Leon Lemmer: Geopolitiek: Is Eurasië ‘n utopie?

Leopold Scholtz skryf: “Rusland gebruik migrasie as ‘n wapen om die Europese steunstrukture te oorweldig en verdeeldheid in Europa en Navo [Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie] te saai” (Die Burger, 5 deser, p 11). Hierdie mening word glo “deur die meeste gesaghebbende Europese politieke ontleders gedeel.” Hiervolgens veroorsaak die Russiese bomaanvalle in Sirië dat al hoe meer Moslemvlugtelinge na Europa uitwyk en die tradisionele politieke en kulturele aard van Europa rysmier. Vir my lyk dit nie na die doel van Rusland se deelname aan die Siriese burgeroorlog nie maar eerder na een van die gevolge. Die hoofroete wat hierdie vlugtelinge volg, is via Turkye na Griekeland. Dit is ‘n nuwe nomadisme. Bat Ye’or het ‘n aantal boeke oor hierdie verskynsel geskryf, bv Eurabia (2010) en Europe, globalization, and the coming of the universal caliphate (2011).

Hoewel Europa en Asië geografies ‘n eenheid is, verskil hulle dermate histories, etnies en kultureel dat hulle as twee verskillende kontinente beskou word. Waar die verdelingslyn loop, is nie duidelik nie en wissel ooreenkomstig politieke veranderings en sienings. Weens die toegeeflikheid van Franklin Roosevelt en Winston Churchill was groot dele van Oos-Europa na die Tweede Wêreldoorlog dekades lank deel van die Sowjetunie. Die grootste deel van die Sowjetunie was egter in Asië. Turkse grondgebied oorspan ook sowel Asië as Europa met die grootste deel in (Klein-)Asië. In die Europese Unie is daar sterk weerstand teen die toelating van Turkye tot lid vanweë historiese oorwegings (bv die Ottomaanse Ryk se destydse besetting en kulturele ontaarding van groot dele van Europa, die rol van Turkye as bondgenoot van Duitsland in die Eerste Wêreldoorlog en die Armeense volksmoord), asook kulturele oorwegings (bv die Moslemreligie).

Wat ek interessant vind, is dat dit toelaatbaar is dat Russiese en Turkse politieke mag twee kontinente (Asië en Europa) oorspan, sonder om die beskuldiging van kolonialisme op die hals te haal. Maar Frankryk is nie toegelaat om Algerië as ‘n volwaardige deel van Frankryk te inkorporeer en bestuur nie; nog minder Spanje vir Marokko, al is die seestraat van Gibraltar net 14 km wyd. Algerië is in Afrika en daarom is Franse en Spaanse politieke beheer as kolonialisme gebrandmerk. Die blankes (van bv Franse, Spaanse en Italiaanse herkoms) wat geslagte lank in Algerië gewoon het, is sonder meer as setlaars/koloniste beskou. Maar die Arabiere, wat in die 8ste eeu uit die Midde-Ooste emigreer het en die inheemse Berbers in Algerië (asook in die buurstate Tunisië en Marokko) verswelg het, word sonder meer as inheems en die regmatige politieke maghebbers aanvaar.

Iets soortgelyks gebeur in Suid-Afrika. Die blankes het hulle vanuit die suidweste en die swartes (op ongeveer dieselfde tyd) vanuit die noordooste in Suid-Afrika gevestig. Nogtans word eerder die blankes (wat per skip gekom het) as die swartes (wat te voet gekom het) as setlaars beskou. Die slawe (wat ook per skip gekom het) word nooit as setlaars/koloniste gebrandmerk nie; seker om polities korrekte etniese redes. As in ag geneem word watter etniese groep die meeste in die land tot stand gebring het, behoort die land veel eerder aan die blankes. Maar dan is dit juis swartes, soos Nelson Mandela en Jacob Zuma, wat beweer dat Suid-Afrika hulle land is; selfs dat die blankes die grond gesteel het. ‘n Skrale kwarteeu gelede het blanke mikrogeeste hulle met sulke drogargumente laat mislei en op ‘n oordrewe en onregverdigbare manier algehele politieke beheer oor Suid-Afrika in die skoot van die swartes laat val.

