Noord-Korea se bedrywighede in Namibië raak SAOG

Deel op

Veiligheidsraad-resolusies is deur Namibië verbreek deur toe te laat dat Noord-Korea “wapenfabrieke of ander militêre geriewe” oprig.

Dit is strydig met die kernsperverdrag wat die land as VN-lid onderteken het en raak die hele SAOG-streek.

Die Noord-Koreaanse staatsmaat­skappy Mansudae Overseas Projects Group of Companies (MOP) het glo bande met Korea Mining Development Trade Corporation (KOMID) waarteen daar internasionale VN-sanksies van krag is.

‘n Ondersoekverslag is op 25 Februarie deur ‘n taakspan wat Noord-Korea se kernwapenprogram monitor, aan die Veiligheidsraad van die VN voorgelê.

Volgens die taakspan-aanbaveling “is Mansudae Overseas Projects verbind aan KOMID, Noord-Korea se primêre wapenhandelaar en hoofuitvoerder van goedere en toerusting wat verband hou met ballistiese missiele en konvensionele wapens”.

Luidens die verslag beweer die “Namibiese owerhede dat hulle nie bewus is van die bande tussen die twee entiteite nie”, maar voeg by dat Noord-Koreaanse arbeiders “so onlangs as Augustus 2015 ­konstruksiebedrywighede by ’n ander militêre basis in Suiderhof onderneem het”.

Namibië het nog nie op die aanklag gereageer nie. Die Republikein het die bewerings ondersoek.

Die reusegebou wat tans neffens die weermagbasis in dié Windhoekse woonbuurt gebou word, is volgens inligting die nuwe hoofkwartier van die Namibiese weermag.
Satellietbeelde van die militêre basisse by Luiperdsvallei en Oamites suid van Windhoek wat so onlangs as vroeg verlede maand deur Google Earth opgelaai is, wys reuse-aanlegte waarvan die bouwerk volgens inligting deur Noord-Korea gedoen is.
Republikein se ondersoekspan het in antwoord op ’n vraag oor dié aanlegte, die volgende antwoord van ’n ingeligte bron ontvang: “Die een f­asilitieit is ’n ammunisieopslagplek met ’n reeks van aanwendings – vanaf pistole (handwapens), tot gewere, artillerie, vliegtuie en ander wapentuig. Die ander fasiliteit is ‘buite perke’. Daar is glo ’n wyer SADOG-konteks.”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.