Protes: ‘n Monster met ‘n eie lewe.

Terwyl die wêreld in brand staan, Suid-Afrikaanse universiteite die slagoffer is van voortdurende proteste, en die huidige Amerikaanse leiers doodsbang lyk te wees vir sommige presidentskandidate, kan ons ’n duidelike patroon gewaar: Proteste en meer proteste. In die begin lyk hierdie proteste asof hulle realistiese griewe aanspreek, maar soos wat die tyd aangaan verander dinge so effens, veral in die tye waarin ons nou leef. Die eise word minder logies en die woede minder getemper. ‘n Punt word bereik waarin daar geen duidelike fokus is nie, maar bloot ‘n blinde gevoel van onreg en ‘n behoefte aan omverwerping.

Die onnadenkende zombie-kuddediere is egter nie te stuit nie. Sodra aan een eis voldoen word, is daar opeens twee of drie ander eise wat ook aangespreek moet word. Ondertussen staan alles in brand. Waar daar voorheen skoolbanke was, bly net brandhout oor. Smeulende motorbande stink en swart rook verstik almal binne ‘n omtrek van tien meter.

‘n Goeie vraag in ons tyd sou wees hoekom hierdie proteste so voortgaan. Dit eskaleer, verloor alle objektiwiteit en reduseer mense tot die vlak van kinders, met paniek, woede, hartseer, haat en vreugde, alles in een keer. Dikwels is die oorspronklike grief bloot ‘n tegniese puntjie wat maklik verhelp kan word, maar die sentimente daaromheen is helaas iets wat mense maklik kan dryf tot grenslose barbarisme.

Ons kan hierdie aksies vergelyk met ‘n mikrofoon wat teen ‘n luidspreker gehou word. Sodra dit gebeur ontstaan daar ‘n opbou van frekwensie, die mikrofoon registreer ‘n opname en gee dit aan die luidspreker, en die luidspreker gee dit met hoë volume terug aan die mikrofoon. Binne ‘n fraksie van ‘n sekonde skree die luidspreker ‘n oorverdowende toon uit.

Proteste werk op dieselfde manier. Die protesteerders, in hul gevoel van solidariteit met hul mede-protesgangers, amplifieer hul gevoelens. Hulle sien aan mekaar dat hulle kwaad is, en dit verhoog hul persoonlike woede. Hierdie verhoging resoneer weer terug in die groep. Aangesien die groep veroorsaak dat mense hulself minder in bedwang hou is daar niks om hulle te stuit nie. Uiteindelik lei dit tot die kranksinnige situasie dat die proteste heeltemaal hand-uit ruk oor klein geskille.

Dit is egter nie al nie. Mense is nie net klankborde nie, maar het ook ‘n vrye wil. Daar moet dus iets wees wat hierdie ingesteldheid uitlok. Hoekom gaan sommige mense amok maak terwyl ander onder dieselfde omstandighede dit nooit sou waag nie? Ek dink die antwoord lê in wat hulle dink hulle kan beheer en waarmee hulle kan wegkom.

Ons neem byvoorbeeld die anti-Afrikaanse proteste op Afrikaanse universiteitskampusse landwyd. Die rol van belangrike (of liewer belaglike) akademici met hul anti-Afrikaanse ingesteldheid moet nie geringskat word nie. Beroepsidiote soos Terblanche Delport, Christi van der Westhuizen en andere kraak voortdurend hul eie volk af en adverteer daarmee dat dit geoorloof is om dit te doen. Oor die laaste paar jaar getuig allerlei sosiale media dat wittes maar louwarm reageer sodra oproepe klink om hulle uit te moor. Wittes gaan eers ‘n saak aanhangig maak by een of ander menseregtekommissie of persombudsman, waar dit weke of maandelank op die rakke lê voordat iemand daarna gaan kyk, en as dit eenmaal so ver is en die konklusies getrek word, word daar lakoniek geantwoord met: “dit mag nie meer gebeur nie”.

Ondertussen het die dader hierdie saak al lankal vergeet, en is hy honderde haatgevulde twitterberigte verder. Omdat hulle geen besondere straf hoef te verwag nie, gaan hulle die grense verlê en kyk wat hulle nog alles kan vermag en soos stout kinders in ‘n siklus beland van tart en uitlok.

Daar is ongetwyfeld ook ‘n element van arrogansie teenwoordig, en nie in geringe mate nie. ‘n Mens is geneig om te dink dat protesteerders ‘n lae selfbeeld het as gevolg van hul status, of dat hierdie reaksies is as gevolg van verdrukking. Weereens is hierdie aannames nie akkuraat nie.

Navorsing in die Verenigde State het gevind dat swartes, wat die meeste geneig is tot protes, geen lae selfbeeld het nie, maar hulself juis hoog waardeer. Hulle het selfs ‘n hoër selfbeeld as wittes. Dit kan ‘n mens ook aflei op die manier waarop hulle met mekaar omgaan. Hulle sluit mekaar altyd by hul geledere in en praat mekaar positiewe eienskappe aan.