Dat daar twyfel oor die voortbestaan van blankes in Afrika is, behoef geen betoog nie. Daar is ook ‘n redelike mate van eenstemmigheid dat die voortbestaan van blankes in Europa bedreig word. Een van die maniere waarop Europa kan oorleef, is deur die lande in groter mate tot ‘n eenheid saam te snoer. Dit word militêr deur Navo en ekonomies-polities deur die Europese Unie gedoen. Van die huidige probleme is dat die verskillende historiese identiteite (etnies, kultureel en taalgewys) van die Europese lande verwater word; dus dat bv hulle tradisionele christelike godsdiens en lewenswyse deur die progressiewe indringing van bv Islamiete en Afrikane bedreig word. Die ontstaan en toenemende gewildheid van nuwe konserwatiewe en regse politieke partye in Europa, wat van bv Franse weer Franse en van Duitsers weer Duitsers wil maak, is teen hierdie agtergrond maklik verstaanbaar; ook die moontlike onttrekking van Brittanje aan die Europese Unie, asook die onafhanklikheidstrewe van bv die Skotte, Katalane en Baske.

‘n Ander manier waarop Europa kan oorleef, is as dit ekonomies-polities deel van ‘n groter geografiese gebied word. In hierdie konteks kom die begrip Eurasië al hoe meer na vore, veral in die vorm van Wes- en Oos-Europa plus Rusland. Met sy Ortodokse christene en eeue oue beskawing kan Rusland ter kulturele versterking oënskynlik baie aan Europa bied. Rusland is veel makliker assosieerbaar met Europa as die groter Sowjetunie, onder meer omdat die Moslem- en Oosterse elemente baie minder is. Maar daar is faktore wat toenadering tussen Europa en Rusland bemoeilik, om van vereniging (in die een of ander vorm) nie te praat nie. Om historiese redes sal daar groot skeptisisme hieroor, of weerstand hierteen, in veral Oos-Europa wees. Dink maar aan state wat aan Rusland grens, soos die Baltiese lande (Estland, Letland en Litoue), asook Finland.

Die relatiewe onderontwikkeldheid van die eens kommunistiese Oos-Europese lande is vir Wes-Europese lande ook problematies. Dink maar aan wat tans bv finansieel van Wes-Duitsland geverg word om Oos-Duitsland tot ‘n hoër ekonomiese peil te ontwikkel. Rusland het ‘n oneindig groter agterstand.* Dan is daar die Moslemgebiede in Rusland, bv sommige state in Koukasië (Dagestan, Ingushetië, Kabardino-Balkarië, Karashië-Tsjerkessië en Tsjetjsenië), maar ook in die hartland van die Russiese federasie, soos die republieke Tatarstan (hoofstad Kazan) en Bashkortostan (hoofstad Ufa). [* Alexander Dugin skryf: “Where is Russia? Like many other societies, except the Western ones, we are, of course, fundamentally behind” (bron hier onder, Kindle 1524).]

Wat ek interessant vind, is dat daar sedert 1934 ‘n selfregerende Joodse gebied/”oblast”, bekend as Yevrey, 36 000 vierkante kilometer groot, in die verre ooste van Rusland aan die Chinese grens is. Die doel met die amptelike erkenning van hierdie aparte gebied is die bevordering van Joodse kultuur. Die hoofstad, Birobidzhan, het bv ‘n Joodse universiteit en daar is Joodse skole en ‘n radiostasie. Hoewel min Jode in hierdie gebied oorgebly het, vra ‘n mens jou af: Wanneer word ‘n eie geografiese gebied deur Suid-Afrika se swart politieke bewind vir Afrikaners gegun sodat hulle hulle eie kultuur so onafhanklik moontlik kan uitbou, bv met eie skole en ‘n eie universiteit? Waar is die plegtig beloofde wigte en teenwigte?

‘n Groter mate van eenheid tussen Europa en Rusland sal Europese kultuur myns insiens verwater. Charles de Gaulle (1890-1970), daarenteen, was gesteld op Europese identiteit en het hom kultureel veel eerder eens met Rusland as Amerika gevoel. Hy het gedink dat Wes-Rusland by Europa hoort, maar dat Oos-Rusland (anderkant die Oeral-bergreeks) te Asiaties met die oog op groter assosiasie met Europa is. Sedertdien het hierdie situasie vererger (het die kloof vergroot) weens die grootskaalse instroming van Chinese in die verre ooste van Rusland. Dit is nog ‘n voorbeeld van neo-nomadisme. De Gaulle was ook ongeneë om Brittanje as deel van (die vasteland) Europa te beskou. Uittrede uit die Europese Unie kan/sal Brittanje van Europa distansieer en hom al hoe meer ‘n satellietstaat van Amerika en (sommige) Statebondslande maak.

