Kan Suid-Afrika ‘n ANC-regering nog bekostig?

Deel op

ImagePolitici beweer dikwels dat geregtigheid slegs deur wetgewing verseker kan word. Daardie paternalistiese houding help hulle om die steun van die proletariaat te verseker. 'n Paternalistiese regering wil alles met wetgewing bestuur om hul idee van die utopie te verwesenlik. Hierdie en ander begrippe is deur die Franse skrywer, vryemarkekonoom en wetgewer Frédéric Bastiat in sy boek "Die wet" (1850) opgeteken. Daarin beweer hy dat die staat nie die utopie moet probeer skep nie, maar moet slegs verseker dat ongeregtigheid nie sal seëvier nie en dat dit die staat se plig is om die vryheid en veiligheid van sy burgers te verseker. Sy boek werp ook lig op verskeie vraagstukke waarmee ons vandag in hierdie land worstel.

Die vertrekpunt van 'n paternalistiese regering is dat die staat 'n vaderlike plig teenoor sy burgers aanvaar wat streng toesig oor hul sosiale en sakebelange vereis. So 'n inmengende staat se onderliggende teorie is dat burgers nie oor die vermoë beskik om na hulself om te sien nie.  Die staat doen byvoorbeeld ons skoolkurrikulering vir ons. Ons weet kwansuis nie wat goed is vir ons eie kinders nie. Die staat se volksvreemde amptenare weet en hulle het die mag om te besluit wat ons kinders moet leer en wat hulle nie mag leer nie. Die geskiedenis van die Boerevolk is byvoorbeeld heeltemal taboe vir die onderwysdepartemente van vandag.

Bastiat sê verder dat, al sou politici reg wees dat dit hul plig is om die utopie te skep, spreek dit nie vanself dat hul goedbedoelde paternalisme die burgers vryer maak nie. Staatsinmenging mag sommige mense meer welvarend maak, maar dit sal altyd ten koste van ander landsburgers se outonomie of eiendom wees. Ek wil beweer dat ongeveer 35 miljoen van Suid-Afrika se inwoners 'n paternalistiese regering verkies, maar dat minder as 5 miljoen inwoners 'n nie-inmengende regering wil hê.

Daar bestaan baie bewyse in die literatuur waar staatspaternalisme landsburgers se vryheid verminder, want die staat neem van sommige om weer aan ander te gee. Suid-Afrika is egter ook paternalisties teenoor misdadigers en waarborg hul regte, al kontrakteer hulle uit die grondwet met hul geweldsmisdade. Ons paternalistiese regering is derhalwe nie in staat om sy vredeliewende burgers se vryheid te verseker nie; ook nie hul reg op eiendom en lewe nie. Die huidige regering kan dus nie verseker dat ongeregtigheid nooit sal seëvier nie. Die verkeerde regering met 'n verkeerde beleidsingesteldheid is dus aan die bewind in Suid-Afrika.

En hiervoor besit die staat die alleenreg op geweld, wat moet verseker dat die wil van die politici afgedwing word. Die staat se magsagent, die howe, word in staat gestel om die bevolking se wil met die politici se wil te vervang. In 'n veelvolkige staat wat deur die demokratiese stelsel van meerderheidsregering aan bewind kom, word die wil van die populistiese meerderheid aan die minderheid teen hul sin opgedwing.

Is dit dus verbasend dat die minderheid hulself van die politieke prosesse onttrek het? Is dit ook verbasend dat lede van die minderheidsgroepe wat pro-aktief deur 'n paternalistiese regering van die ekonomie uitgesluit word, voel dat hul kundigheid, opleiding, kwalifikasies of intelligensie oorbodig vir hierdie land geword het en liewer ander weivelde moet gaan soek?

