Vandag, 16 Desember, is dit Geloftedag

ImageWat die amptelike kalender van die land betref is dit Versoeningsdag, 'n geleentheid wat ontstaan het uit die sogenaamde versoening wat daar tussen Wit en Swart, Christen en nie-christen, Kommunis en nasionalis, noem maar op, sou gekom het met die verkiesing van 1994 en die grondwet wat uit daardie sogenaamde versoening gebore is.

Maar as daar op enige plek deur enige Afrikaner- of "Afrikaanse" instansie more Versoeningsdag gevier word, sal ons graag daarvan verneem.

In die eerste plek is daar geen versoening te vier nie omdat daar geen versoening is nie, nie net tussen stemmer en nie-stemmer onder die Afrikaners nie, maar ook omdat daar bittere nyd en stryd en wie weet, dalk nog geweld kan wees in Bloemfontein waar "comrades" van gister in twee kampe, twee stadions, saamgetrek is.

Daar, in Bloemfontein, is dit Cope teen die ANC, wat nogal die stigting van sy gewapende vleuel, Umkhonto we Sizwe, vier. As hierdie viering van die ontstaan van 'n terreurgroep nie onheil en onversoenlikheid beteken nie, wat is dit dan?

Maar 16 Desember 2008 het nie gekom asof met een nare towerslag nie. Dié dag met al sy onheilspellende implikasies is die gevolg van veral 'n jaar propvol van strydwekkende gebeure:

  • Die wêreld se finansiële krisis waarvan ons land nie kon ontsnap nie weens sy verweefdheid met ander lande oor globalisme, 'n bose ekonomiese stelsel wat alles en almal onder een gelddiktatuur ingedruk het;
  • Stryd in ons buurland, Zimbabwe, waar die aartsterroris Robert Mugabe nie van dit wat hy deur die lope van AK47-gewere en met behulp van liberale Engelse regerings verwerf het wil afstand doen nie. Daar heers al drie verskynsels van gerig reeds: gewapende stryd, hongersnood en pestilensie (cholera en vigs);
  • Etniese stryd in die ANC wat na 14 jaar van "democracy" na bo gekook het en vorm aanneem in hoofsaaklik twee faksies, die ou ANC (gekaap van die Xhosas deur 'n Zoeloe Jacob Zuma), en Cope (op die oomblik gelei deur die Sotho, Terror Lekota), maar 'n klomp Xhosas, talle nog in die ANC, wat klaarblyklik sit en wag om op die regte oomblik die mag terug te gryp wat hulle meen van die Xhosa Thabo Mbeki afgeneem is. Lekota is klaarblyklik daarvan bewus dat sy lewe aan 'n dun draadjie hang en die vernaamste tema van sy toesprake is die gebrek aan sekuriteit wat hy ervaar;
  • Misdaad. Uit die Afrikaner en Blanke se oogpunt is misdaad net 'n ander woord vir etniese suiwering. Plaasterreur woed voort en in stad en dorp val Blankes en Afrikaners daagliks in 'n soort misdaadwoede. Vroeër vanjaar het Swart buitelanders 'n kompakter vorm van etniese suiwering ervaar toe talle van hulle in sowat twee weke vermoor is en 'n groot groep die land uitgeboender is. Van die gelukkiges (of is dit ongelukkiges) het in deurgangskampe beland waar hulle gou kennis geneem het van die land se onverdraagsame burokrasie, by Afrikaners bekend as die ANC-regime.

Opgesom kan gesê word dat die Afrikaner en die Blanke bevolking in die algemeen in sy kollektiewe bewussyn die vraag stel wanneer dit sy beurt is.

In 'n tyd soos hierdie gryp 'n gelowige volk na 'n gelofte. Of hy laat ou geloftes herleef, probeer weer erns daarvan maak. En minag die speletjies van oorgee-politici wat hul wandade teenoor die volk versoening gedoop het. Soek 'n volk in sy geskiedenis na die oorspronge van sy geloftes. En wat 16 Desember betref soek hy na die oorsprong van dié gelofte wat op die Slag van Bloedrivier in 1838 uitgeloop het.

Die geskiedenis

Die geskiedenis wat Bloedrivier vooraf gegaan het leer ons van die Trekkergemeenskap in Natal wat deur een na die ander ramp getref is; van tweedrag, van 'n leier soos Andries Hendrik Potgieter wat sy waens gepak het om van die hitte van die hoogoond wat Natal in daardie tyd geword het, te ontsnap; van eers die moord op Piet Retief (6 Februarie) en daarna Gert Maritz se dood (23 September).

