Donald J. Trump en Hillary Clinton het hul teenstanders in die Arizonavoorverkiesing Dinsdag oorweldig, volgens die Associated Press.
Die twee presidensiële voorlopers hoop om te verhoed dat die nominasiestryd ingewikkeld raak sodat hulle op mekaar kan begin konsentreer.
Dit blyk dat een van die belangrikste verkiesingskwessies sal handel oor immigrasie.
Trump, die Republikeinse presidensiële voorloper, het Dinsdag gesê as hy president word, sal hy die grense van die land sluit in die nasleep van gekoördineerde terreuraanvalle soos in België.
Hy het getwiet dat ten minste tussen 10% en 25% van Moslems terreuraanvalle steun en bygevoeg dat Moslemimmigrasie “selfmoord” is.
Clinton het egter dadelik teruggekap. “Dit is onrealisties om te sê dat ons ons grense heeltemal vir almal gaan sluit,” het Clinton tydens ‘n onderhoud op NBC gesê.
Sy het haar opmerkings aan die terreuraanval in Brussel gewy en dit in ‘n aanval op Trump, die voorste Republikeinse aanspraakmaker, verander.
“Die laaste ding wat ons nodig het, my vriende, is leiers wat meer vrees aanhits,” het Clinton gesê met verwysing na Trump.
“In die gesig van terreur, moet Amerika nie paniekerig te raak nie. Ons moet nie mure bou of ons rug draai op ons [Moslem]bondgenote nie.”
Trump het Ted Cruz maklik verslaan in Arizona, en al 58 van sy afgevaardigdes tot sy voorsprong gevoeg.
Maar Cruz sal waarskynlik Utah se Republikeine oorreed in die hoop dat die 40 afgevaardigdes Trump se kieswinste beperk.
Cruz het Trump probeer verantwoordelik hou vir die terreur in Brussel en uitgevaar teen die voorloper omdat hy NAVO se uitgawes in Europa wil besnoei.
Senator Bernie Sanders het Clinton in die Utah-koukusse verslaan, en hy toon sy blywende appèl onder liberale aktiviste.
Clinton het ondersteuners in Seattle toegespreek maar Sanders botweg geïgnoreer.