Waarnemers beweer dat die emigrasie van jongmense te wyte is aan geweld en regstellende aksie. Is die werklike rede nie dat die beskawingsbotsing tussen 'n Afrikaregering en ons Westerse tradisies dit byna onmoontlik vir Afrikaners gemaak het om saam met Afrikavolke onder een vlag te woon nie? Ons leer ons kinders om die gevolge van hul eie dade te aanvaar, om hul eie besluite te neem, om verantwoordelik op te tree. Ons leer hulle 'n pligsbesef, werksetiek, deeglikheid en arbeidstrots, maar die oeboentoebenadering leer hulle van kollektiewe belange, asook die waarde van toenemende konsensus wat tot kollektiewe besluitneming moet lei.

Daagliks sien ons dat vergrype of pligsversuim van regeringsamptenare en politici oorgesien word in 'n ekonomie waar deursigtigheid en verantwoordelikheid vir jou eie dade kritiek belangrik is vir 'n lewensvatbare beskawing. Dit is egter duidelik nie 'n kwessie van werks- of maatskaplike etiek nie, maar 'n ingesteldheid dat niemand aanspreeklikheid vir die gevolge van sy dade hoef te aanvaar ni, en dat die gemeenskap maar die gevolge moet verdra. Hoe lank gaan die stomme Zimbabwiërs nog met Mugabe sit? Goddank dat Mbeki so doeltreffend verwyder is. Daar is altyd 'n uitsondering om die reël te staaf.  

As ons aanvaar dat individue selfgemotiveerd is en 'n vrye wil het, beteken dit egter nie dat kollektivisme as sulks verwerp moet word nie. Afrikaners, as 'n kultuurgemeenskap, glo self in 'n mate aan kollektivisme, hou graag vergadering en bespreek graag vraagstukke. Maar hulle doen dit as mense van 'n heel ander beskawingsgroep, met heel ander waardestelsels en tradisies. Ons unieke sin vir geregtigheid, eerlikheid en vryheid het nie sommer net oornag ontstaan nie, maar het 'n baie lang sosiale en sielkundige aanloop wat nie plotseling in 1994 aan sy einde gekom het nie. Daardie vryheid word nou bedreig deurdat ons volkserfenis en kultuurgoedere, wat die basis van ons kollektiewe identiteit vorm, stelselmatig voor ons oë vervreem of vernietig word.

In Suid-Afrika het ons vandag 'n geval waar arbeid deur regulasies bestuur word. Die howe dwing die regulasies af en tronkstraf kan aan oortreders opgelê word. Is Suid-Afrikaners van alle rasse dus vry om hule regte uit te oefen? Is Afrikaners nog vry in hierdie land? Die staat kan eiendom in belang van die breër gemeenskap onteien en kan bedenklke grondeise toestaan. Is dit nie 'n inbreuk op eiendomsreg nie? As mens hierdie teenstellings nie volgens die gees van die grondwet kan verdedig nie, moet jy tot die gevolgtrekking kom dat die staat nie sy beleid ten opsigte van arbeid, landbou en die nywerheid kan implementeer sonder om sy toevlug tot ongeregtigheid te neem nie.

Gedurende die afgelope veertien jaar het die regering selfs nog verder gegaan en in direkte botsing met sy eie bestaansreg gekom. Die landswette is gebruik om regte en belange te vernietig wat die staat veronderstel is om in stand te hou. Die mag van die staat word aangewend om die belange van 'n paar gewetenloses te dien. Hierdie mense gebruik staatsmag om bates sonder enige persoonlike risiko vir hulself in te palm. Om dit te wettig, is plundery in 'n histories verwerfde reg vir swartmense omskep wat ondersteun word deur drastiese maatreëls soos boetes en die weerhouding van staatskontrakte aan weerbarstiges.

Om plundery te beskerm word toegang tot die howe beperk. Om jou eiendom fisies teen onwettige besetting te beskerm, word as 'n kriminele oortreding beskou.  Die begronding van die plundermaatreëls kom uit twee uiteenlopende invalshoeke: die verwerplike hebsug van 'n paar opportuniste en die vals humanisme van oorywerige liberaliste.

