Maak jou stem dik vir Afrikaans

Ek is nou behoorlik keelvol vir al hierdie ondernemings wat hulle afsmeer aan Afrikaans terwyl ’n groot (of die grootste) groep van hul kliënte Afrikaanssprekend is.

Een van hierdie ondernemings is Standard Bank. Ek het onlangs ’n Engelse brosjure oor die kredietkaartfooie vir 2009 by my kredietkaartstaat ingesluit gevind. Standard Bank weet baie goed my voorkeurtaal is Afrikaans – ek kry nog al die jare my bank- en kredietkaartstate in Afrikaans.

Dit was nou die laaste strooi wat hierdie Afrikaanse kameel se rug gebreek het. Ek skryf toe ’n brief aan mnr. Joop Dekker, ’n senior bestuurder in die kantoor van die hoof- uitvoerende beampte van Standard Bank, ook ’n man met ’n Afrikaanse van. Hierin teken ek protes aan teen Standard Bank se eentalige Engelse taalbeleid wat aan my en ander Afrikaanse kliënte opgedwing word.

Ek noem die volgende as bewyse:

• Elke brosjure in Standard Bank se tak op Montagu (waar die meeste kliënte Afrikaanssprekend is) is net in Engels te kry. Voorheen was die meeste ook in Afrikaans beskikbaar.

• Elke plakkaat en kennisgewing in my banktak is ook net in Engels. Ironies genoeg verskyn daar wel Afrikaans op die buitedeur van die bank – om voornemende rowers te waarsku dat die bank oor tydvertraagslotte beskik. Ja, rowers word hoër geskat as die bank se Afrikaanse kliënte!

• As ’n mens Standard Bank se “Call Centre” skakel, word jy net in Engels bedien. As jy vra om in Afrikaans gehelp te word, word jy gevra om aan te bly. Gewoonlik gee dit ’n lang gewag af waartydens jy dikwels afgesny word – nie ontoevallig nie, glo ek.

• “Konsultante” van Standard Bank wat kliënte bel oor ’n nuwe diens of produk van die bank, praat deur die bank net Engels.

Na aanleiding hiervan kry ek ’n brief in PDF-formaat op ’n Engelse briefhoof waarin mnr. Dekker onder meer die volgende skryf:

“Ek wil u verseker dat die Bank geen beleid navolg wat een amptelike taal bo ’n ander bevoordeel nie.

“U sal saamstem dat dit ’n veeleisende taak is om met diverse taalgroepe te kommunikeer. Dit is voorts soms ’n moeilike besluit gegewe die verskillende taalvoorkeure in ’n spesifieke geografiese gebied …

“Indien dit enigsins prakties moontlik is, bepaal ons die voorkeur taalgebruik van die meerderheid van ons kliënte in ’n gegewe geografiese gebied en gebruik die taal wat deur die oorgrote meerderheid verstaan word.”

In reaksie op hierdie vae en ontwykende antwoorde vra ek pertinent of die Engelse brosjure oor kredietkaartfooie ook in Afrikaans beskikbaar is. Die antwoord is “nee”. Gaan ek ’n Afrikaanse weergawe hiervan ontvang? “Nee.” Het alle kliënte, ongeag hul voorkeurtaal, ’n Engelse brosjure ontvang? “Ja.”

Op my vraag of enige plakkate of kennisgewings in Afrikaans beskikbaar is, kry ek die volgende ontwykende antwoord: “Enige tak bring kennisgewings en plakkate aan soos wat hulle dit ontvang vanaf Standard Bank se Hoofkantoor. Van tyd tot tyd is hierdie plakkate en kennisgewings in ander tale.”

Op my vraag of daar enige tak van Standard Bank is waar alle pamflette ook in Afrikaans beskikbaar én ten toon gestel word, word ek na bogenoemde antwoord verwys.

Volgens mnr. Dekker is alle aansoekvorms ook in Afrikaans beskikbaar. Banktakke bestel dit van ’n sentrale verspreidingspunt, maar “aangesien dit ’n koste-implikasie vir elke tak het, besluit ‘n spesifieke tak vooraf watter hoeveelheid aansoekvorms in watter taal bestel word.”

