Brittanje gooi geld na chaos in Calais

Deel op

Brittanje sal ongeveer 20 miljoen euro’s bydra om sekuriteit by die Franse hawestad, Calais, te versterk, waar duisende migrante kamp in die hoop om die Engelse kanaal oor te steek en ‘n heenkome in Brittanje te vind.

Die Franse minister belas met Europese aangeleenthede, Harlem Desir, het die aankondiging gemaak.

Brittanje het reeds 60 miljoen euro’s daarvoor bewillig. Die geld sal gebruik word om die sekuriteit te verbeter van die toegangsone na die tonnel wat Europa met Brittanje verbind, asook om mensehandelnetwerke te bekamp.

Die aankondiging kom ure voor ‘n spitsberaad tussen die Franse president, Francois Hollande, en die Britse eerste minister, David Cameron, in die noordelike stad, Amiens, waar die Calais-krisis boaan die agenda sal wees.

Maandag het chaos uitgebreek in die kamp toe stootskrapers tente en skuilings platgestoot het.

Ontleders meen die Franse het tot die stap oorgegaan omdat die huidige Brexit-klimaat dit toelaat.

Die Franse owerhede het besluit om ‘n deel van die kamp skoon te maak omdat die inwoners van Calais in opstand is oor die misdaad en die wetteloosheid wat daar heers, en oorgespoel het na die stad.

Die polisie het stootskrapers gebruik om immigrante uit tente en tydelike skuilings te verwilder in die gebied wat sowat 6000 vlugtelinge huisves.

Kampinwoners het teruggeveg, begin vure stig en die polisie met klippe aangeval. Die situasie was Woensdag kalmer, maar nie minder gespanne nie.

Verwarring, onsekerheid en kommer heers in die kamp met die onwettige immigrante wat op hul “regte” aanspraak maak.

Die Franse regering het aanvanklik sy plan aangekondig om die suidelike deel van die kamp af te breek – nader aan die snelweg – vroeg in Februarie.

Die fortuinsoekers spring op vragmotors wat deur die Kanaaltonnel reis, in weerwil van doringdraadversperrings wat opgerig om die pad te beskerm.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.