Trump en Hillary loop voor

Deel op

Senatore Ted Cruz en Bernie Sanders het Saterdag betekenisvolle oorwinnings in hul aanslag op die Withuis behaal, maar dit was Donald Trump en Hillary Clinton wat weer eens hul opponent uitgestof het en die onbetwiste voorlopers is.

Trump, ’n Republikein, en Clinton, ’n Demokraat, het hul ding gedoen in die deelstaat Louisiana, het AFP berig.

Die res van die uitslae op “Super Saterdag” was verdeeld. Cruz het in Kansas en Maine geseëvier en sodoende sy aanspraak dat hy die beste alternatief vir Trump is, bevestig.

Senator Marco Rubio, wat sleg gevaar het, moet besin of hy sy veldtog kan omkeer of liewer die wedloop vaarwel moet wuif.

“Dankie Louisiana, en dankie Kentucky,” het Trump gesê minute nadat hy as die waarskynlike wenner in Kentucky, verklaar is. Hy het met vier persentasiepunte geklop.

Vir die Republikeine was die naweek se voorverkiesings die eerste ware toets om vas te stel of die ­politieke elite, onder aanvoering van die 2012-kandidaat, Mitt Romney, se desperate pogings om ’n stokkie voor Trump se aanslag te steek, wel vrugte afgewerp het.

Trump sê Romney se pogings het misluk. Hy het ook vir Rubio, wat deur menige politieke waarnemers beskou word as die beste hoop om Trump te verslaan, gesê om maar sy tasse te pak.

“Marco Rubio het ’n baie slegte nag gehad. Persoonlik vra ek hom om die wedloop vaarwel toe te roep,” het Trump gesê.

“Ek sal dit geniet om Ted (Cruz) een tot een aan te vat. Dit sal maklik wees,” het Trump bygevoeg.

Benewens die aantal verteenwoordigers wat hulle ingeoes het, kan sowel Cruz en Sanders aanspraak maak op nuwe momentum in die aanloop tot kritiese voorverkiesings in Michigan, Dinsdag en dan eerste-oor-die-wenstreep-verkiesings in Florida en Ohio op 15 Maart.

Trump het reeds geseëvier in 12 van die 19 state waar voorverkiesings gehou is. Cruz se oorwinnings dui egter daarop dat, ondanks die feit dat Trump in alle waarskynlikheid die Republikeine se nominasie sal kry, dit steeds nie ’n uitgemaakte saak is nie.

Die konserwatiewe senator het bo verwagting in Kansas gepresteer waar hy 48,2 persent van die steun gekry het, meer as dubbel soveel as Trump se 23,3 persent.

Rubio was derde met 16,7 persent gevolg deur Ohio se goewerneur, John Kasich, met 10,7 persent.

Aan die Demokrate se kant het die selfverklaarde demokratiese sosialis, Sanders, oorwinnings in Kansas en Nebraska behaal wat meebring dat hy in sewe van die 18 Demokratiese voorverkiesings die oorwinnaar was.

Clinton het egter ’n betekenisvolle oorwinning in Louisiana behaal met 59 Demokratiese afgevaardigdes wat allerweë as die naweek se grootste prys beskou is. Kansas het 37 afgevaardigdes en Nebraska 25.

Die voormalige minister van buitelandse sake en eerste dame, het Louisiana, met sy sterk Afro-Amerikaanse kieserskorps oorheers.

Sanders het gewen in die ander twee state, met betekenisvolle wit bevolkings, ’n demografie waarin hy goed vaar.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.