Parysterreur-verdagte reg om ISIS-geheime uit te lap

Deel op

Die verdagte in die Parys-aanvalle, Salah Abdesalam, wil met die Franse owerhede saamwerk, het sy regsgeleerde dié week verklaar.

Hy het ook bevestig dat sy kliënt bereid is om aan ­Frankryk ­uitgelewer te word.

’n Aanklaer sou na die stad Brugge reis, waar Abdesalam aangehou word om sy uitlewering ingevolge ’n Europese arrestasiebevel te bespreek.

Abdesalam het nie sedert die aanvalle in Brussel met ondersoek­beamptes gepraat nie.

Hy word verbind met verskeie van die aanvallers wat 32 mense verlede week doodgemaak het.

Die 26-jarige is op 18 Maart in Brusssel in hegtenis geneem nadat hy vier maande op die vlug was ná die selfmoordbomaanvalle in Parys in November waarin 130 mense dood is.

Hy is sover bekend die enigste oorlewende van die selfmoordbomaanvallers se sel van tien mans wat vir die menseslagting in die Franse hoofstad verantwoordelik was.

Die Belgiesgebore Franse burger is in hegtenis geneem toe hy ongewapen was en is in die been gewond.

Hy het ondersoekbeamptes meegedeel dat hy van plan was om hom by die Stade de France-stadion in Parys die lug in te blaas, maar dat hy op die nippertjie daarteen besluit het.

Die VSA het intussen FBI-spanne na België gestuur om te help met die ondersoek na die terreuraanvalle op 22 Maart in Brussel waarin 32 mense dood is.

‘n Woordvoerder van die Amerikaanse regering sê die spanne sal inligting deel om nog aanvalle te voorkom.

Hy sê die Belgiese minister van binnelandse sake, Jan Jambon sal ook volgende week samesprekings voer oor veiligheid met die Amerikaanse prokureur-generaal, Loretta Lynch.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.