Aanval in Mali op EU militêre sending

Deel op

Gewapende mans het Maan­dagaand ’n hotel in Mali se hoofstad, Bamako, bestorm, waar die Europese Unie (EU) se militêre opleidingsending tuis is. Een persoon is in die aanval dood.

Die gewapendes het die hotel omstreeks 18:30 aangeval waarna hulle onder geweervuur van veiligheidswagte ontsnap het.

“Vier mense het probeer om hul weg te baan deur ’n barrikade terwyl hulle geskiet het,” het ’n lid verbonde aan die EU-opleidingsending in Mali (EUTM) gesê.

“Een van die vier is geneutra­liseer, ons soek nog na drie ander,” het hy aan AFP gesê.

Die polisie het ’n foto van die dooie aanvaller aan AFP gewys. Hy het ’n denim-broek aangehad en in ’n poel van sy eie bloed gelê.

’n Malinese veiligheidsbron sê troepe is op soek na ’n vermeende selfmoordbomaanvaller wat vermoedelik in die omgewing van die EUTM se hoofkwartier is.

Die minister van binnelandse veiligheid, Salif Traore, het gesê twee verdagtes is aangekeer en veiligheidsmagte is besig om die gebied te beveilig in dieselfde woonbuurt waar die Radisson Blu hotel geleë is.

Dit is daar waar 20 mense deur djihadiste in ­November vermoor is.

Veiligheidsmagte het ook die sak wat die dooie aanvaller by hom gehad het, deursoek omdat vermoed is dat dit moontlik plofstof kon bevat.

EUTM werk om Mali se weermag se vermoë te verbeter om djihadiste die stryd aan te sê. Die EU-sending benut die kundigheid van personeel uit 25 lande met meer as 600 personeel wat in Mali gesta­sioneer is.

Magte van Frankryk en die Verenigde Nasies probeer die weermag ondersteun, maar die ekstremiste gebruik voortdurend nuwe tegnieke om terreur te laat posvat nadat hulle in 2013 deur ’n Frans-geleide koalisie uit sleutel noordelike dorpe verdryf is.

Die noorde van Mali het in 2012 in die hande van ’n djihadistiese groep met bande met Al-Kaïda geval, en die regering was nie in staat om veiligheid met plaaslike magte te handhaaf nie.

Sedert hulle uit die noorde van Mali verdryf is, het die djihadiste sporadiese aanvalle op die land se weermag en VN-vredesbewaarders uitgevoer. Dosyne mense is in die aanvalle dood.

Meer onlangs het hulle gewilde burgerlike teikens gekies vir hul aanvalle. Al-Kaïda in die Islamitiese Maghreb (AQIM) het aanspreeklikheid vir drie onlangse aanvalle in Wes-Afrika aanvaar.

Dit sluit ’n aanval op ’n strandoord verlede maand in die Ivoorkus en nog ’n ander aanval in Januarie in Burkina Faso, asook die aanval op die Radisson Blu-hotel in Bamako in November 2015 in.

Die polisie in die Ivoorkus het intussen 15 mense in hegtenis geneem in verband met die aanval vroeër die maand by `n vakansieoord waarin 19 mense dood is.

Die polisie soek nog na die leier van die aanvallers. Die Ivoriaanse staatsaanklaer sê sy naam is Kounta Dallah.

Gewapende mans het op 13 Maart die oord by Grand Bassam aangeval. Ses aanvallers is doodgeskiet.

Volgens die staatsaanklaer is die verdagtes aangekeer op grond van inligting wat op die toneel gevind is.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.