VS-benoemingstryd: Donald Trump wen gister 4 uit 5 deelstate

Deel op

Mnr. Donald Trump het gister vier uit die vyf benoemingstryde vir die Republikeinse Party se presidensiële kandidaatskap gewen: Florida, Missouri, Illinois en Noord-Carolina, maar moes die belangrike Ohio aan sy mededinger John Kasich afstaan. Ohio is die tuisstaat van Kasich, wat daar aan hom ‘n voordeel besorg het. Daarteenoor het Trump in Florida, tuisstaat van Marco Rubio, met 45,6% van stemme teenoor Rubio se 27,5% gewen. Weens die wenner-vat-als-stelsel in Florida, besorg dit 99 afgevaardigdes aan Trump.

Die 44-jarige mnr. Marco Rubio, het gisteraand Suid-Afrikaanse tyd sy uittrede uit die resies aangekondig. Hy was die gunstelingkandidaat van die sogenaamde “Republikeinse establishment” wat onder geen omstandighede wil sien dat Trump die benoemingstryd wen nie. Die enigste ander kandidaat wat deur die establishment gesteun word, John Kasich, het wel gisteraand Ohio verowwer en sodoende 66 afgevaardigdes ingepalm, maar loop baie ver agter Trump wat afgevaardigdes betref. Nogtans het Kasic aan sy ondersteunders gesê: “Ek sal nie ongesiens na die hoogste amp streef nie.”

Trump se ondersteuners voel ook goed oor sy oorwinning in Illinois, die deelstaat waar Chicago geleë is. Betogers het nog laas Trump se vergadering in Chicago ontwrig sodat dit gekanselleer moes word.

Met slegs drie kandidate nou oor in die Republikeinse resies na die kandidaatskap, lyk die stand van elkeen se afgevaardigdes ná 27 state só:

Aantal afgevaardigdes om ‘n Republikeinse meerderheidstem te verseker: 1237.

Donald Trump: 621

Ted Cruz: 396

John Kasich: 138

Mev. Hillary Clinton het gisteraand skoonskip gemaak en ‘n meerderheid van stemme teenoor haar mededinger Bernie Sanders in al vyf deelstate (Florida, Ohio, Noord-Carolina, Missouri en Illinois) verkry. Indien sy slegs 40% van stemme voortaan verkry, behoort sy die Demokratiese benoeming te kan impalm. Dog Sanders se ondersteuners hou vol dat mev. Clinton tot dusver bloot danksy die swart stem in Suidelike Amerika goed gevaar het en dat deelstate in die Noorde en Midde-Weste eerder vir hom gaan stem. Indien Sanders meer Demokratiese “superafgevaardigdes” verkry, staan hy ook nog ‘n kans vir die benoeming, dus gaan hy geensins tou opgooi nie.

Aantal afgevaardigdes om ‘n Demokratiese meerderheidstem te verseker: 2383.

Hillary Clinton: 1561

Bernie Sanders: 800

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.