Ons sluit aan by die geskiedenis op Vrydag, 16 Februarie van daardie jaar…

Daardie dag het nog stil verloop, hoewel 'n onrusbarende gerug, wat hulle in daardie vroeë stadium maar liefs ontken het, die Retief-laer op Doornkop bereik het.

Vroeg op Saterdag, 17 Februarie was daar aan die oostekant van die laer skielik 'n geklap van skote. Baie is deur die skote gewek, baie van hulle onder die indruk dis 'n suksesvolle Retief wat na sy onderhandelinge oor grond van Dingaan af terugkeer. Maar die skote was te aanhoudend. Daar moes ondersoek ingestel word, veral toe die bejaarde Jacobus Malan ook reguit sê dié skietery klink eerder na onheil vir hom.

Die Zoeloekrygers sou, as hulle nie eers by die Tugelarivier vir versterkings gewag het nie, die verspreide laers van die Trekkers waarskynlik vroeër kon bereik het as op 17 November. Maar met die Zoeloe-geledere nou versterk is hulle in verspreide formasie in 'n onstuitbare golf op die Trekkers af, Bloukrans en Moordspruit die eerste om in hul moordtog getref te word. Dit was hierdie Trekkers wat vir die vermeende "vreugdeskote" wat die ander laers gehoor het, verantwoordelik was.

Die families Liebenberg, Rossouw en Bezuidenhout was die aanrukkende Zoeloes se eerste slagoffers, net Daniël Pieter Bezuidenhout kon ontvlug om die treurspel wat hom afgespeel het oor te vertel.

Bezuidenhout  het gemeen die honde is onrustig oor 'n luiperd en het gaan ondersoek instel. Om te vind dit is Swartes wat die honde in die stikdonker en maanlose nag met hul assegaaie afmaai. Die alarm wat hy gemaak het terwyl stotende en worstelende Swart hande hom oorval was te laat om sy pa en en swaer, Roelof Botha, te red.

Hy kon sy swak vrou, wat 'n paar dae tevore die lewe aan hul kind geskenk het, in die wa bereik. Sy smeek hom egter om met die kind te vlug en hy laat haar agter, die baba by hom. Die kind se gehuil trek die Zoeloes se aandag  en hul assegaaisteke agter dié geluid aan verseël die kind se ongelukkige lot.

Die verwonde Bezuidenhout ontvlug die moordende hordes tog nadat hy tussen beeste beland het en dis aan hom te danke dat die ander Trekkergeselskappe al langs Bloukrans gewaarsku is en betyds kon vlug.

Maar op die hoë grond tussen Bloukrans en Moordspruit saai die Zoeloes daardie nag steeds dood en verwoesting. Hulle storm aan albei kante van die Boesmansrivier aan, Trekker-mans, vrouens en kinders wat ingehaal en genadeloos om die lewe gebring word. Op dié wyse is die Greylings en Engelbrechts uitgemoor. Die Bothmas kon hulle vir 'n tyd op 'n koppie verset, totdat die Zoeloes met 'n klomp beeste wat hulle as skerm gebruik het, ook hulle oorval en uitgemoor het.

Die Trekkers kon die Zoeloe-aanval uiteindelik by Van Rensburg-koppie stuit, maar nie sonder die heldhaftige Marthinus Oosthuizen wat deur die hordes moes jaag om buskruit te gaan haal nie.

Dié Trekker-uitdelging  is deur Gustav Preller in sy boek Piet Retief beskryf. In die boek word vertel van suiglinge aan moederbors met assegaaisteke deurboor, die verpletterde hofies van kinders en bloed wat nog uit waens getap het toe ander Trekkers hul makkers se waens die volgende dag aantref.

Saam met die vermoordes in Retief se geselskap is 110 mans, 56 vrouens en 185 kinders in dié etniese uitwissing dood.

Pretorius

Op 22 November 1836 het die langverwagte Andries Pretorius uit die Kaap aangekom. Hy en sy geselskap is onder groot gejuig deur die Trekkers ontvang. Op 25 November is hy tot hoofkommandant verkies.

Deel van Pretorius se aanslag op Dingaan was 'n walaer wat hy as mobiele gevegsentrum saamgeneem het. Pretorius het moontlike Zoeloe-hinderlae vermy en was vasbeslote om self die gevegterrein te kies. Op 13 Desember het die Trekkers bewus geword van 'n groot Zoeloe-mag wat in 'n hinderlaag voor hulle lê. Pretorius hou egter voet by stuk dat die Zoeloes na die Trekkers moes kom en nie andersom nie. Vir daardie rede het hy 'n terrein aan die Ngomerivier gevind wat vandag as die Bloedriviergevegsterrein bekend staan

Die Gelofte

Die Trekkers was teen hierdie tyd goed bewus van hul tekortkominge en die menslik onmoontlike wat vir hulle voor die deur staan. As hulle dié slag sou verloor sou hulle Natal vaarwel moes toeroep.

