Kongo se president wen nadat hy termyne skrap

Deel op

President Denis Sassou Nguesso van die Kongo het die afgelope naweek se presidentsverkiesing gewen nadat hy gesorg het dat ‘n beperking op die aantal termyne wat hy mag dien, afgeskaf is.

Hy is die afgelope 30 jaar reeds in die regeringstoel. Die land se ministerie van Binnelandse Sake het die uitslag in Brazzaville bekendgemaak te midde van ‘n verbod op alle kommunikasie.

In die hoofstad Brazzaville, het die president se ondersteuners begin om die uitslag Woensdag reeds te vier na die voorlopige resultate aangekondig is.

“In gebiede waar die regering steun geniet is die strate besig en daar is feitlik geen polisie of weermag teenwoordig nie,” het alJazeera berig.

Opposisieleiers sê egter hulle sal nie die oorwinning aanvaar nie. Die regering het selfoonseine en die internet geblokkeer om onrus te voorkom.

Nguesso het 60 persent van die stemme gekry. Hy het verlede jaar veranderinge aan die land se grondwet laat aanbring wat hom toelaat om nog sewe jaar president te wees.

Sedert die grondwetlike referendum in Oktober wat ‘n beperking op die presidensiële termyne beëindig het, was die kanse van die 72-jarige voormalige valskermsoldaat om te wen, verseker.

Die land is ryk aan olie en hout.

Suid-Afrikaanse boere in die Republiek van die Kongo het ook glo reeds ‘n indruk op die president gemaak.

Die boere het hulle gevestig op ’n staatsplaas van 85 000 ha in die Niari-vallei. Binne enkele maande het die boere 1 200 ha ontbos en met mielies beplant.

Hulle het die waterpompe en pype na die grond herstel met die gevolg dat die plaaslike bevolking nou ook kraanwater het.

Waar die plaaslike bakker maar enkele brode ’n week verkoop het, bak hy nou 200 brode per dag as gevolg van die nuwe werkgeleenthede en geld vir die plaaslike gemeenskap.

Die Kongolese minister van Landbou het ’n video van die boere se suksesse gemaak ten einde dit aan die president te vertoon.

Die projek is ook as ’n presidensiële projek verklaar.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.