Leon Lemmer: Anton van Niekerk beskou Afrikaans as onding

Deel op

Sommige Afrikaanssprekendes gaan onverpoos voort om Afrikaans te saboteer. Aan die Universiteit Stellenbosch (US) kan Anton van Niekerk daarop aanspraak maak dat hy die aartsvader van die anti-Afrikaansbeweging is. Op Praag het ek by verskeie geleenthede kritiek op sy wilde bewerings uitgespreek. Pas het hy aan Afrikaans selfs minder bestaansreg as ooit tevore gegun (Die Burger, 15 deser, p 13). Daarmee gee hy stukrag aan die US-rektor, Wim de Villiers, se uitgesproke versugting dat die US moet verengels. Op Praag het Dan Roodt op dieselfde dag op Van Niekerk se stommiteite gereageer. Ek kon dit nie sou vinnig doen nie en sekerlik ook nie so goed soos Roodt nie. Wat ek beoog, is om Roodt se artikel met enkele gedagtes aan te vul.

Van Niekerk se invalshoek is Maxisties: Daar moet nie vir Afrikaans geveg word nie. Afrikaners moet sonder protes buig voor diegene wat met hulle harde stewels oor hulle loop. Op hierdie manier word glo vriende vir Afrikaans en Afrikaners gewen, al kan Afrikaans en Afrikaners in hierdie proses verdwyn. Hulle verdwyning sou blykbaar in elk geval goed wees.

‘n Hofbevel verplig die US-bestuur om die US-raad se taalbeleid toe te pas. Nou skree Van Niekerk moord: “Wat is die implikasies as die gebruik van Afrikaans aan die US voortaan op die uitvoering van ‘n hofinterdik berus?” Dit is egter nie die hof wat Afrikaans aan die US opdring nie maar die US-raad. “Wie gaan dit afdwing, en hoe?” Die US-raad behoort sy beleid af te dwing op diegene wat in sy diens is. Hoe? Deur bv diegene te ontslaan wat nie die US-raad se beleid uitvoer nie. Die name van die rektor, Wim de Villiers, en die viserektor vir onderrig, Arnold Schoonwinkel, is al spesifiek in hierdie verband genoem.

“Watter atmosfeer word in elke klas geskep as Afrikaans aan studente opgedwing word wat nie daarin belang stel nie?” Daar is (baie) studente wat Afrikaans as onderrigmedium verkies. Hulle ervaar Afrikaans nie negatief nie, dus nie as iets wat aan hulle opgedwing word nie. Dit is bevoordeelde eenogiges soos Van Niekerk, wat slegs vanuit die anti-Afrikaanskant na dinge kyk, wat Afrikaans as ‘n opdwingtaal etiketteer. Dosente met ruggraat sal hulle nie laat intimideer deur ideologie-gedrewe studente wat op politiek pleks van studie ingestel is nie.

“Kan so iets op enige [!] manier goed wees vir Afrikaans, of vir die US?” Sekerlik! Op hierdie manier behou Afrikaans sy welverdiende posisie as akademies-wetenskaplike taal en kan meer as net Afrikaanssprekendes by onderrig in Afrikaans baat. Dit laat veral Afrikaanssprekendes tuis op die US-kampus voel. Dit is mos bv Wim de Villiers se ideaal dat alle Maties tuis op die kampus moet voel. Afrikaanssprekende blankes is per slot van sake diegene wat in groter mate as enige ander groep op die kampus hoort. Dit is hulle wat die US gestig en uitgebou het en steeds groot finansiële steun verleen. Baie US-personeellede is Afrikaanssprekend en baie van hulle (anders as Van Niekerk) koester Afrikaans en weet dat die eentalige US van weleer ‘n gesonde akademiese inrigting was waar uitnemende akademiese onderrig ongehinderd op ‘n heel, skoon, veilige kampus plaasgevind het.

“Om die reg te hê om onderrig in Afrikaans aan ‘n universiteit in Suid-Afrika af te dwing, beteken nie dat dit altyd reg is om dit te doen nie.” Die US en ander universiteite het die reg om onderrig in Afrikaans aan te bied. Dit hoef nie te beteken dat Afrikaans afgedwing word nie. Daardie onderrig kan spontaan uit vrye wil deur dosente aangebied en deur studente ontvang en aanvaar word. Dit is mense soos Van Niekerk wat verkies om gedwonge onderrig uitsluitlik by Afrikaans in te lees, maar geen dwang erken as bv die Universiteit Vrystaat dwaaslik besluit om onderrig slegs in Engels aan Afrikaanssprekendes op te dwing nie.

Van Wyk Louw word aangehaal as sou hy gesê het dat taal ‘n draer van ‘n “haatlike en bose” tradisie kan wees. Hier sinspeel Van Niekerk klaarblyklik op apartheid (asof dit net sleg, boos en dwaas was) en die assosiasie daarvan met Afrikaans. Maar hy kan gerus die Britte en per assosiasie Engels se geskiedenis nagaan. As hy objektief oordeel (en ek impliseer nie dat dit vir Van Niekerk moontlik is nie) sal hy heelwat van ‘n “haatlike en bose” tradisie daar teëkom, verspreid oor ‘n baie langer tyd as apartheid se skaars vier dekades en oor ‘n baie groter geografiese gebied. Dan sal Van Niekerk hom dalk met minder entoesiasme vir Engels beywer en met minder oorgawe Afrikaans en Afrikaners verguis.