Die idee van Eurasië, selfs as ‘n politieke eenheid, kom in hedendaagse nuwe regse geledere voor. Guillaume Faye “uses the terms Eurosiberia or Septentrion to describe the geopolitical and biocultural entity he is fighting for. Eurosiberia encompasses Europe and the Asian part of Russia, from the Atlantic to the Pacific coast. He also envisions this as a possible political entity in the future” (Daniel Friberg, The real right returns: A handbook for the true opposition, London: Arktos, 2015, 138p; Amazon Kindle $5,69, 1152). Septentrion is ‘n Latynse benaming vir noordelike gebiede.

Die Eurasië-moontlikheid dateer ver terug en word ook in bv George Orwell se roman oor die toekoms, Ninety Eighty-Four (1949), aangetref. Deesdae kom die Eurasië-eenheidsgedagte egter veral van Rusland, vir wie dit oënskynlik groter voordele as Europa inhou. Vladimir Putin beskou die ontbinding van die Sowjetunie in 1991 as die grootste ramp wat Rusland getref het. Baie Russe het in hierdie proses polities magtelose minderhede in talle onafhanklike oud-Sowjetlande geword. In Oos-Oekraïne (Donbass) is etniese Russe in die meerderheid (hoewel hulle skaars 20% van die Oekraïne se totale bevolking is). Hulle wil eerder weer by Rusland aansluit. Daarteenoor streef die Oekraïniese regering (met sy steunbasis veral wes van die Dnieperrivier) na lidmaatskap van die Europese Unie en Navo. Poetin wil dit ten alle koste verhoed, want dit kom neer op Europese/Westerse indringing in Rusland se tradisionele invloedsfeer. “The Eurasian Union is meaningless without Ukraine … ‘Russia experts have always considered that country the crown jewel – and even a necessary anchor – of any successful version of the Eurasian Union”(James Heiser, bron hier onder, Kindle 1519). Ek kan Anna Reid se boek, Borderland: A journey through the history of Ukraine (London: Phoenix, 1998, 258p) as ‘n buitengewoon goeie leeservaring aanbeveel.

‘n Ander oud-Sowjetland, Georgië (Josef Stalin se geboorteland en waar ‘n aantal Suid-Afrikaanse boere hulle gevestig het), se strewe is insgelyks weswaarts, maar sy grondgebied is weggekalwe deur die Russiese besetting van Suid-Ossetië (in die noorde) in 2008, asook Abtjasië (in die noordweste) se onafhanklikheidsverklaring en erkenning deur Rusland in 1993. Daarby is Ajarië (in die suidweste van Georgië) reeds sedert 1921 in ‘n groot mate selfregerend.

Poetin se imperialistiese strewe blyk uit die anneksasie van die Krimskiereiland en sy pogings om oud-Sowjetstate, soos Belarus, Kazachstan en Kirgisië, asook Armenië, nouer by Rusland te betrek. Dit kom neer op ‘n strewe na ‘n groter of pan-Rusland. Laasgenoemde vyf lande vorm sedert 2015 die sogenaamde Eurasiese Ekonomiese Unie (EEU). Geen werklik Europese land is egter tans deel van die EEU nie, maar dit is duidelik dat Rusland hiermee eerder wes- as ooswaarts mik, as direkte mededinger van die Europese Unie. Soos die naam aandui, is die EEU ‘n suiwer ekonomiese alliansie; dus nie ‘n politieke en militêre assosiasie nie, behalwe in die geval van Rusland en Belarus, wat terselfdertyd ook ‘n politieke alliansie gevorm het. Poetin se imperiale begeertes kan deur ‘n Eurasië in die ware sin van die woord bevredig word, mits Rusland die leidende moondheid is. Daarom kan bv China en Indië kwalik hierby betrek word.

