Karel Combrinck: Vrae aan FW de Klerk

Deel op

FW de Klerk het onlangs by geleentheid van sy tagtigste verjaardag ‘n toespraak gelewer by die Kelvin Grove-klub in Nuweland. Waar anders? Hoe Engelser, hoe beter. Natuurlik sal die Engelse hom eer, hy was dan die ondergang van die Afrikaner. Dit kan ook wees dat hy dit nie meer waag om voor ‘n Afrikaanse gehoor op te tree nie en hy word waarskynlik ook nie genooi om dit te doen nie.

Nietemin, in die loop van die toespraak het hy stellings gemaak wat nogal insiggewend is. Ek haal aan uit ‘n berig in Die Burger :

Hy het gesê die beste dag van sy presidentskap was toe hy dit in 1994 (aan oudpres. Nelson Mandela) oorgegee het. “Dit was die hoogtepunt van my loopbaan, nié omdat ek dit aan die ANC of Mandela oorgegee het nie, maar eerder aan ’n nuwe bestel waar die grondwet en gereg die oppergesag was, eerder as die parlement.”

In die eerste plek, mnr De Klerk, u het die mag in die land oorgegee aan die ANC en niks anders nie. Om te beweer u het die mag aan ‘n nuwe bestel oorgegee waar die grondwet en gereg oppersag was, is mos gewoon net bogtery. Wil u die Suid-Afrikaanse publiek so waaragtig nogeens probeer bedrieg? Gelukkig maak dit nou nie meer saak nie, want mnr De Klerk, u was verlig om die presidentskap af te staan en nou is u, saam met ons, niks. Al waarvoor u deug is om fatsoenlike toesprakies te maak vir ryk, verveelde afgetrede Engelse omies en tannies in sosiale verenigings en rolbalklubs.

In die eerste plek word dit meer as duidelik dat u ‘n brandende begeerte gehad het om die mag in die land af te staan. Lesers hiervan sal opmerk, dat ons dit lankal reeds weet en dis waar ja. Dis net interessant dat u dit nou self so onomwonde erken.

‘n Verdere punt is dat die magsoorgawe die hoogtepunt van u loopbaan was omdat dit ‘n «nuwe en meer regverdige bestel tot stand sou bring waar die grondwet en gereg oppergesag was». Maar mnr De Klerk, as die bestel wat u beheer het dan so onregverdig was, waarom het u dit dan nie verander nie eerder as om die mag aan die ANC toe te vertrou om die veranderings vir u te maak? En wie of wat het u laat droom dat die ANC dit sou doen? U raadgewer Roelf Meyer?

Ook onstaan die vraag: maar mnr De Klerk, as u dan nie kans gesien het om die onregverdige bestel verder te voer nie en verder te regeer nie, waarom het u dan nie gewoon as president bedank nie, eerder as om ons almal saam met u die afgrond in te sleep?  En ook mnr De Klerk, was u so verlig om die mag aan die ANC af te staan omdat u gedink het hulle sou beter vaar as u self, of was u gewoon maar net sat van regeer en begerig om aan ander prioriteite aandag te gee ?

Mnr De Klerk, u beklemtoon in u outobiografie, u toesprake, ens., herhaaldelik dat geregtigheid u vernaamste beweegrede was om die beheer oor Suid-Afrika aan die ANC te oorhandig. Drie vrae hieroor:

a) Mnr De Klerk het u werklik gemeen ‘n kommunisties geïnspireerde ANC sou groter geregtigheid in die land moontlik maak ?

b) Kon die swetterjoel raadgewers en deskundiges oor volkekunde, volkereg en wieweetwatnog waaroor u beskik het nie ‘n alternatief bedink wat selfbeskikking vir die witmense van Suid-Afrika sou verseker en nog steeds regverdig sou wees nie? Of het u net geluister na Roelf Meyer ?

c) En dan, mnr De Klerk, die belangrikste vraag van almal, meen u dat die bestel waarin ons nou leef, en waarvoor u volle verantwoordelikheid het, naastenby regverdig is?

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.