973). Die uitgebragte stemme het bloot as ‘n riglyn gedien. Die voorsitter van die Onafhanklike Verkiesingskommissie, Johann Kriegler, het gesê: “The election is about national reconciliation, not ballot reconciliation” (13880). Hierdie chaoties verkose parlementslede het die Grondwet goedgekeur waarmee ons steeds moet saamleef. De Klerk vra deesdae gereeld dat ons aan hierdie Grondwet moet vasklou, asof dit sy blywendste bydrae of prestasie is. Leon Wessels skryf egter: In 1996 “flankeer FW openlik met die gedagte om teen die Grondwet te stem” (Vereeniging, Kaapstad: Umuzi, 2010, p 279).

Selby skryf: “The war had been lost, and a sense of betrayal hung heavily in the air. It was ironic to see how many Rhodesians eventually went off to live in the very same countries they felt had betrayed them. Zimbabwe’s loss was to be their gain as talented, innovative, and hardworking people left the country in droves” (4656). “We had fought for a good cause” (4699). Dít is die teenoorgestelde van Coltart se gevolgtrekking. Die titel van Ian Smith se outobiografie verwys ook na die verraad wat daar teen Rhodesië en sy blankes gepleeg is. Dit is ‘n historiese feit dat John Vorster se regering ‘n prominente bestanddeel van daardie verraad is. Ian Smith haal in sy outobiografie een van sy bewonderaars soos volg aan: “There is no dishonour in a lost cause – the shame is with those who betrayed you” (p 327) en ook vir Cicero: “A nation can survive its fools and even the ambitious. But it cannot survive treason from within” (320).

Ek onthou hoe Vorster destyds beweer het dat dieselfde lot (swart meerderheidsregering) nie Suid-Afrika sou tref nie, want Suid-Afrika was glo, anders as Rhodesië, “‘n soewerein, onafhanklike land.” Deesdae is dit die Suid-Afrikaanse swart meerderheidsregering se Onafhanklike Verkiesingskommissie wat keer op keer ‘n Mugabe-verkiesingsoorwinning, teen al die feite in wat op die teenoorgestelde dui, “vry en regverdig” verklaar. Ek volstaan met ‘n enkele voorbeeld van wat in Zimbabwiese verkiesings gebeur: “As the candidates were waiting for the ballot counting to begin, they heard the results being announced on the radio” (Peter Godwin, The fear: The last days of Robert Mugabe, London: Picador 2010, p 214).

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.