Minstens 38 oproeriges is in hegtenis geneem weens openbare geweld by die George Goch- en Denver-hostelle, suid van Johannesburg.
Die hostelbewoners het nabygeleë paaie en hoofroetes versper en twee voertuie aan die brand gesteek.
Die hostelbewoners is ontevrede oor die herafbakeningsproses wat beteken dat die hostelle in Wyk 65 van die IVP val, asook in Wyk 118 van die DA.
Ander kwessies is onvoldoende sanitasie en behuising. Die polisie het bevestig dat die gewelddadige protesoptrede onder beheer gebring is.
Intussen het oproeriges van die Ga-Rena nedersetting in Polokwane in Limpopo strate met vullis versper.
Inwoners is ontevrede omdat hulle rommel nie verwyder word nie. Die polisie sê verkeersligte is ook beskadig.
Die polisie is ontplooi om die situasie te monitor.
Verlede week is die burgemeester van Nylstroom (Modimolle) in Limpopo se huis is in die vroeë oggendure aangeval.
Ligte is beskadig en elektriese kabels is afgesny by Elizabeth Lekalakala se huis. Sy en haar gesin is ongedeerd.
Die polisiewoordvoerder, Ronel Otto sê die voorval word ondersoek.
Inwoners van die gebied betoog al etlike dae oor die gebrek aan water. Die pad na Phamageng moes gesluit word nadat betogers die pad met brandende bande en takke versper het.
Betogers het ook probeer om weer die R101 na Naboomspruit te versper, maar die polisie het die versperrings verwyder.
Veertien mense is reeds weens openbare geweld in hegtenis geneem.