TUT-kampus sluit weens voortslepende oproer

Deel op

Studente van die Tshwane Universiteit van Tegnologie se Soshanguve-kampus moet vandag uit die koshuise weens voortgesette onrus en oproer.

Dit volg nadat die universiteitsbestuur aangekondig het dat die kampus buite Pretoria tot 5 April sal sluit.

Hulle het tot vanmiddag twee-uur tyd om hul koshuise te verlaat.

`n Woordvoerder van die universiteit, Willa de Ruyter, sê die besluit is geneem weens die voortgesette geweld, intimidasie en aanvalle op die Soshanguve-kampus.

De Ruyter sê die studente is gevra om teen twee-uur uit die koshuise te wees.

Sy sê die universiteit sal nie die studente fisies uitgooi nie, maar dit is nie duidelik hoe hulle gedwing sal word om te gaan nie.

Die visepresident van die TUT se studenteraad, Sthembiso Shandu het intussen ‘n beroep op studente gedoen om nie hulle koshuise te verlaat nie.

Intussen sal ‘n spesiale debat vandag in die Nasionale Vergadering oor rassisme gehou word.

Rassistiese aanmerkings op sosiale media en rasse-spanning by universiteite sal bespreek word. Die parlementêre debat sal fokus op sporadiese rassevoorvalle by verskeie universiteite.

Dit volg nadat President Jacob Zuma in sy staatsrede gesê het mense in die land moet saamwerk om rassisme uit te roei.

Die ANC, DA en EFF beskuldig mekaar aanhoudend oor en weer van rassisme wat gelei het tot die oordrewe kollig op die verskynsel.

Zuma het ook aangekondig dat vanjaar se Menseregtedag op 21 Maart opgedra sal word aan die stryd teen rassisme.

In nog ‘n verwikkeling wat volg op studentegeweld het die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het die VN se menseregtekomitee versoek om menseregteskendings in Suid-Afrika te ondersoek.

Hulle sê hulle is bekommerd oor die gebruik van geweld téén oproeriges.

Die MRK sê `n verslag wat die regering aan die VN verskaf het, is onvoldoende en verouderd.

Die kommissie beveel aan dat die VN-komitee die regering vra vir nuwe inligting oor stappe wat gedoen word om die kwessies in die verslag aan te spreek.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.