Gupta-sirkus laat skaliegaswalms uit parlement opstyg

Deel op

Lede van die ANC se nasionale uitvoerende komitee en die drieparty-alliansie het hulle steun uitgespreek teenoor die adjunkminister van Finansies, Mcebisi Jonas.

Dit volg na Jonas se verklaring Woensdag wat bevestig dat die Gupta-familie aan hom die pos van minister van Finansies aangebied het, het RSG berig.

Die ANC-parlementslid, Jackson Mthembu het op Twitter gesê dat die ANC iets moet doen omtrent wat hy die arrogansie van die Gupta-familie noem.

Die minister van Toerisme, Derek Hanekom het ook op Twitter gesê dat Jonas ‘n persoon van integriteit is, en dat daar geen rede is om sy weergawe van gebeure te bevraagteken nie.

Die SAKP sê dat Jonas die waardes van rewolusionêre moraliteit bevestig, en die party se beroep vir ‘n regterlike kommissie van ondersoek na bewerings van die Guptas se invloed regverdig.

Jonas, ‘n vurige voorstander van hidrobreking in die Karoo, was vroeër LUR in die Oos-Kaap vir Ekonomiese Ontwikkeling, Omgewingsake en Toerisme.

Hy verkoop die skaliegasprojek as “hernubare energie” wat dit beslis nie is nie, aangesien hernubare energie nie omgewingsbesoedeling behels nie.

“Skaliegasontginning word beskou as ‘n oorgangsenergiebron, terwyl die hernubare sektor nog leer, sal innovasie en kostedoeltreffendheid toeneem, en skaliegas sal ons speen van koolstofdraende steenkool,” het Jonas in 2014 verklaar.

Intussen sal President Jacob Zuma vandag ‘n parlementêre vraag-en-antwoord-sessie moet trotseer wat beloof om vurig te wees.

Jonas het die opposisie heelwat skietgoed gegee met sy verklaring oor die Gupta-familie.

Die leier van Cope, Mosiuoa Lekota het reeds gesê dat hulle hul tot die polisie sal wend, aangesien President Zuma volgens die party nou te ver gegaan het.

Ander opposisiepartye het aangedui dat ‘n saak van korrupsie geopen sal word, terwyl ‘n geregtelike kommissie aangevra is om ondersoek in te stel.

Die EFF sê intussen hulle sal nie aan die parlementêre sessie deelneem nie, omdat hulle Zuma nie as die president erken nie.

Die party beweer ook dat Zuma die parlement in dié sessies mislei.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.