Doodslag op die paaie verwag, maar ambulanse staan

Deel op

Die LUR vir Gesondheid in Limpopo, Phophi Ramathuba, verwag doodslag op die paaie oor die Paasnaweek.

Phophi sê mediese personeel behoort op bystand te wees in die geval van enige padongelukke in die provinsie, maar sy het ontdek die ambulanse staan.

Die LUR het die mediese nooddiensstasie op Louis Trichardt besoek, waar sy vasgestel het dat slegs vier van die nege ambulanse die naweek gebruik sal kan word.

Die ambulanse kon glo weens ‘n gebrek aan die nodige magtiging nie gediens word nie.

Daar is splinternuwe ambulanse wat slegs 15 000 kilometer afgelê het, maar al vir meer as twee weke staan omdat hulle wag dat iemand die voertuigdiens moet magtig.

Die Departement van Vervoer sal glo dringend versoek word om die saak reg te stel.

Sy het ook die bestuur van die Louis Trichardt Gedenkhospitaal opdrag gegee om bykomende dokters te ontplooi om noodgevalle tydens die Paasnaweek te hanteer.

Phophi het ‘n verrassingsbesoek aan die hospitaal gebring om ondersoek in te stel na die gereedheid van die nooddienste en geriewe daar.

Swaar verkeersopeenhopings van sowat 20 kilometer lank kom tans by die Kranskop-tolhek op die N1 tussen Pretoria en Polokwane voor.

Die alternatiewe roete op die R101 na Polokwane dra ook swaar verkeer.

Die ZCC-saamtrek by Moria in Polokwane en ander kerkdienste wat gehou word, trek duisende swart kerkgangers.

Die president van die Nasionale Geloofsraad van Suid-Afrika, Biskop Daniel Matebesi, sê dit is belangrik dat “rassisme” op die paaie uitgeroei word omdat almal die reg het om hul godsdiens te beoefen.

Twee mense is intussen dood en nog 12 beseer in ‘n ongeluk tussen ses voertuie op die N1 buite Polokwane in Limpopo.

Die ongeluk het by die Solomondale-afrit gebeur toe ‘n voertuig op ‘n sperstreep verbygesteek en teen ‘n ander voertuig gebots het.

Nog vier voertuie het daarna in die twee voertuie vasgery.

Die Nasionale Seereddingsinstituut het intussen die publiek gewaarsku teen sterk trekstrome langs die land se kuslyn die naweek.

‘n Woordvoerder, Craig Lambinon, sê die strome sal deur die volmaan se springgety veroorsaak word.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.