Grondwethof besluit vandag oor Nkandla

Deel op

Die Grondwethof gaan vandag uitspraak lewer daaroor of Zuma ten minste ‘n gedeelte van die R246 miljoen wat Nkandla gekos het, uit sy eie sak moet betaal. Dit volg op ‘n aansoek voor dié hof wat meer as ‘n maand gelede deur die EFF en die DA gebring is.

Die uitspraak sal verskeie aspekte van die saak moet hanteer. Ten eerste is daar ‘n brief aan die hof wat Zuma in Februarie geskryf het en waarin hy versoek dat die hof die minister van finansies en die ouditeur-generaal gelas om te bepaal hoeveel van die “nie-veiligheidsbesteding” aan sy woning hy aan die staat behoort terug te betaal. Tot onlangs het Zuma volgehou dat die totale bedrag van R246 miljoen uit “veiligheidsbesteding” bestaan.

‘n Tweede aspek waaroor die hof se uitspraak behoort te handel, is die magte van die openbare beskermer, Thuli Madonsela. In haar verslag in Maart 2014 het sy bepaalde voorstelle gemaam waardeur Zuma hom in die reine kan bring. Zuma en die ANC se houding was egter dat die openbare beskermer se bevindings bloot ‘n “mening” verteenwoordig en daarom nie bindend is nie. Die hof sal vandag uitsluitsel daaroor moet gee deur te bevind of sodanige aanbevelings enige regskrag het en dalk bindend op Zuma mag wees.

Die partye het van die land se hoogs betaalde senior advokate in die saak aangestel. Jeremy Gauntlett het vir Zuma verskyn en Wim Trengove vir die EFF. Onder andere het Trengove aangevoer dat die nasionale vergadering sy grondwetlike pligte versuim het deur nie die president en die kabinet verantwoordelik te hou nie.

Gauntlett het op sy beurt geredeneer dat dit “gevaarlik” sou wees om teen Zuma te bevind, aangesien so ‘n bevinding dit vir opposisiepartye moontlik sou maak om hom in ‘n staat van beskuldiging te plaas. Hy het die departement van openbare werke vir die bouwerk aan Nkandla geblameer en gesê dat die verslag deur die minister van polisie, Nathi Hhleko, “niks beteken nie”. In sy verslag het Nhleko bevind dat al die uitgawes by Nkandla “veiligheidsverwant” was en dat Zuma daarom niks hoef terug te betaal nie.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.