Leopold Scholtz se geklike naamlose ‘ontleders’

Deel op

Leopold Scholtz, die liggewignaprater, se lagwekkende “ontleding” oor Rusland kry hy beslis nie van “die meeste gesaghebbende Europese politieke ontleders” soos hy onlangs in Die Burger, 5 deser, p.11, beweer het nie, maar waarskynlik direk van een of ander mede-liggewig met ‘n soortgelyke duistere agenda.

Media24 se intellektuele dwerg beweer: “Rusland gebruik migrasie as ‘n wapen om die Europese steunstrukture te oorweldig en verdeeldheid in Europa en Navo [Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie] te saai”.

Die planne vir die destabilisering van die Midde-Ooste dmv die Arabiese Lente is deur die Neocons, ‘n onverkwiklike Amerikaanse kliek wat die VSA se buitelandse beleid bepaal, beraam en uitgevoer.

En erger nog, dis algemene kennis, dus nie iets wat Scholtz se naamlose “gesaghebbende Europese politieke ontleders” sal verkondig sonder om al hul geloofwaardigheid in te boet nie.

Die destabiliseringsplanne is die produk van die PNAC, ‘n Amerikaanse beleidsfabriek.

Die talle Russiese veto’s in die VN se Veiligheidsraad om die Amerikaanse invalle in die Midde-Ooste te keer, getuig daarvan. Desnieteenstaande probeer Scholtz dit voorhou as ‘n Russiese inisiatief.

Rusland het nie minder nie as vier keer beplande Anglo-Amerikaanse aanvalle in Sirië in die Veiligheidsraad geveto, ‘n rekord. Daarna het president Poetin gesorg dat Sirië hul chemiese wapenarsenaal afbou.

Asof dit nie reeds genoeg aanduiding is van ‘n poging deur die Russiese Federasie om die konflik te besleg nie, het hulle boonop met die toestemming van Sirië ingestem om die Islamitiese Staat se uitbreiding in die land te keer.

Die Islamitiese Staat het intussen verantwoordelikheid aanvaar vir die gru-aanvalle in sowel Parys as Brussel. Dis dáárdie selfde gewetenlose terroriste wat Rusland afmaai in Sirië, maar blykbaar weet Scholtz dit nie.

Indien die Russe bose gedagtes gehad het om immigrasie na die EU aan te moedig, het hulle deur sulke optredes dit eerder verhoed. Kennelik maak Scholtz staat op ‘n besonder oningeligte en onkritiese leser met sy nuutste versinsels.

Ingeligte Europese ontleders soos onder meer Emmanuel Todd of Thomas Piketty, maw nie Scholtz se naamlose kleuterskoolagente nie, sal weet dat Poetin ‘n bewonderaar is van die ontslape Franse president Charles de Gaulle.

De Gaulle het die opkoms van Europa van Lissabon na Wladiwostok, vanaf die Atlantiese Oseaan tot aan die Oeralgebergte, in die vooruitsig gestel.

Twee Amerikaners – Mathew Burrows en Robert A. Manning – het heel gepas onlangs ‘n studie oor De Gaulle se visie getiteld Kissinger se nagmerrie (Valdai-lesing N. 33, 2015) die lig laat sien.

Henry Kissinger het gedurende sy ampstermyn en selfs daarna ten alle koste probeer vermy dat Rusland en China saamwerk. Hy het ingesien dat Washington nie Moskou en Beijing saam sal kan trotseer nie.

Mikhail Gorbatsjof en Boris Jeltsin het ‘n soortgelyke visie gehad wat tans met die beleid van president Poetin voortgesit word. Met die uitbreiding van NAVO nader en nader aan Moskou, het die post-Chirac-Schroeder-era Europa se buitelandse beleid ondergeskik aan Amerikaanse belange gestel. Maar veral in Frankryk, leef die droom van De Gaulle voort.

Dit is ‘n visie van die wêreld, of ten minste van die vasteland, waar samewerking en kompromieë bo konfrontasie seëvier, waar daar geen plek vir sanksies en wedersydse dreigemente is nie en waar die huidige Russofobiese propaganda-oorlog nie die domstes soos ons eie Leopold vergiftig nie.

Jacques Chirac se minister van buitelandse sake Dominique de Villepin het in Februarie 2003 in die Veiligheidsraad van die VN gewaarsku teen die Verenigde State van Amerika se onwettige en aanmatigende inval in Irak.

Scholtz sal minder na ‘n gek lyk as hy sulke eenvoudige gebeure onthou.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.