‘Geen Suid-Afrikaners in Brusselse aanvalle dood nie’

Deel op

Nelson Kgwete, die woordvoerder van die die departement van Internasionale Betrekkinge, sê hulle is nie bewus van enige Suid-Afrikaners wat in die terreuraanvalle in Brussel omgekom het nie.

Die Afrika Unie Kommissie het die aanvalle in die Belgiese hoofstad veroordeel.

Die voorsitter van die Kommissie, Nkosazana Dlamini-Zuma, het haar medelye uitgespreek met die families wat geraak is deur die aanvalle.

Dlamini-Zuma sê die AU verwerp terrorisme en gewelddadige ekstremisme. Sy sê die AU sal met die internasionale gemeenskap saamwerk om terrorisme te bekamp.

Plaaslike en internasionale reise in België is steeds opgeskort en veiligheid regoor Europa is na die aanvalle opgeskerp.

‘n Vlag van ISIS en ‘n bom is gevind by ‘n huis in Brussel tydens ‘n soektog deur die Belgiese polisie in verband met Dinsdagoggend se aanvalle, het aanklaers gesê.

Die ploftoestel met spykers is by ‘n huis in die Schaerbeek-munisipaliteit gekry, het Belgiese aanklaers gesê.

Chemikalieë is ook gevind tydens die soektog.

Klopjagte word gedoen regoor die land in die nasleep van die terreuraanvalle, het die Belgiese federale aanklaer Frederic Van Leeuw aangekondig op ‘n perskonferensie.

‘n Moontlike verband tussen die Brusselaanvalle en die aanvalle in Parys word nog ondersoek.

Minstens 30 mense is dood toe selfmoordbomdraers by die Brussel-lughawe en die Maelbeek-moltreinstasie toegeslaan het. Bykans 200 mense is beseer, waaronder ook kinders.

Ploftoestelle, wat nie afgegaan het nie, is ook by die lughawe gevind. Alle lug- en spoorverkeer na en van Brussel is opgeskort.

Alle vlugte is gekanselleer en Brussel se lughawe sal minstens vir nog `n dag gesluit bly.

Eurostar het alle treindienste na en van die Belgiese hoofstad gekanselleer. Sekuriteit is ook in Brittanje by die Gatwick- en Heathrow-lughawens opgeskerp.

Die Nederlandse polisie het waarskuwingskote by Amsterdam se hoofstasie afgevuur toe drie verdagtes in hegtenis geneem is.

`n Polisie-woordvoerder sê die voorval het te doen gehad met dwelmmiddels, maar het plaasgevind nadat sekuriteit by Europese lughawens en stasies opgeskerp is weens die terreuraanvalle in België.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.