Leon Lemmer: Oor verdraaide geskiedenis

Deel op

Waarom is Harper Lee (1926-2016) se roman, To kill a mockingbird, so bekend en gewild dat selfs ‘n rolprent (1962) daaroor vervaardig is? Na Lee se dood is met hernude ywer oor die boek en die outeur geskryf, bv deur Joan Hambidge (Die Burger, 5 deser, p 6). Die jaar waarin die werk gepubliseer is, 1960, gee ‘n aanduiding van waar die antwoord op daardie vraag gesoek kan word. Die jare vyftig en sestig is in Amerika gekenmerk deur die (ekstra) gewelddadigheid van swartes. Eufemisties word dit die burgerregtebeweging genoem. Wat na bewering regte en reg is, word in hierdie benaming beklemtoon en nie wat swartes verkeerd gedoen het nie.

Lee se boek handel oor ‘n swarte wat in Alabama* valslik van verkragting beskuldig is. Die benadeling van swartes deur wittes was by uitnemendheid dié onderwerp in Amerika in die 1960’s. Sedertdien het hierdie tema en hierdie boek gewild gebly en albei het ‘n vastrapplek in ander lande, insluitende Suid-Afrika, gekryf. (In 2015 is Lee se “tweede” roman, Go set a watchman, op ‘n myns insiens onetiese wyse publiseer deur voor te gee dat dit ‘n vervolg op haar 1960-roman was, terwyl dit in werklikheid die eerste flou weergawe van Mockingbird is. ‘n Lee wat by haar sinne was, sou nooit toestemming tot die publikasie gegee het nie. Die manuskrip is blykbaar na ‘n gekonkel gepubliseer.) [* Die insektekundige Edward O Wilson, wat met sy werk oor bv sosiobiologie en biodiversiteit bekendheid verwerf het, is in Alabama gebore. Hy vind dit nodig om keer op keer te beklemtoon dat al is hy in die Amerikaanse Suide gebore hy polities buitengewoon verlig is.]

Mockingbird is nie die eerste roman wat hierdie politieke doel gedien het nie. Daar is ook bv Harriet Beecher Stowe (1811-1896) se Uncle Tom’s cabin (1852). As ‘n swarte hom onderdanig of selfs net ordentlik teenoor blankes gedra (“non-assertive”/nie-hardegat, bv iets vra pleks van eis), word hy gou deur aktiviste ‘n Uncle Tom genoem. Die ironie is dat Stowe aanvanklik glad nie teen slawerny gekant was nie: “Stowe was not at first even an Abolitionist” (Martin Seymour-Smith, Novels and novelists, London: Windward, 1980, p 223). Anders as die meeste mense, wat neig om meer konserwatief te word namate hulle ouer word (dus terugverlang na die goeie ou dae), het Stowe al hoe meer verlig geword en later beter boeke geskryf. Maar hierdie boeke is nie so bekend soos die Tom-boek nie omdat hulle nie so (mis)bruikbaar vir die swart saak is nie. Stowe het lewenslank haar aktivistiese streep behou, bv My wife and I (1871) handel oor vroueregte.

Wanneer ‘n mens Amerika nie bloot as ‘n toeris besoek nie maar ‘n tyd lank daar woon, kom jy agter dat daar steeds ‘n gevoel van onbehae tussen die noordelike (Yankee) en suidelike state (Dixie) is. (“Deep South”, nooit “Deep North” nie; soortgelyk aan “leliewit”, nooit “steenkoolswart” nie.) In die noorde word daar dikwels beweer dat die Burgeroorlog (1861-1865) tot op hede in die suide voortgesit word. Suiderlinge se grief is nie net oor wat voor, tydens en na daardie oorlog gebeur het nie, maar ook die manier waarop daardie geskiedenis ingeklee en propagandisties, bv in skoolhandboeke en via die massamedia, aan almal opgedring word. Dit is ‘n sprekende voorbeeld van die oorwinnaar wat die geskiedenis skryf soos dit hom pas.