Die wit Calviniste aan die ander kant het juis ‘n kultuur van selfontkenning. Hierdie selfontkenning het ten doel om arrogansie te voorkom en mense nederig te hou. Ook vergroot dit ons spirituele bewussyn, wat weer veroorsaak dat ons meer geneig is om die helpende hand na ander uit te reik. ‘n Nederige ingesteldheid is ook nodig om te kan studeer. Jy moet jou eie mening opsy sit om kennis te verkry, en dit gaan nie gebeur as jy dink dat jy alles weet nie. Die gees waarop Calvinisme berus is juis om deur middel van selfkritiek mense te help hul talente te kultiveer. In ‘n soortgelyke verband stel die skrywer Albert Camus dat ‘n intellektueel iemand is wat sy eie gedagtes dophou. As dit nie daarvoor was nie, sou ons heeltemaal verdwaal in ‘n gedagtewêreld van illusies en versinsels.

Ons kan vanuit hierdie verskille sien dat die protesteerders hulself gladnie “dophou” nie. Alles word deur die groepsgevoel bepaal. Die groot ironie is egter dat die twintigste eeuse intellektuele in akademiese leerstoele self hierdie mentaliteit help kweek het. Van topfigure in die onderwys soos Benjamin Bloom en John Dewey, van JB Cattell tot die behavioris BF Skinner het die doel van onderwys beskou as sosialisering in die groep. Dit staan in groot kontras met Plato wat geglo het dat onderwys ons moet leer om skoonheid te waardeer.

Toe die Berlynse Muur geval het, was die groot geleerdes van mening dat Kommunisme nou dood en begrawe is en Francis Fukuyama het optimisties gestel dat die einde van die geskiedenis nou aangebreek het.

“Einde van die geskiedenis”? Hmmm…daardie geluid het ons mos vanagter die Berlynse Muur gehoor die eerste keer, nie waar nie?

Wat min mense weet is dat in 1986 het die Amerikaanse en Sowjet onderwysministers heimlik ‘n kontrak onderteken wat stel dat die Verenigde State kommunisties-gebaseerde onderwys sou gaan invoer, deesdae bekend as Common Core onderwys. Die argument daaragter is dat daar op hierdie stadium hopeloos te veel digters, skrywers en allerlei hoog-opgeleide slimkoppe is en dat die wêreld nie belangstel in ‘n tweede Shakespeare of Dostojewski nie, vandaar dat hulle hierdie waardelose groepsgebonde opleidings aan leerlinge opdis. Dit sluit ook aan by John D Rockefeller se wens om ‘n wêreld van werkers te hê en geen denkers nie.

Een van die Weste se hoogste deugde, naamlik indiwidualisme, is besig om te beswyk onder die druk van massaproteste.

Aangesien Suid-Afrika se spesiale demografie ‘n voorbeeld vir die res van die wêreld is, loop ons eerste deur onder hierdie proteste. Waar die EFF hul onmoontlike eise met mag en geweld op almal probeer afdwing, weet ons dat daar miljardêrs agter die skerms is wat hul proteste aanwakker. Dink maar aan name soos Nathan Kirsch, Oprah Winfrey en blykbaar ons eie Charlize ook. Die naam George Soros het ek al behoorlik holrug gery, so ek slaan hom maar oor, maar hy sal ongetwyfeld ook ‘n aandeel hierin hê.

So stilletjies het hierdie skelms ‘n wêreld om ons heen gebou waarin gevoelens en sentimente belangriker geword het as feite. Ons sien dit duidelik hoe verontwaardig die Black Lives Matter beweging in die Verenigde State was toe die slagting in Parys van afgelope November hul eie sotlike proteste oorskadu het. Hulle het selfs venynig ‘n twitterhekkie genaamd “#FuckParis” geloods.

Gevul met egoïsme, opgeblase ego’s en kortsigtigheid, wil hulle nou die leiers van more word, en sal die Weste verval in ‘n staat van eindelose konflik en stamverwantskap. Waar die mens se spiritualiteit as skokbreker dien teen uitbuiting, bly daar nou net ekstreme sedeloosheid oor en ‘n wêreld gevul met ‘n wil tot mag en oorlewing van die sterkste.

Ek wag vir die dag waar hierdie linkse oproerkraaiers gaan besef dat hulle lawaai, vernielsug en barbarisme bloot ‘n ongefundeerde seepbel was. Hopelik is daar nog genoeg lede met integriteit onder hulle wat meen dat dinge beter was in die verlede.

As selfs ‘n misbaksel soos Caitlyn Jenner hom/haarself deesdae as “konserwatief” beskou – met ‘n groot verlies aan aanhangers as gevolg daarvan – lyk dit of daar tog ‘n bietjie hoop vir die mensdom op die horison loer.

Dan kan ons ook in solidariteit saamstaan met 2015 se “Vrou van die jaar”.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.