Alexander Dugin

Na die ontbinding van die Sowjetunie in 1991* het die geopolitikus Alexander Dugin (gebore in 1962) seker die bekendste propagandis vir Eurasië geword. Maar vir hom gaan dit eerstens om die vereniging van alle Russiese sprekers en tweedens om die herrysing van die Sowjetunie. Ander Europese lande kan betrek word mits die sentrale politieke beheer in Moskou gesetel is en (hoofsaaklik) deur Rusland bepaal word; al ontken Dugin soms dat hy Russiese dominansie voorstaan. Derdens beywer Dugin hom vir ‘n Slawies-Turkse alliansie, hoewel Rusland se militêre bedrywighede in Sirië sedertdien betrekkinge met Turkye versuur het. Samewerking met ‘n Europa wat ‘n substansiële Moslembevolking het, is vir Rusland nie so problematies soos vir Wes-Europa nie. Toe die Sowjetunie bestaan het, het Rusland oor baie meer Moslemonderdane as tans regeer. [* Hierna het die CIS (Commonwealth of Independent States) tot stand gekom. Heiser (bron hier onder) lys hulle soos volg: “Russia, Armenia, Azerbaijan, Belarus, Kazakhstan, Kyrgyzstan, Moldova, Tajikistan, and Uzbekistan. Turkmenistan is an unofficial, associate member” (Kindle 1174).]

Elektroniese weergawes van vyf Dugin-boeke is by Amazon beskikbaar. Ek het die volgende een gelees: Eurasian mission: An introduction to neo-Eurasianism (Arktos, 2014, 183p; Amazon Kindle $5,12). Dit is ‘n saamflansing van verskillende Dugin-tekste. Daar is te veel herhaling. Die vertaling laat ook veel te wense oor. Dugin se denke is onderhewig aan talle invloede. Hy slaag nie daarin om daaruit ‘n duidelike, sinvolle sintese te skep nie. Sy denke is verwarrend en gevolglik ook sy skryfwerk. Ek kan kwalik sy publikasies aanbeveel as ‘n leeservaring wat die moeite werd is. Maar sy uitgesproke doel, te wete die bevordering van beskawing(Kindle 68), is eerbaar.

Omdat Eurasië volgens Dugin van die Atlantiese tot die Stille Oseaan moet strek, skryf hy: “Russian civilization possesses some of the same features as Europe [bv Slawiese kultuur en taal, asook Ortodoks-christelike religie (227)] and some of the features of Asian culture (above all of the Turanian* type)” (81; ook 181). “Eurasianism” (“civilizations of the Land/continentalism/ Old World”), kortom die goeie, word deur Dugin met “Atlanticism” (“civilizations of the Sea/New World”, naamlik Brittanje, Amerika en die ander lande in die westelike halfrond), kortom die slegte, gekontrasteer (121, 163, 170, 439). Europa se redding lê glo daarin dat dit aansluiting ooswaarts moet soek; nie weswaarts soos tans nie. Op die oomblik “Europe is the West, and decline is its essence” (1805). [* “Turanian” gryp terug na die Mongools/Turkiese oorsprong in sentraal Asië van Russiese en deels ook Europese beskawing (721). Daarom skryf Dugin: “Continental Eurasia is the cradle of human culture and civilization” (551).]

Naas liberalisme (met sy klem op die individu), kommunisme (met sy klem op klas) en fascisme (met sy klem op die staat of ras) wil Dugin ‘n Vierde Politieke Ideologie (met sy klem op mense) tot stand bring (139, 1817). “It is easy to see that the secularization of Western Christianity gives us liberalism. The secularization of the Orthodox religion gives us Communism” (3036). Van homself sê Dugin: “I am Russian Orthodox” (3023), maar dit is maar net een van die ideologieë wat hy op die een of ander stadium in sy lewe aangehang het. Nogtans kan dit help om die duidelike reste van kommunisme en veral sosialisme in sy geskrifte te verklaar. Hy was bv betrokke by die stigting van die Nasionale Bolsjewistiese Party.

Volgens Dugin sal sy Vierde Politieke Ideologie van die toekoms anti-kapitalisties, anti-liberalisties, anti-kosmopolities en anti-individualisties wees en aansluiting by sosialisme vind (1620); “beyond Right and Left” (2948). Maar dan skryf hy tog ook: “We must create strategic alliances to overthrow the present order of things, of which the core could be described as human rights, anti-hierarchy, and political correctness” (3011). As teenvoeter vir globalisering* en imperialisme sal alle groepe in sy Eurasië glo toegelaat word om hulle eie identiteit, kultuur, taal en waardes te behou (581, 587). [* “Globalization is a one-dimensional, one-vector phenomenon that tries to universalise the Western (essentially Anglo-Saxon and American) point of view concerning how to best manage human history … It … has reached its peak through the domination of the United States of America. Globalization is the imposition of the Atlantic paradigm” (641).]