Maar mense het ook 'n ander neiging, naamlik om 'n bestaan te wil maak ten koste van ander mense. Die geskiedenis van Afrika is genoeg bewys van mense wat mekaar se besittings plunder, soos die ewige oorloë in Afrika en aan die oosgrens wat tot die Groot Trek aanleiding gegee het. Hierdie neiging is waarneembaar in die geskiedenis van elke land op aarde en word veroorsaak deur die mens se basiese instink om sy behoeftes met die minste moontlike pyn te bevredig, hetsy deur sy eie arbeid, hetsy om die vrugte van ander se arbeid te plunder. Selfs in vredestyd gaan die plundery van huishoudings nagteliks voort in Suid-Afrika. Dink aan die bloeiende seerowery aan die Somaliese kus. Dit is nou maar in die Afrikamense se aard om te plunder.

Die regstelsel se doel is om geregtigheid in stand te hou, in so 'n mate dat die meeste mense glo dat enigiets wat wettig is ook moreel aanvaarbaar is. Dan glo hulle sommer dat iets geregverdig is, want die wet maak dit aanvaarbaar. Om plundery regverdig en aanvaarbaar vir almal se gewete te maak, moet dit deur wetgewing gesaniteer word en presto, ons gewetens is skoon.

Bestaan daar 'n groter euwel in enige land as om die regstelsel as plunderinstrument te gebruik met die doel om die verskil tussen reg en geregtigheid uit almal se gewetens uit te wis?

Sou ongeletterde aansoekers byvoorbeeld fondse vir hul projekte benodig, is dit nie ongewoon dat hulle deur die betrokke staatsamptenaar bygestaan word nie. Benewens die hantering van aansoeke vir staatshulp tree amptenare terselfdertyd ook op as "professionele" raadgewers by die toekenning van skenkings, lenings, aandele of ander finansiële bystand. Ongeletterde ontvangers betaal daardie duur professionele fooi met graagte uit die fondse wat op hierdie manier vir hulle gewerf word. Die amptenaar verdubbel sy salaris op hierdie manier en geen wet is oortree nie. Só gaan die plundery voort, maar kring elke dag wyer en meer subtiel uit omdat slegs die wet en nie die gewete die beperkende faktor geword het.

Ons almal wil die landswette eerbiedig en in stand hou, maar, wanneer daardie wette in botsing kom met jou moraliteit en mekaar weerspreek, verloor mens die respek vir die land se wette, want ons beskou gewoonlik ons moraliteit op 'n hoër vlak. Nogtans raak mens afgestomp en bevind jou naderhand in die situasie waar jy bereid is om 'n geregsdienaar R100 omkoopgeld aan te bied om jou die ongerief van sy wetstoepassing te spaar.

Dit is dus duidelik dat die land die ANC nie langer kan bekostig nie. Dit sou fataal wees vir Afrikaners, gesien teen die agtergrond dat die ANC 'n beleidsverskuiwing na links wil maak en nog verder van die Westerse beskawingskomponent van die land wil wegbeweeg. Die ANC wil nog meer paternalisties word. Sosialistiese staatspaternalisme wek meer korrupsie, konfiskering van eiendom, beperkings op persoonlike vryheid, verhoogde belastings en verswakking van die beskermingsdienste. Daar bestaan 'n ydel hoop dat die Afrikaners ook baat kan vind by die ANC se paternalistiese benadering deur 'n krieseltjie vryheid aan Afrikaners toe te staan in ruil vir hul onderdanigheid. In die geheel word Suid-Afrika egter 'n swakker plek om in te woon.

Hoe lank sal Afrikaners nog stilsit en toesien hoe hul vryheid en volksidentiteit weggekalwe word? Is dit nie nou tyd dat die min beskikbare magshefbome tot hul beskikking deur Afrikaners gebruik word nie? Moet persoonlike en korporatiewe ego's nie onderdanig gemaak word aan die belang van 'n eens trotse volk nie?

форма справки 086-утопкарго отзыв

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.