Netwerk24 het berig dat genl. Siphiwe Nyanda, voormalige minister van kommunikasie, glo Dinsdagaand in Rooihuiskraal, Centurion, gekaap is.
Drie kapers het blykbaar die generaal se blou Porsche Panamera toegeëien en daarmee in Centurion rondgery, volgens die ANC-woordvoerder, Keith Khoza.
Khoza het op sy Facebook-bladsy mense op hul hoede gestel om op die uitkyk te wees vir die drie kapers.
“Die persoon wat beroof is, is genl. Siphiwe ‘Gebhuza’ Nyanda. Die verdagtes het in die rigting van Johannesburg gery,” het Khoza op Facebook gesê nadat hy ‘n wenk van “vriende” ontvang het.
‘n Polisiewoordvoerder het egter gesê hulle is nie bewus van die kaping nie en kon nie dadelik die inligting bevestig nie.
Die motor is glo intussen weer teruggevind en die Nyanda is glo ongedeerd.