“The nations of Eurasia must be free and independent” (593). Dit is makliker gesê as gedaan: “The Caucasus in the most problematic region of Eurasian integration because its mosaic of cultures and ethnicities easily leads to tensions between peoples” (795). Elders skryf hy: “There will no longer be traditional states. Instead, there will be new, integrated civilizational structures … united into … geo-economic zones” (904). “The liquidation of European spiritual unity was part of the origin of European nationalism” (1793). Dugin se Vierde Politieke Teorie beoog “the refusal of any kind of nationalism, chauvinism, Eurocentrism, universalism, racism, or xenophobic attitude” (1793).

James Heiser

Dugin se idees wek die indruk dat hy hoogs idealisties en onprakties is. Maar om groter duidelikheid te probeer kry oor presies wat hy bedoel, is dit wenslik om ‘n boek oor Dugin te lees, bv James D Heiser se “The American empire should be destroyed”: Aleksandr Dugin and the perils of immanentized eschatology (Malone: Repristination Press, 2014, 130p; Amazon Kindle $11,34). Die laaste deel van die boektitel verwys na Dugin se “paths of perfectionism which are meant to be accomplished in this life (thus their goals are ‘immanentized’) (1309). Die oorwinning van die goeie oor die slegte sal eskatologies, dus einddinge oftewel die einde van die geskiedenis, wees (1309).

Heiser wei uit oor tradisionalisme, gnostisisme, ortodoksie, mistisisme, okkultisme en satanisme om irrasionele elemente in Dugin se denke bloot te lê. Dugin beskou sy saamflansing as standhoudende/”perennial” filosofie (352). “Unless one understands that Dugin’s Traditionalism provides a fundamentally theological character to his cultural and geopolitical proclamations and prognostications, it is impossible to grasp the heart of his position” (256). Dugin “is prepared to remake the world in keeping with that Traditionalist doctrine” (360). Heiser skryf ook oor die invloed wat die Europese Nuwe Regses veral aanvanklik op Dugin se denke uitgeoefen het, bv voorlopers soos René Guénon (1886-1951) en Julius Evola (1898-1974). Hy was veral vatbaar vir die idees van die latere Franse Novelle Droite, bv Alain de Benoist (gebore in 1943) (546).

Dugin is ‘n Russiese lojalis wat sterk anti-Amerikaans en anti-Westers (eerder as anti-Europees) is. Die Weste word gedemoniseer (1528). Volgens hom is dit die stryd tussen die goeie en die slegte. Hy skryf: “The American Empire must be destroyed.” Hoekom? “Because it is at the center of the expansion of the ‘kingdom of the Antichrist'” (89). “Globalisation is … the kingdom of the Antichrist. And the United States is the centre of its expansion” (1615). In hierdie sin is Eurasiënisme ‘n “armed doctrine” (969). Die teoloog Heiser beskuldig Dugin van sowel politieke as religieuse skynheiligheid (264). Sy idees is “politicized Orthodoxy” (1528).

Volgens Dugin is die goeie mense van bv Nordiese en Russiese oorsprong, afkomstig van “Arctogaia/Hyperborea” (337). “Arktos” beteken “die noorde” en “gaia” beteken “land”. Dit verwys na die mitiese land by die noordpool waarvandaan die Ariërs glo oorspronklik kom (629). “Hyperborea” is die Griekse mitiese land (1027). Die Westerse/Atlantiese teenhanger hiervoor is Atlantis (1047), ‘n ander Griekse mitiese land. Dit is deel van Dugin se “sacred geography” (1075). Die punt is dat die wêreld volgens Dugin nie “unipolar” (dus Amerikaans oorheers) moet wees nie, maar “multipolar”, sodat ander geografiese gebiede ook na waarde geskat word en tot hulle reg kan kom (1120).

