Jaap Steyn: ANC benadeel Afrikaans, dog NP-bewind het wel Afrikatale bevorder

Verskeie kommentators meen dat die veldtog teen Afrikaans eintlik oor politiek gaan. Dit aanvaar ek. Daarby dink ek egter dat die politiek van vergelding ook ’n rol speel.

Maar dis die moeite werd om te kyk na ander gewilde argumente. Klasse moet toeganklik wees vir alle studente – en nie-Afrikaanse studente kan nie Afrikaanse lesings volg nie. Dit was tot onlangs die vernaamste argument wat anti-Afrikaanse aktiviste teen Afrikaans as voertaal aanvoer.

In die geval van die meeste histories Afrikaanse universiteite het hierdie argument sy geldigheid verloor, want hulle bied alle klasse ook in Engels aan.

Daar moes dus nuwe argumente teen Afrikaans bedink word, wat aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) gebeur het.

Die UV het ’n parallelmediumbeleid gevolg. Wanneer daar van dié beleid afgewyk is, was dit ten gunste van Engels. Minder as ’n jaar gelede het die rektor, prof. Jonathan Jansen, die eerste stappe gedoen om Afrikaans af te skaf.

’n Volksblad-berig van 7 Mei 2015 lui dat ’n gesprek oor die hersiening van die UV se taalbeleid begin het ná voorstelle deur studente dat Afrikaans in die klaskamer moet verdwyn en dat die onderrigtaal voortaan net Engels moet wees.

Jansen noem dié studente se argumente vir Engels in ’n brief aan studente en dosente:

  • Die praktyk van afsonderlike klasse in Afrikaans en Engels lei tot skeiding van rasse, aangesien die meeste swart studente die Engelse klasse, en die wit studente hoofsaaklik die Afrikaanse klasse bygewoon. Dit is strydig met die UV se integrasiebeleid.
  • Die vermoede bestaan dat studente in Afrikaanse klasse bevoordeel word wat betref “eksamineerbare inhoud”, aangesien die opsomming van die hoofsaaklik Engelstalige handboeke net die noodsaaklikste inligting saamvat wat nodig is om te leer en waaraan studente getoets sal word.
  • Die herhaling van klasse in Afrikaans en Engels plaas ’n dubbele werklading op dosente terwyl hulle die tyd vrugbaarder aan navorsing en ander akademiese pligte kan bestee.

Verskeie instansies en akademici het op die berig oor die verengelsingsplanne gereageer. Voorspelbaar het dit geen indruk op die UV-topbestuur gemaak nie.

Prof. Hennie van Coller het in ’n lang Volksblad-artikel gewys op hoe prof. Jansen Engels ten koste van Afrikaans bevorder het. Van Coller was vir 26 jaar die hoof van die UV se departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans. Hy is ’n voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Hy het soos volg op Jansen se argumente geantwoord:

“Die beskuldiging dat Afrikaanse studente bevoordeel sou word deur Afrikaanse dosente berus op persepsies (omdat hulle skynbaar beter presteer?) en nie op feite nie.

“Die UV-bestuur se besluit om so ’n onbewese beskuldiging as belangrike argument te opper om ’n taalbeleid weer te bekyk, kom neer op die bevraagtekening van Afrikaanse dosente se integriteit.”

Dat hierdie argument onsin was, blyk daaruit dat dit nooit weer geopper is nie.

Van Coller gaan voort:

“Dat afsonderlike taalklasse apartheid sou bestendig, is onwaar, omdat die klasse oop is vir almal – ongeag geslag of kleur – en talle studente anders as wittes daarin (in Afrikaanse klasse) sit.

“Boonop word integrasie op soveel ander plekke op die kampus nagestreef (van die koshuise, studentepolitiek, sport en die verpligte eentalige Engelse UFS 101) dat dit ’n drogredenasie is.

