Suide stem nuwe sanksies teen Noord-Korea

Deel op

Suid-Korea het die week ’n reeks nuwe, eensydige sanksies teen Noord-Korea aangekondig. Dit sluit onder meer ’n beroep op burgers in om Noord-Koreaanse restaurante in die buiteland te boikot.

Die nuwe maatreëls volg nadat die Noorde onlangs ’n kerntoets uitgevoer en ’n langafstand-vuurpyl getoets het, het AFP berig.

’n Lang lys name van Noord-­Koreaanse individue en entiteite is ook op ’n swartlys geplaas en ’n verbod is geplaas op enige skepe wat voorheen in Noord-Koreaanse hawens anker gegooi het, om in Suid-Koreaanse gebiedswaters te vaar.

Dit volg op streng sanksies wat verlede week deur die Verenigde Nasies (VN) se Veiligheidsraad teen Noord-Korea ingestel is.

Seoel het verlede maand die buitengewone stap gedoen en die operasies van die gesamentlik beheerde Kaesong-nywerheidskompleks opgeskort.

Die sanksies en die sluiting van die kompleks is daarop gemik om die krane toe te draai van enige buitelandse valuta wat na die bewind in Pjongjang vloei.

“Aangesien Noord-Koreaanse instansies, soos buitelandse restaurante, een van die maniere is waarop Noord-Korea buitelandse valuta verdien, vra ons die publiek om nie van hierdie instansies gebruik te maak nie,” het Lee Suk-Joon, hoof van die kantoor belas met regeringsbeleid-koördinering gesê.

Die Suid-Koreaanse regering beraam dat Pjongjang nagenoeg US$10 miljoen jaarliks uit 130 restaurante in 12 lande verdien.

“Verminderde benutting van Noord-Koreaanse restaurante sal bydra om die kontantvloei tot ’n groot mate te laat opdroog,” het die regering in ’n afsonderlike verklaring gesê.

Lee sê die regering vermoed dat die meeste buitelandse valuta, deur verskillende kanale, uiteindelik vir wapens van massavernietiging gebruik word.

Seoel het ook 40 indivue en 30 groepe wat betrokke is by Noord-Korea se kern- en missielprogramme, insluitende twee individue en ses groepe van ’n derde land, op die swartlys geplaas en hulle enige saketran­saksies met Suid-Koreaanse ondernemings belet.

Die skuif om buitelandse vaartuie wat in die Noorde anker gegooi het, te verbied om Suid-Koreaanse gebiedswaters binne te kom, maak klaarblyklik ook ’n einde aan ’n ambisieuse trilaterale infrastruktuurprojek wat ten doel gehad het om Russiese steenkool, deur die Russiese grensdorp, Khasan en die Noorde se hawestad, Rajin na Suid-Korea uit te voer.

Die sogenaamde Rajin-Khasan-projek was ’n integrale deel van die Suid-Koreaanse president, Park Geun-Hye, se visie om die spoornetwerke van die Noorde en Suide te integreer om dit uiteindelik met Europa te verbind.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.