Op ‘n soortgelyke skandalige wyse word Suid-Afrika se geskiedenis ook die afgelope kwarteeu herskryf en wel soos dit die swartes pas. Maar plaaslik was daar geen sprake dat diegene vir (die swartes) of teen (die blankes) geweld/terreur die (militêre) oorwinning behaal het nie. Die waarheid is dat die weerstand teen swart politieke magsoorgawe teen 1990 verkrummel het. Hierdie ruggraatloosheid kan nie aan die blanke kiesers toegeskryf word nie. Selfaangestelde en hoogs onbekwame grondwetlike onderhandelaars het nie ooreenkomstig die mandaat oor magsdeling onderhandel nie, maar mandaatloos algehele politieke mag aan die swart meerderheid oorgedra; selfs sonder ‘n greintjie beskerming van minderheidsregte.

Hoe hierdie mense se koppe gewerk het, word deur Willie Esterhuyse verwoord. Reeds in 1987 het hy hom “ten gunste van ‘n een-mens-een-stem-verkiesing in ‘n eenheidstaat uitgespreek” (Eindstryd, Kaapstad: Tafelberg, 2012, p 27) en oor 1993 skryf hy: “Ek het toe al lankal weggestap van die NP [Nasionale Party] se idee van groepregte en minderheidsveto’s” (p 299). Algehele politieke magsoorgawe en absolute dwaasheid kan myns insiens nie duideliker verwoord word nie. So ‘n mens het nie in die belang van die land gedink nie, nog minder ter behoud van Europese beskawing. Hy het hom klaarblyklik ook glad nie oor die voortbestaan van Afrikaans en Afrikanerkultuur bekommer nie. Hy beywer hom eerder vir hulle vernietiging.

Esterhuyse was in 1995 van die eerstes wat Afrikaans as ‘n struikelblok vir swart studente geëtiketteer het (Pieter Kapp, Maties en Afrikaans, Pretoria: Protea Boekhuis, 2013, p 63); dus dat Afrikaans swartes uitsluit. Hy het ook geïmpliseer dat net Engels as universitêre onderrigtaal deur die ANC-regering befonds (moet) word; dus dat die voortgesette gebruik van Afrikaans van die goedertierenheid van donateurs afhanklik is (p 158). Erger, hy het gekla dat vyf Afrikaanse universiteite te baie was; dat die meeste van hulle moet verengels (p 63)*. Noudat Afrikaans as onderrigtaal besig is om aan al die eens Afrikaanse universiteite te verdwyn, kan Esterhuyse gerus sê of hy nou tevrede is. [* Lees gerus Esterhuyse se artikel in The Times Higher Education Supplement, 24.02.1995, en vergelyk dit met wat die afgelope twee dekades gebeur het. Kyk bv ook met watter doel Waardestudie as vak aan die US aangebied is, asook sy opmerkings oor die verhouding orde/vryheid.]

Daar het nog geen inkeer by Esterhuyse gekom nie. Pas het hy by die Woordfees op Stellenbosch (onder meer ‘n fees vir aandagsoekers) die skuld vir mense, eintlik Afrikaners, gegee omdat Afrikaans glo ‘n verdrukkerstaal is. Hy sluk sonder meer hierdie ANC-propaganda. Dat Afrikaans bv ‘n beskawingstaal is en Xhosa as ‘n terroristaal geëtiketteer kan word, het seker nog nie by hom opgekom nie. Hy het eintlik die vernietiging van bv standbeelde goedgepraat, want hulle is glo “snellers vir woede” (Die Burger, 8 deser, p 6). ‘n Ander spreker, Arnold Smit, het probeer om etniese gelykmaking met verwysing na liggaamlike ooreenkomste te regverdig en daarmee die deurslaggewende belang van kulturele verskille geïgnoreer: “As ons huil, is die kleur van ons trane dieselfde”; ‘n variasie op die Amerikaners se: As ons bloei, is almal se bloed rooi.