“Al geldige beswaar teen parallelmediumonderrig is die herhaling van lesings, maar indien verskillende dosente dit behartig, is daar geen verdubbeling vir dosente nie. En die verdeling van groot klasse is in baie departemente reeds die gebruik vir dekades.

“Maar ek vrees, beredeneerde en logiese argumente (hoe vriendelik ook gestel) gaan geen effek hê op ’n uitkoms wat vir my vasstaan nie: ’n eentalige Engelse universiteit waar Afrikaans selfs nie in enige openbare ruimte geduld sal word nie. En hierdie toekomsvoorspelling berus op wat in die verlede by die UV gebeur het.”

Wat daarna aan die UV gebeur het, toon dat Van Coller dit heeltemal gelyk gehad het. Dit kon die topbestuur ook regkry deur die regte mense aan te stel vir die komitee wat die taalkwessie moes ondersoek. Dié komitee het uit elf lede bestaan van wie die meerderheid hul vooraf reeds in die openbaar en boonop herhaaldelik ten gunste van Engels as die enigste (nagraadse) onderrigtaal uitgespreek het en dikwels (soos in die geval van die voorsitter en nog een lid) ook fel anti-Afrikaans was. Slegs twee lede was pro-Afrikaans of pro-meertaligheid.

’n Stemming op die kampus is geïgnoreer omdat die uitslag glo nie as onweerlegbaar beskou kan word nie: 2 562 het gestem vir “slegs Engels”, 1 107 vir Engels as primêre onderrigtaal, maar met tutoriale in Afrikaans en Sesotho, en 3 323 vir die huidige beleid van parallelmedium-onderrig. Wat personeel aan die hele UV betref, is daar ’n voorkeur vir Afrikaans as voorkeurtaal vir institusionele kommunikasie (55%) teenoor Engels (43%). Op die Bloemfontein- en Suid-kampus is die voorkeur vir Afrikaans onderskeidelik 61% en 59%, terwyl die Qwaqwa-kampus 86% vir Engels gestem het.

Op een van die inligtingsessies oor die taalbeleid het een student beweer Afrikaanse studente word onregverdig bevoordeel omdat hulle in hul moedertaal kan studeer.

Nog ’n student het gevra hoe enigiemand bevoordeel word deur iets van die een groep weg te vat sonder om iets tot ’n ander groep by te voeg: “Dit klink vir my baie soos wanneer sommige mense hul bene verloor het en ons almal nou ons bene moet afsny om gelyk te wees.”

Dr. Munene Mwaniki, hoof van die departement linguistiek en taalpraktyk aan die UV en ook ’n lid van die taalkomitee, het geantwoord: “Miskien moet ons begin vra wie het daardie mense se bene in die eerste plek afgesny.”

Hy laat dit dus lyk asof dit die Afrikaanse studente se skuld is dat swart studente nie deur middel van hul eie tale kan studeer nie. Dit is onwaar.

Nooit in die afgelope 22 jaar het die bewind enige poging aangewend om Afrikatale vir akademiese doeleindes te bevorder nie.

Die vorige bewind het die Afrikatale probeer bevorder deur moedertaalonderrig daarin uit te brei. Dit hét ook gebeur ondanks teenkanting van die sprekers van dié tale. Ná die 1976-onluste ten gunste van Engels as enigste voertaal in swart hoërskole is Engels ook al hoe meer in laerskole ten koste van moedertaalonderrig ingevoer.

Omdat Afrikaanse studente danksy moedertaalonderrig goed presteer, wil die betogende studente dit van hulle afneem sodat almal ewe swaar moet kry. Dié argument het reeds jare lank ’n eie benaming: equal misery vir almal. Behalwe natuurlik vir die studente wat Engels as eerste taal het.

’n Mens presteer die beste in jou eie taal of ’n taal wat jy so goed as jou moedertaal kan besig. Waarom gun die betogers nie hierdie vryheid aan Afrikaanse studente – en aan hulself – nie?

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.