Die godsdienstige Trekkers het daarom hul oë op God gerig en wel soos Israel van die Bybel dit by wyse van 'n plegtige gelofte gedoen.

Die Gelofte is vir die eerste keer op 9 Desember tydens die aandgodsdiens op Wasbank aan die Trekkers  voorgehou. Volgens historiese gegewens is die gelofte elke aand tot die 16de toe gelees. Alle Trekkers in die laer van Bloedrivier is daaraan verbind.

Die Gelofte wat Sarel Cilliers aan die Trekkers voorgehou het het soos volg gelui:

My broers en landgenote,

Hier staan ons voor die heilige God van hemel en aarde om 'n belofte aan Hom te doen, dat as Hy in sy beskerming met ons sal wees en ons vyand in ons hand sal gee dat ons hulle oorwin, dat ons hierdie dag en hierdie datum elke jaar as 'n verjaarsdag en 'n dankdag soos 'n Sabbat tot sy eer sal deurbring en dat ons 'n tempel tot sy eer sal bou waar dit Hom behaag en dat ons hierin moet deel tot die gedagtenis van ook ons opkomende geslagte. Want die eer van sy Naam sal daardeur verheerlik word deurdat ons die roem en die eer van die oorwinning aan Hom sal gee.

Die slag

Nadat die Trekkers by Bloedrivier laer getrek het het die lang wag vir die Zoeloe-aanval begin. Vroeg in die oggend, nadat die mis gelig het, het meer as 10 000 Zoeloes hulle op die laer met sowat 460 man gestort. Drie aanvalle is gedoen maar nie een keer kon die Zoeloes deur die skanse breek nie.

Nadat die derde aanval ook onsuksesvol was was daar 'n verposing waarin die Zoeloes hulle vir nog 'n aanslag voorberei het.

Pretorius het hierdie geleentheid vir 'n teen-aanval ingespan, so verrassend dat die Zoeloes op die vlug geslaan het. Die Trekkers het hulle agtervolg.

In die slag is meer as 3 000 Zoeloes dood, terwyl, verstommend, slegs drie Trekkers lig gewond is.

Vir die Trekkers was die oorwinning sonder twyfel te danke aan Godddelike ingryping.

Die filantrope en die Engelse oor die algemeen het deurgaans dié aanspraak verwerp want dan sou dit beteken dat God aan die kant van die Trekkers was. Tot 'n groot mate lê die reg van die Afrikanervolk tot vandag toe opgesluit in die gelofte wat voor die slag deur die Trekkers gemaak is én die aanvaarding van die gelofte deur God.

Die grootste argument van die teenstanders van die Gelofte is dat die Trekkers weens hul gewere die Zoeloes, met assegaaie gewapen, oormagtig was.

Die historikus P.F. Bruwer verklaar (Vir volk en vryheid, bls 184) skryf die Slag van Isandhlawana tydens die Anglo-Zoeloe-oorlog in 1879 toon dat die rede nie water hou nie. Die 1 350 Engelse, (drie keer meer as die Trekkers)  gewapen met baie beter gewere as die voorlaaiers van die Trekkers kon nie 'n Zoeloe-leër van 10 000 troef nie. Isandhlawana was 'n volslae militêre sukses vir die Zoeloes wat in daardie slag dieselfde taktiek as tydens die Slag van Bloedrivier gevolg het.

Blyke dat die HERE die Trekkers in hul oorwinning gehelp het

Dr. Willie Marais stel dié saak as 'n vraag in sy boek, Geloftedag en die toekoms van die Afrikaner.

Hy merk die volgende op (bl 6):

Die Trekkers het 'n uitmuntende leier gehad. Hy was 'n uitstekende taktikus wat oor krygsvernuf beskik het. Dié vernuf is so toegepas dat die vyand verras en verwar is.

Die Trekkers het 'n gunstige slagveld uitgesoek. Die terrein was gelyk, sonder bosse en met onbeperkte uitsig. Die walaer was teen 'n diep sloot wat aanvalle uit die suide en ooste bemoeilik het. Die laer is versterk deur veghekke tussen die wawiele aan te bring.

Die Trekker het oor gewere en twee kanonne beskik teenoor die assegaaie van die vyand.

Die Trekkers was vasberade. Die onverskrokke Zoeloes se getalle was egter oorweldigend ('n Geskatte tussen 10 000 en 15 000).

Dr. Marais verwys na 'n paar "onverklaarbare dinge":

Die 800 beeste en 300 perde het nie tydens die slag paniekbevange geraak nie. Die Trekkers, kundig wat dieregedrag betref, het dit aan God se beskikking toegeskryf.

