President Jacob Zuma het tot middel Julie tyd om ‘n gedeelte van die geld wat op sy privaatwoning Nkandla in KwaZulu-Natal verkwis is, terug te betaal.
Die hoofregter van die Grondwethof, Mogoeng Mogoeng het Donderdag in sy uitspraak beslis dat die president strydig met die grondwet opgetree het deur nie aan die Openbare Beskermer gehoor te gee nie.
Die OB, Thuli Madonsela se aanbevelings oor Nkandla is as bindend, ingevolge die uitspraak en ‘n spertyd van 105 dae is gestel vir die terugbetaling.
Die Tesourie het 60 dae tyd om te bepaal hoeveel geld die president moet terugbetaal. Zuma het ná die Tesourie se spertyd, 45 dae tyd om dié bedrag te vereffen.
Madonsela het Donderdag gesê die aanvanklike geraamde koste was sowat tien miljoen rand, maar dit sal waarskynlik nie die finale bedrag wees nie.
Die voormalige tesourier-generaal van die ANC, Matthews Phosa het intussen ‘n beroep op Zuma gedoen om te bedank.
Hy het aan sakeleiers in Phalaborwa, die ANC gevra om beslissende stappe teen die president te neem. Phosa sê Suid-Afrika het nuwe en onselfsugtige leierskap nodig.
‘n Voormalige regter van die Grondwethof, Albie Sachs sê hy hoop president Jacob Zuma, die Parlement en die ANC sal die uitspraak oor Nkandla en die magte van die Openbare Beskermer eerbiedig.
Hy sê hy is bly die Grondwet het geseëvier. Sachs was die hoofspreker by die 350ste herdenking van die Kasteel van Goeie Hoop in Kaapstad.
Die organisasie, Corruption Watch, sê die kantoor van die Openbare Beskermer kan nou beskryf word as ‘n ware kampvegter en kampioen teen korrupsie.
‘n Woordvoerder van Corruption Watch, David Lewis het gesê dit is ‘n “blye dag vir Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie, want dit toon daar is instellings wat die demokrasie kan beskerm”.