PRAAG rig brief aan Persraad oor golf van Boerehaat en Afrikaanshaat in media

Deel op

In die lig van die opwelling van anti-Afrikaanse veldtogte en haatspraak jeens Afrikaners op verskeie kampusse en in die Engelstalige media, het dr. Dan Roodt van PRAAG gister ‘n brief aan die Persraad van Suid-Afrika gerig. Daarin bring hy die oortredings van die grondwet en van internasionale verdrae deur die hoofstroommedia in die land onder die Persraad se aandag en versoek dat sy skrywe aan alle redakteurs versprei sal word. Hy vra ook dat alle inligting oor die Persraad en klagtes wat die publiek teen koerante aanhangig kan maak, in Afrikaans beskikbaar gemaak sal word. So nie, sal PRAAG hom tot die howe wend om die Persraad daartoe te dwing.

Hier volg die volledige brief wat gister per e-pos aan dr. Johan Retief versend is.

Haatspraak teen Afrikaans, Afrikaners en Afrikaanssprekendes

Dr. Johan Retief
Persombudsman
Persraad van Suid-Afrika

Beste dr. Retief,

Oor die afgelope weke, veral rondom die radikale eise van die EFF en verwante organisasies wat Afrikaans by Tukkies heeltemal wil “afskaf”, soos hulle dit stel, is ek geskok deur die oplewing in Boerehaat, anti-Afrikaanse stellings en antipatie teen Afrikaans wat daar veral in die gedrukte media, maar ook aanlyn, na vore gekom het.

‘n Mens sou ‘n lys kon maak van al die berigte en meningsartikels waarin daar ‘n antipatie teen Afrikaans as taal, maar ook as onderrigmedium, uitgespreek is. Hiermee saam was daar die vernietiging van kunswerke en beelde op verskeie kampusse waaroor daar in die media berig is.

Dit ly by my geen twyfel dat daar by redakteurs en sommige joernaliste in Suid-Afrika simpatie en selfs steun vir geweldpleging, rassehaat, Boerehaat, asook etniese, kulturele en talige chauvinisme bestaan nie. Op subtiele en minder subtiele wyse het dié houdings in berigte en kommentaar oor die afgelope weke gemanifesteer.

Hoewel die Engelstalige media die grootste sondebokke is, kan ‘n mens ook nie Media24 se Afrikaanse publikasies hiervan kwytskeld nie, wat – hoe ironies dit ook mag klink – self met ‘n veldtog teen Afrikaans op universiteit besig is. Trouens, dit wil voorkom asof al die groot mediahuise verenig het in hul haat en afkeer van Afrikaans en die Afrikaanse minderheid. Daar word nie ewewigtig berig nie en hoewel anti-Afrikaanse menings vrye teuels gegee word, word daar streng sensuur teen enige menings toegepas wat die grondwetlike en selfs internasionale regte van Afrikaanssprekendes wil verdedig.

Die Kaapstadse akademikus, prof Robert Morrell, het onlangs die volgende in sy aanlynkritiek op gewelddadige kampusbetogings gesê:

“This campus violence rather is an expression of a worrying close-mindedness, a myopia, which refuses to acknowledge any other point of view – not even that of the vast majority of students – and insists on being the only voice that should be heard and heeded. When it fails to persuade its audience, it uses violence.

This has been the way of fascism in the 20th century and of extremist, non-democratic movements in the 21st century.

Campus violence has up to now occurred with virtually no action taken against perpetrators. They have operated with impunity. I cannot speculate about the reasons for the lack of consequence that has attended the perpetration of violence but the widespread sympathy of the media has contributed to the view that students are ‘right’ and that their actions are therefore justified. In this sense, the media are complicit with the perpetration of campus violence because they contribute to a climate that legitimizes it.”

http://www.dailymaverick.co.za/article/2016-02-22-op-ed-the-burning-issue-of-campus-violence/#.VtcOyEJb_Qo

Soos hy dit stel, word die klimaat vir geweld en ekstremisme deur die media geskep en “gelegitimeer”. Daardie geweld en ekstremisme word merendeels teen Afrikaans en Afrikaners gemonster. Nie net verteenwoordig dit ‘n grootskaalse en algemene oortreding van die Perskode nie, maar ook van die grondwet en die volkerereg.

Die ekstremistiese politieke party, of beweging, of rebellegroep, hoe mens ook al na die EFF moet verwys, se verklarings en manewales word alles verbatim in die media weergegee as legitieme aansprake, sonder die nodige balans. Vandag en gister het die EFF se provinsiale leier in Gauteng “oorlog teen die Universiteit van Pretoria verklaar” omdat hy nie summier alle Afrikaanse lesings wil staak nie. Dit word klakkeloos in die pers weergegee en die Afrikaanse taal word konsekwent as ‘n “probleem” getipeer.

Bedekte of onbedekte geweldsdreigemente teen blankes, Afrikaners en Afrikaanssprekendes word ook deur rubriekskrywers gemaak.

Namens ons aksiegroep teken ons ten sterkste beswaar aan teen die huidige veldtog teen Afrikaans, Afrikaners en Afrikaanssprekendes. Daarom versoek ek u om hierdie skrywe aan u lede en redakteurs te sirkuleer met die gedagte dat hulle sal ophou met hul onbesonne aanhitsing van etniese konflik in ons land.

Ons besef dat die wortels van Boerehaat en Afrikaanshaat in ons land baie diep lê en na die negentiende eeu terug te voer is toe daar die idee bestaan het dat almal in Suid-Afrika Engels as taal behoort aan te neem en dat dit die enigste taal van die howe, die koerante, die onderwys en die staatsdiens behoort te wees. In die twintigste eeu het die gedagte via die kommunisme posgevat dat Suid-Afrika tot ‘n Afro-marxistiese staat met een taal gesosiogenieer mag word.

Die huidige Grondwet, vir wat dit werd is, erken egter elf amptelike tale. Waarom moet daar dus ‘n veldtog teen een van die elf tale gevoer word?

Dit bring my by ‘n verdere kwessie: alle inligting oor die Persraad, asook die Perskode, is tans slegs in Engels beskikbaar. Dit maak eintlik ‘n bespotting van die Perskode self wat gegrond sou wees op die handves van regte in die grondwet.

Aangesien Afrikaans en Afrikaanssprekendes geruime tyd reeds die teiken van veral die Engelstalige media is, is dit onses insiens van kardinale belang dat alle inligting oor die Persraad en die moontlikhede om klagtes teen koerante aanhangig te maak, ten volle in Afrikaans beskikbaar behoort te wees.

Indien die Perskode met die grondwet bestaanbaar is, moet u organisasie die veeltalige aard van Suid-Afrika in ag neem en dat Engels beswaarlik die enigste taal is waarin die publiek en koerantlesers diens verlang.

As ‘n reël dring ons aan op gelyke behandeling van Afrikaans met Engels of enige ander taal. Suid-Afrika het ook verskeie internasionale verdrae onderteken wat met die grondwet saamgelees moet word en wat erkenning vir Afrikaans op alle gebiede nog meer bindend maak.

Indien die Persraad nie bereid is om sy webblad en ander kommunikasie vir Afrikaans aan te pas nie, sal ons genoodsaak wees om ons na ‘n bevoegde hof of ander tribunaal te wend om ons regte te laat geld. Aangesien die ANC-bewind reeds die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad ontbind het, sal dit seker nie dié liggaam wees nie.

Ek verneem graag u reaksie.

Met vriendelike groete,

Dr. Dan Roodt
Direkteur, PRAAG

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.