Die oorgee-kornuite skryf voor dat ons tog altyd verdraagsaam moet wees. Mense soos bv Max du Preez beklemtoon graag dat blankes terug moet staan en in De Klerk-toegeemodus moet gaan. Ons moet nie konfrontasie soek nie en ons mag ook nie kragdadig optree nie. Teen die skoorsoekers spreek die Maxiste geen fundamentele kritiek uit nie; hoogstens dat dit darem nie mooi is as so baie skade aangerig word nie. As belhamels in uitsonderlike gevalle aangekeer word, soos by die Universiteit Vrystaat (UV), betaal die UV waaragtig die borggeld (Praag 10 deser). Die voorsitter van die UV se studenteraad (en blykbaar die hoofopstoker), Lindokuhle Ntuli, word selfs toegelaat om die UV-senaat toe te spreek (Netwerk24, 11 deser). Die UV het ‘n gepeupelkrasie geword. Dit geld ook vir sommige van die ander universiteite. In wat veronderstel is om hoë intellektuele kringe te wees, is daar ‘n oormaat van onnoselheid aanwesig. In belang van die akademie is dit eintlik vanselfsprekend dat daardie booswigte so lank moontlik (verkieslik vir altyd) weg van die kampusse gehou moet word.

Dit bevestig weereens dat dit vir die universiteitsbesture in die eerste plek nie om die akademie gaan nie maar om voor swart mag en gewelddadigheid te swig. Elemente wat onder die dekmantel van studentwees op kampusse rondhang, rig groot skade aan en verhoed dat universiteite akademies funksioneer. Universiteite is veronderstel om opvoedkundige inrigtings te wees, maar skadevergoeding, bv in die vorm van (lewenslange) dwangarbeid, word nooit van die misdadigers geëis nie. Eers wanneer standbeelde vernietig, geboue beskadig en die terrein vol rommel en erger bestrooi is, voel hierdie mense daar tuis. Wat die Maxiste nooit oor besin nie, is of die egte studente tuis op so ‘n rommel- en puinhoop voel. Deel van hierdie absurde teater is die minister van hoër onderwys, wat in die ou Suid-Afrika eiehandig meer skade by die Universiteit Zoeloeland aangerig het as wat hy ooit kan vergoed. In die nuwe Suid-Afrika besluit hy, sonder beduidende weerstand, wat aan ons universiteite mag gebeur en wat nie mag gebeur nie.

In sy klassieke werk, The structure of scientific revolutions (1962/1970), vertel Thomas S Kuhn (1922-1996) hoe die (natuur-)wetenskappe hulleself uiteraard periodiek (grondig) moet vernuwe wanneer ‘n vorige benadering/paradigma op grond van nuwe feite/ontdekkings/uitvindings/vertolkings agtergelaat en ‘n ander/nuwe benadering (voorlopig) aangehang word. Op ‘n soortgelyke wyse voel egte historici deurlopend verplig om die geskiedenis opnuut na te vors, nogeens te bedink en dan te herskryf. Wat tans as Suid-Afrika se onlangse geskiedenis aangebied word, sal mettertyd (hopelik) herskryf word om die werklikheid van weleer beter/meer waarheidsgetrou te weerspieël. Dit gebeur reeds en in toenemende mate met die Amerikaanse Burgeroorlog.

Dit is veral Amerikaanse suiderlinge wat hierdie geskiedenis graag hersien. Goeie voorbeelde is die boeke van Thomas Dilorenzo, bv dié oor Abraham Lincoln (kyk hier onder). Hier bepaal ek my aandag hoofsaaklik by Clyde N Wilson se Lies my teacher told me: The true history of the war for Southern independence and other essays (Columbia: Shotwell Publishing, 2016, 35p; Amazon Kindle $1,13). Wilson is ‘n afgetrede professor in geskiedenis. In Amazon se katalogus word hierdie publikasie soos volg geadverteer: [“Confederate” verwys na sewe (later elf of veertien) suidelike state. Let op die ooreenkomste met Suid-Afrika. Hou in gedagte dat apartheid dikwels met Amerikaanse rassesegregasie, veral in die suidelike state, vergelyk word (Praag 20 Februarie).]

