‘n Groot Kaapse prediker

Deel op

'n Paar vroeë predikante wat baie vir die Afrikaners beteken het, was W. van Gendt, J.P. Serrurier, H.C. Vos, Meent Borcherds en H.R. van Lier. Laasgenoemde was een van die mees besondere figure uit die Kaapkolonie van die agtiende eeu. Helperus Ritzema van Lier (1764-1793) is in Nederland gebore en het in 1783 doktor in die wysbegeerte geword. Daarna het hy hom verdiep in die natuurwetenskap en 'n paar geleerde verhandelinge geskryf. Onder die invloed van die natuurwetenskap, wysbegeerte en sekere romans het die negentienjarige al hoe afsydiger van die godsdiens geraak en teen 1783 aan die bestaan van God begin twyfel. Ná 'n donker tydperk van twyfel kom hy in 1785 tot bekering onder invloed van die piëtisme. Dit was 'n vorm van geloofsbelewing wat in die sewentiende eeu in Nederland, Duitsland en Engeland ontstaan het en teen die dorre, leerstellige prediking en slapheid van sedes in verset was. Tot Van Lier se bekering het beproewings bygedra soos die dood van 'n vriendin en die verdwyning van sy vader ná 'n finansiële skandaal. Die evangeliese rigting van die Engelse predikant John Newton het hom sterk beïnvloed.

    In September 1786 word Van Lier derde medeleraar van Kaapstad. Dit was 'n tyd van onverskilligheid op godsdienstige gebied en losse sedes, en as prediker het Van Lier dadelik indruk gemaak met sy aangrypende erns. Hy beklemtoon die noodsaaklikheid van wedergeboorte en sondevergiffenis. Ook as herder gaan hy nuut te werk. Hy doen meer gereeld huisbesoek en begin met kort godsdienstige samekomste vir die onderrig van kategete op weeksaande. Hy spits hom veral toe op die geestelike vorming van 'n groeiende aantal gelowiges. Onder sy bekeerlinge tel onder andere die godvrugtige Machtelt Scmidt, algemeen bekend as "Moeder Smith", en die weduwee Margaretha Anna Möller. Hulle was groot yweraars vir onderskeidelik die sending- en barmhartigheidswerk.

    Saam met sy twee medeleraars bepleit Van Lier 'n "Fransch en Latynsch school" in Kaapstad, waar jongmense hulle kon voorberei vir studie aan universiteite aan Nederland. Kort ná sy vroeë dood aan tuberkulose in September 1793 kom dit inderdaad tot stand. Hy het jong Afrikaners aangemoedig om in Nederland te gaan studeer, soos J.C. Berrangé (predikant), P.J. Truter (geneesheer), J.A. Truter, J.P. de Wet en M.A. Smuts (regsgeleerdes). Dit is veral as pionier van die sending dat Van Lier baanbreker was. Deur die ywer van hom en ds. M.C. Vos van Roodezand het daar teen die einde van die agtiende eeu 'n ontwaking op sendinggebied aan die Kaap ontstaan. Hy het 'n sterk sendingaksie onder die slawe en Khoi-Khoin begin. Veral as gevolg van sy vertoë het drie Morawiese sendelinge in 1792 die sendingwerk in Genadendal hervat.

    Van Lier was bekend as skrywer van talle publikasies, maar die grootste invloed het uitgegaan van sy geestelike werke, veral die verhaal van sy bekering. Hy het dit in 'n sestal briewe aan John Newton beskryf. Dit is uit Latyn in Engels vertaal as The power of grace (1793), en het in 1793 en 1838 in Nederland verskyn as De kracht der Goddelijke genade.

    Van Lier se suster, Catharina Allegonda van Lier, het ook na Suid-Afrika gekom, by hom en sy gesin gewoon en is die digter van 'n gesang wat in gewysigde vorm nog in ons gesangeboeke voorkom: "Moet ik steeds met onspoed strijden, / 'k Ben tevreden met mijn lot", tans ;ied 576 om die Liedboek van die Kerk: "Moet jy stry teen moeilikhede".

slots noлобановский александр дети

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.