Waarop dit in die praktyk neerkom, volgens my ervaring, is dat personeellede Engelse vorms uitdeel en invul. Indien ’n mens ’n Afrikaanse vorm vra, word gesê dat daar net Engelse vorms beskikbaar is.

Oor my klagte oor die Engelse inbelsentrum, is die antwoord dat “praktiese oorwegings” in ag geneem moet word. “Die benadering is om die aanvanklike kontak in Engels te laat geskied, bloot omdat dit sal help dat die kliënt vinniger by ’n konsultant kan uitkom.”

Ek kan regtig nie verstaan hoe dit ’n probleem vir ’n groot sakeonderneming soos Standard Bank kan wees om nie kliënte uit die staanspoor die keuse te gee om in die taal van sy/haar keuse bedien te word nie. Talle ander ondernemings doen dit.

Intussen, ná my eerste brief, het daar wel een tweetalige brosjure by die Montagu-tak opgedaag.

Standard Bank gee miljoene uit aan die bevordering van sport en die kunste, maar ons Afrikaanssprekendes, ’n baie groot groep van hul kliënte, moet met afskeepdiens tevrede wees.

Ek vra elkeen wat hierdie skrywe lees en wat ’n Afrikaanse kliënt van Standard Bank is, om protes aan te teken oor die bank se diskriminasie teen Afrikaans. Mnr. Dekker se e-posadres is joop.dekker@standardbank.co.za

Moenie jou laat fop met “verduidelikings” of verskonings soos dat dit onmoontlik is om al elf amptelike tale te gebruik nie – dit is die leuenagtige en gerieflike verskoning waaragter eentalige Engelse ondernemings wegkruip.

Natuurlik is dit nie moontlik nie, en niemand verwag dit ook nie. Wat wel moontlik is, is om kliënte in hul voorkeurtaal te bedien – al elf tale kom tog nie in een streek of stad of dorp of voorstad voor nie. In elk geval behoort ’n nasionale onderneming sy produkte in alle tale beskikbaar te hê.

Maar kom ons wees eerlik – hoeveel swartmense gee om vir hul taal? Ek het nog nooit die indruk gekry dat die afskeping van hul taal hulle pla nie – hulle wil so gou moontlik verengels.

Om Afrikaans se status gelyk te stel aan dié van die swart tale, is ’n uiterste belediging. Daar is geen vergelyking te tref nie – kyk maar net na die kultuurskat wat elke taal voortgebring het. Natuurlik is die vyande van Afrikaans baie gou om te sê maar dis apartheid se skuld dat die swart tale op die vlak is waar hulle is. Die waarheid, egter, is dat die swart tale hul ontwikkeling grootliks aan die Afrikaner te danke het, wat hul tale neergeskryf en boeke in swart tale beskikbaar gestel het.

Ons Afrikaanssprekendes is in baie opsigte ons eie grootste vyand. Ons kla nie as ons in Engels bedien word nie en aanvaar die diskriminasie maar gelate. Kyk maar hoe vinnig en verwaand spring die Engelsman op as net die kleinste dingetjie nie ook in sy taal is nie – en hy kry altyd sy sin.

Maar ons Afrikaanssprekendes moet tog altyd so beleef en versigtig wees om tog niemand aanstoot te gee nie. Dis waarom Afrikaans vandag in die vernederde posisie is waarin hy verkeer. Dis ons eie skuld! Ons is te skaam en pateties om vir ons taal te baklei. Ons is te bang om gestigmatiseer te word.

Mense, as ons wil hê Afrikaans moet bly voortbestaan, moet ’n ieder en ’n elk van ons ons monde oopmaak en luidkeels kla. Dis nie genoeg dat mense Afrikaans praat, of dat Afrikaanse boeke en musiek verskyn nie – as Afrikaans se hoër funksies as saketaal, as akademiese taal, as vaktaal verdwyn, sit ons kort voor lank met ’n kombuistaal. Geen taal wat net gepraat word, of net ’n “populêre” funksie het, oorleef nie.

Onthou, as jou Afrikaanse geld goed genoeg is, is jou Afrikaanse taal goed genoeg. Geld praat baie hard. Gebruik hierdie mag.

apk gratisпрокурор Фильчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.