“You were lied to about the nature, character, and cause of the American ‘Civil War’, but that is just the start. The entire South – its people, culture, history, customs, both past and present – has been and continues to be lied about and demonized by the unholy trinity of the American establishment: Academia, Hollywood, and the Media. In the midst of the anti-South hysteria currently infecting the American psyche – the banning of flags, charges of hate and ‘racism’, the removal and attempted removal of Confederate monuments, the renaming of schools, vandalism of monuments and property displaying the Confederate Battle Flag, and even physical assaults … on people who display the symbols of the South – Shotwell Publishing offers this unapologetic, unreconstructed, pro-South book with the hope that it will reach those who are left that are not afraid to question the sanity of this cultural purge and the veracity of its narrative concerning the South.” [Dink aan die vorige Suid-Afrikaanse vlag wat nie meer in die openbaar mag wapper nie en die pragtige vorige Suid-Afrikaanse volkslied, Die Stem, wat eintlik nie meer in die openbaar gesing mag word nie, bv “In ons roem op ons verlede, in ons hoop op wat sal wees.”]

Die sewe suidelike Amerikaanse state het in 1861 hulle konstitusionele federale reg verdedig om van die unie van state weg te breek, terwyl Abraham Lincoln as Amerikaanse staatshoof ten alle koste die eenheid wou bewaar. In 1862 het Lincoln gesê: “My paramount object in this struggle is to save the Union, and is not either to save or to destroy slavery” (Encyclopaedia Britannica, 1961, vol 14, p 143). Met die uitbreek van die burgeroorlog het nog vier state hulle by die wegbreekstate geskaar. In die suidelike state is landbou beoefen wat arbeidsintensief is en destyds van slawe-arbeid afhanklik was. Die noordelike state was nywerheidsintensief en veel minder op ongesofistikeerde arbeid aangewese. “The War was a war of conquest … The purpose of the war was fundamentally to protect the prosperity of the ruling elements of the Northern states by keeping the South captive as a market and a source of raw materials and exports” (Wilson, Kindle 304).

Sedert die burgeroorlog is daar al hoe meer sentralisering van mag in Washington DC omdat die outonomie van indiwiduele state in groot mate misken word. (In die nuwe Suid-Afrika is die situasie soortgelyk. Daar is selfs sprake dat met die provinsies weggedoen gaan word.) “Lincoln announced that the legitimate governments of the seven seceded States were not States at all but are merely what he called ‘combinations of lawbreakers'” (189). Sedertdien word die noordelike state tot oorlopends toe regverdig beskou: “Southerners are intrinsically evil and Northerners intrinsically good” (257); dus die suidelike state word voorgestel as”the source of all evil in an otherwise pure and righteous country” (216).

Geregtigheid word aan die noordelike state toegedig, maar Lincoln het in 1863 net die slawe in tien onverowerde suidelike state vrygestel (Collins world encyclopedia, 2003, p 311). Hierin is hy nie primêr deur menslikheidsoorwegings gelei nie maar omdat hy die swartes militêr teen die suide wou aanwend en gesag en orde in die suide met behulp van opstandige slawe wou ondermyn. Geen wonder dat Karl Marx sy entoesiastiese steun aan Lincoln toegesê het nie (Wilson 339). Tydens die oorlog het Lincoln hom dermate in ‘n hoek vasgeverf dat hy in 1865 geen ander keuse gehad het as om alle slawe vry te stel nie (Wikipedia, “Emancipation proclamation”).

In werklikheid het Lincoln tot die einde van sy lewe swartes as vreemdelinge beskou. Daarom was hy ten gunste van hulle repatriasie, bv na Liberië, gewees, soos Dilorenzo in sy boeke duidelik maak. Lincoln het iemand anders soos volg goedkeurend aangehaal: “There is a moral fitness in the idea of returning to Africa her children” (Thomas Dilorenzo, Lincoln unmasked, New York: Three Rivers Press, 2006, 224p; Amazon Kindle $12,53, 558; lees Johannes Comestor se boekbespreking, LitNet 21.02.2013). “Emancipation of the slaves was not a purpose but a by-product of the conquest of the South” (Wilson 311).

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.