“Taal en dwang is vreemde bedmaats.” Regtig? Dit is ‘n verskynsel wat dwarsoor die wêreld en oor baie eeue heen aangetref word. Het hy nog nie van bv Alfred Milner gehoor nie? Dit is Engels wat toe aan almal in Suid-Afrika opgedring is. Hoe het Afrikaans oorleef? Deur verset, deur nie toe te gee aan die dwaasheid van ‘n bose bewind nie. Dit hou ‘n waardevolle les in vir Afrikaners wat tans onder ‘n nog boser bewind en die misplaaste ywer van meelopers soos Van Niekerk ly.

Van Niekerk beweer oor ‘n groep van sy studente: “daar nie een onder hulle is wat Afrikaans as onderrigmedium verkies nie.” Dit herinner aan US-rektore, soos Chris Brink, Russel Botman en Wim de Villiers, wat verkies om eerder Engels as Afrikaans op die kampus te hoor, sodat dit hulle anti-Afrikaans-ingesteldheid versterk. Van Niekerk se stelling is waarskynlik oordrewe, maar hy moet ook die konteks waarin sy bestekopname plaasgevind het, in ag neem. Vir punte is sy studente van sy evaluering afhanklik. Hulle weet dat hy, oorbekend as oorverligte, geen ooghare vir Afrikaans op die US-kampus het nie. Die studente sal sy goedgesindheid wil behou eerder as om sy fanatiese toorn te ontlok.

“Studente stel in die algemeen eenvoudig nie meer in Afrikaanse onderrig belang nie.” Dit is Van Niekerk se subjektiewe gevolgtrekking ooreenkomstig sy wensdenkery. Terselfdertyd het dit heelwat kruipwaarde by die rektor. Maar daardie “in die algemeen” is ‘n kwantitatiewe maatstaf. Dit verwys onder meer na studente wat om nie-akademiese (dus nie-meriete) redes (naamlik ras en geslag) tot studie aan die US toegelaat is, glad te dikwels ten koste van akademies beter studente. Daardie korpus vrot studente word al hoe groter (kan selfs al die meerderheid wees) namate die US ingevolge ras- en geslagsteikens (wat wesenlik niks met egte akademie te make het nie) transformasie versnel. Wat Van Niekerk behoort te doen, maar verseg om te doen omdat dit sy beeld as oorverligte sou skaad, is om ‘n kruistog teen hierdie akademies skadelike wanpraktyk genaamd transformasie te onderneem.

As hy werklik ‘n egte akademikus wou wees sou hierdie uitgelese Van Niekerk eerder ‘n kwalitatiewe maatstaf gebruik. Dan sou hy agterkom dat baie (dalk die meeste, maar in elk geval ‘n substansiële getal) van diegene wat toegewyd aan die US studeer (eerder as om chaos te saai) verkies om in Afrikaans onderrig te word; des te meer as die US-bestuur sy ruggraatloosheid versaak en die wydverspreide intimidasie teen Afrikaans en Afrikaners daadwerklik teenwerk en verkies uitroei. Maar Van Niekerk beweer: “Ek merk weinig of geen antagonisme teen Afrikaans op die kampus op nie.” Hy sal geen vinger wys na diegene vir wie hy verkies om ‘n pleitsbesorger te wees nie.

Wat is die uitgelese Van Niekerk se toekomsvisie? “‘n Wêreld … wat volledig [!] in Engels gaan funksioneer.” Alle tale – natuurlik (gelukkig?) ook Afrikaans – gaan verdwyn. Blykbaar gaan net Engels oorbly en ons is gelukkig om ‘n Van Niekerk te hê wat dit reeds in 2016 weet. Om in Afrikaans aan die US te studeer, is “‘n idee wat hedendaagse studente eenvoudig koud laat.” Omdat Van Niekerk ‘n polities korrekte wese is (anders as Jimmy Kruger in die konteks van Steve Biko), mag hy beweer dat onderrig in Afrikaans (alle) hedendaagse studente koud laat. Hoewel Afrikaans kultureel-polities belangriker as ‘n individu soos Biko is, sal sy opmerking in die huidige geestesklimaat nie so ‘n hewige storm soos Kruger se destydse opmerking ontketen nie. Van Niekerk se stelling is egter nie minder dwaas nie.

Die voortgesette aanwesigheid van Afrikaans aan die US word deur Van Niekerk gebrandmerk as ‘n “ideologiese taalagenda”. In sy oë het slegs Engels blykbaar nie-ideologiese status. Vir US-doeleindes moet Afrikaans glo gestroop word van sy “kulturele of politieke identiteit”. Afrikaans moet ‘n neutrale kommunikasiemedium word soos wat Engels in Van Niekerk se waan reeds is. “Natuurlik is dit nie ideaal vir Afrikaans nie. Dis egter onontbeerlik vir die soort universiteit wat Stellenbosch gekies het om te wees.” Dit lyk vir my asof die US om nie-akademiese redes verkeerd gekies het. Uiteindelik kan/sal dit nie ‘n “soort universiteit” wees nie, maar bloot ‘n nie-universiteit omdat die US gekies het om politieke oorwegings doelbewus en gewetenloos bo akademiese belange te verhef.

Van Niekerk fouteer as hy veronderstel dat die US as akademiese inrigting die huidige storm met sy huidige bestuur en De Villiers se soort optrede (insluitende gebrek aan daadwerklike optrede teen boosdoeners) gaan oorleef. Protes sal toeneem en al hoe erger vorms aanneem. Oorverligtheid gaan nie Van Niekerk se bas red nie. Hy erken dat hy die “vaardigste” in Afrikaans is. Die booswigte wil nie net alle lesings in Engels hê nie. Hulle wil dit ook nie van Afrikaanse dosente in onvolmaakte Engels ontvang nie. Bowenal wil hulle nie wit dosente hê nie, maar uitsluitlik swartes. Van Niekerk gaan hierdie politieke toets skouspelagtig druip.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.