Spanning tussen Rwanda en Burundi is besig om op te laai te midde van ‘n tien maande lange politieke krisis, nadat veiligheidsmagte in Burundi Saterdag ’n man voor joernaliste geparadeer wat daarvan beskuldig word dat hy ’n Rwandese spioen is.
Betrekkinge tussen Burundi en Rwanda het ’n laagtepunt bereik met Bujumbura en die Verenigde Nasies wat Kigali daarvan beskuldig dat dit rebelle in Burundi ondersteun, het AFP berig.
Die man, wie se naam as korporaal Rucyahintare Cyprien aangegee is, is verlede week in Rushenya op die grens met Rwanda in hegtenis geneem, sê ’n polisiewoordvoerder, Pierre Nkurikiye.
“Hy was besig om te spioeneer en dit is was die derde keer dat hy so ’n sending in Burundi uitgevoer het,” het Nkurikiye gesê. Volgens hom was die doel van die sendings om Burundi te destabiliseer.
Burundi is in ’n krisis gedompel nadat pres. Pierre Nkurunziza aangekondig het dat hy vir ’n derde termyn in die Julie 2015-verkiesings sou staan.
Die beweerde spioen het in Kinyarwanda, ’n amptelike taal in naburige Rwanda, aan joernaliste “erken” dat hy die land binnegekom het met die doel om te spioeneer.
Hy het Burundi ook in Mei 2015 binnegekom om te help om mense wat verantwoordelik vir die mislukte staatsgreep was uit die land te smokkel en weer in November 2015 om inligting in te win vir aanvalle op hooggeplaastes in die land, sê Nkurikiye.
Hy is aan die media vertoon by die hoofkantoor van die nasionale intelligensiediens, wat nie sonder meer beskuldigings van menseregteskendings en marteling kon weerlê nie.
Meer as 400 mense is dood sedert die geweld in April verlede jaar uitgebreek het en meer as 240 000 mense het op die vlug geslaan.
Duisende Rwandese wat in Burundi gewoon het, het ook uit die land gevlug sedert die krisis begin het en verskeie is in hegtenis geneem.