Die verwerkliking van ‘n Eurasië bly myns insiens problematies. Dugin skryf: “Civilizations are cultural and religious communities – not ethnic-national ones” (850, 1018). Eurasië behels “the union of Slavs and Turks, Muslims and Orthodox” (717; ook 1005). Maar dit is juis hierdie elemente wat in 1991 uitmekaar gespat het toe die Sowjetunie tot ‘n einde gekom het. Poetin geniet aanvaarding by baie van die Europese Nuwe Regses juis omdat hy uitgesproke nasionalisties is. Die bykans 10% Moslems in die Russiese federasie pas moeilik hierby in. Daar word soms beweer dat Poetin deur Dugin se idees beïnvloed word, maar hy is geen slaafse navolger nie. Poetin is selektief in wat hy doen: “Putin has seized on some of them [Dugin’s ideas] to further his own goals” (885).

Heiser verskaf die volgende opsomming: “What Dugin offers the world in Eurasianism is both a geopolitical ideology, and an occult, political religion with its roots in Traditionalist teachings. What remains to be seen is how many adherents of the ideology will also be converted to the religion” (1573).

Slot

Ekonomies en militêr kan die vergroting van ‘n geografiese gebied sin maak. Kultureel kan die gevolge egter uiters destruktief wees. Polities kan dit onafhanklikheid aantas en selfs vernietig. Hierdie verskynsels volg nie noodwendig na die sluiting van verdrae nie. ‘n Oorlog kan ‘n etniese groep se politieke mag beëindig en sy kultuur ondermyn. In hoogs uitsonderlike gevalle (soos in 1990/1994 in Suid-Afrika) word ‘n volk weens onoortrefbare onnoselheid uit sy toekoms bedrieg. Sedertdien verseël ongebreidelde (onwettige) immigrasie Afrikaners en ander blankes se lot verder.

In Europa gebeur iets soortgelyks. Grootskaalse (onwettige) immigrasie word reeds dekades lank toegelaat. Aanvanklik is dit selfs aangemoedig. Die negatiewe gevolge wat dit vir die tradisionele inwoners inhou, is om polities korrekte sogenaamde morele redes grootliks verswyg. Soos in Suid-Afrika word dit sonder meer van die blankes verwag om die gevolge gelate te aanvaar; op die lange duur sluit dit selfs hulle eie uitwissing in.

Maar dan kom iemand soos die teoloog Braam Hanekom, wat leiding in die NG Kerk en in die breër samelewing probeer gee, met die waarneming dat wat in Europa gebeur (wesenlik) verskil van wat reeds in die nuwe Suid-Afrika gebeur het (Die Burger, 23 deser, p 13). Op sy naïewe manier verwys hy selfs na “mooi stories van omarming” (dus die handevatsindroom) en “dat onderwys en opvoeding een van die belangrikste teenvoeters vir terreur is.” Asof dít die etnies-kulturele kloof sal oorbrug. Asof dit onwettige, dus misdadige, instroming vergoeilik. Asof die soort “egalisering” wat op die lange duur hieruit kan voortvloei in die blankes se belang gaan wees. Dan sleep Hanekom vir Donald Trump by en verkwalik hom dat hy terughunker na ‘n vervloë identiteit: “Make America great again.” Met ander woorde volgens Hanekom moet die blankes blykbaar gedwee aanvaar alles wat opgedonder is, asook sommer alles wat nog opgedonder gaan word.

“Europa het my opnuut laat besef dat ‘n wêreld met geslote gemeenskappe en identiteite vir eers verby is. Ook in Suid-Afrika gaan ons in die toekoms al meer ‘n Afrika-gesig ontwikkel,” waarmee Hanekom blykbaar bedoel groter vereniging met en behae in die res van (swart) Afrika. Ons almal moet dus teen wil en dank kultureel verafrika. Hierteen opper hy geen beswaar hoegenaamd nie. Vir hierdie situasie deel hy selfs skuld uit: “Die grense van Afrika is in elk geval baie kunsmatig en eens op ‘n tyd in Europa getrek.” Myns insiens is dit dan nogtans die dure plig van Europese nasate om te sorg dat daardie (onvolmaakte) grense eerbiedig word. Hoekom? Ter behoud van Europese kultuur en beskawing in Suid-Afrika, wat uiters skaars bates in Afrika is en tydens die blanke politieke bewind (1652-1989) lofwaardig uitgebou is.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.