Die Zoeloes het nie in die nag aangeval nie. Die laer was in mis gehul. Indien dit wel gedoen is sou die sout in die kruit vog getrek het en skote nie afgaan nie. Waarom het die Zoeloes nie in sulke gunstige omstandighede tot die aanval oorgegaan nie?

Die lanterns aan die sweepstokke by die walaer het die bygelowige Zoeloes die Trekkers van toorkuns laat verdink.

Dit het nie gereën nie. Desember is reëntyd in Noord-Natal. Die reën sou die buskruit in die pangewere eweneens ondoeltreffend maak. Die son het helder tydens die geveg geskyn sodat die Trekkers sekuur kon skiet. Sommige Zoeloes het wel gewere gehad en het geweet wat vog aan die kruit doen. Waarom het die Zoeloes nie vir die reën gewag nie?

Die Zoeloes het nie soos hulle gevestigde gebruik was saam aangeval nie. Waarom nie?

Daar is aangevoer dat sodra die pangewere onhanteerbaar warm geword het, die Zoeloes teruggeval het, so asof deur 'n onsigbare hand teruggestoot. Eers wanneer die gewere afgekoel het het die Zoeloes weer tot die aanval oorgegaan.

Betaal jou geloftes

Behoudende Afrikaners maak steeds groot erns van die Gelofte, trouens dit wil voorkom of die bywoningsyfers vir Geloftedagvieringe die afgelope 20 jaar toegeneem het.

Die Afrikaanse Protestantse Kerk is een van die Afrikanerkerke wat groot erns maak met die onderhouding van die Gelofte.

In die Kerk se jaarboek vir 2007 as dagstukkie vir 16 Desember word na aanleiding van die Afrikaner se gelofteplig geskryf die krisis waarop die land afstuur is omdat die volk nie meer sy geloftes hou nie. Die dagstukkie noem as volksontrou, behalwe die veronagsaming van die Bloedrivier-, Paardekraal- en Van Riebeeck-geloftes ook dié in verband met die huwelik, die doop en belydenis voor.

Die jaarboek skryf na aanleiding van Prediker 5: 1-4 'n gelofte  is nie iets wat ligtelik gemaak moet word nie. 'n Gelofte moet gehou word (Ps. 76: 12).

Die tekswoord van die dagstukkie is Prediker 5:3 As jy 'n gelofte gedoen het, stel nie uit om dit te betaal nie, want daar is geen welgevalle in dwase nie. Betaal wat jy belowe…

Versoeningsdag

Soos reeds opgemerk blyk die viering van Versoeningsdag deur Afrikaners nie groot aftrek te kry nie.

Die ANC-regime het 'n makietie vir vandag op die gras van die Uniegebou in Pretoria gereël. Een van die kunstenaars wat daar optree is die "Afrikaanse" en sangeres van 'n verminkte weergawe van Afrikaners is plesierig, Karen Zoid.

Vanwaar Versoeningsdag?

Die historikus en kerkgeleerde dr. Adriaan Pont skryf  in Bloedrivier: Stem uit die verlede, taak vir die hede, hoop vir die toekoms (bls. 22) die Christelike Instituut van dr. Beyers Naudé het in die middel-sestigjare al in sy nuusbrief die gedagte geopper dat Geloftedag se inhoud verander moet word en die geleentheid gevier word as 'n versoendag tussen die Afrikaners en die Zoeloes.

"Dit sou natuurlik beteken dat die Gelofte self en sy heenwysing na 16 Desember 1838 weggegooi moes word en 'n ander 'gelofte' in sy plek gestel word. Daar was selfs in die sewentigjare 'n poging om 'n nuwe 'gelofte' op Geloftedag te loods, maar dit het taamlik effektief platgeval.

"Verskillende liberaliste het in die jongste tyd pogings aangewend om steun te kry vir 'n voorstel dat op 16 Desember 1988 'n groot geïntegreerde, ofte wel bont saamtrek by die Voortrekkermonument gehou moet word. Daar sal dan, 150 jaar ná die Slag van Bloedrivier, finaal afskeid geneem word van die 1838-gelofte en dan sal 'n nuwe gelofte wat blankes, Indiërs, Kleurlinge en swartes aan mekaar bind, afgelê kan word."

Dit is verblydend dat daar nie vatbaarheid was vir die voorgenome poging van 'versoening' nie en alle blanke Christene word opgeroep om more in ware ootmoed voor ons Drie-enige God die Gelofte te hernu en ons afdwaal te bely deur opreg om vergiffenis te vra en om uitkoms te smeek uit hierdie ellendige verknegting waarin ons volk tans verkeer.

miomare yachtingОлександр Васильович Фільчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.