Gaboen se oliedinastie klou vir ‘n vale

Deel op

Pres. Ali Bongo Ondimba van Gaboen het aangekondig dat hy vir ‘n tweede termyn verkiesbaar is.

Verkiesings vind later vanjaar plaas en Ondimba het beloof om “ongeregverdigde bevoordeeldes” in die klein Afrikaland te aan te vat.

Indien hy verkies word, sal hy hom glo beywer vir ‘n beter lewe vir Gaboen se 1,6 miljoen mense, van wie die meeste, ondanks die land se olie-rykdom, in armoede leef.

Hy het onderneem om die ekonomie te diversifiseer, met olie wat vir 60 persent van die staatsinkomste verantwoordelik is, het AFP berig.

Bongo het vir die eerste keer in 2009 aan bewind gekom ná die dood van sy pa, Omar Bongo Ondimba. Dié was sedert 1967 aan die stuur van sake in die land en was deur kritici as ‘n “korrupte despoot” beskryf.

Sy pa het die olieryke Gaboen vir 41 jaar geregeer.

Ondertussen het ‘n hof in die westelike Franse stad, Nantes, Maandag ‘n saak deur sy halfsuster, een van 54 erfgename van sy pa se fortuin, van die hand gewys waarin sy beweer hy het sy geboortesertifikaat vervals.

Met die presidentsverkiesings wat nader kom, broei omstredenheid oor Ali Bongo se geboorteplek. Kritici sê hy het sy geboortesertifikaat vervals om die feit weg te steek dat hy in die buiteland aangeneem is.

Die Gaboense grondwet bepaal dat staatshoofde in Gaboen gebore moet wees. ‘n Franse ondersoekende joernalis, Pierre Pean, beweer in ‘n boek die president is inderdaad ‘n gebore Nigeriër wat gedurende die Biafra-oorlog in die laat 1960’s aangeneem is.

Bongo sê hy is in 1959 in Brazzaville, die voormalige hoofstad van Frans Ekwatoriaal-Afrika, gebore.

Die Nantes burgerlike registrasiesentrum is verantwoordelik vir al die geboortesertifikate van mense wat tot 1960 in die Franse Ekwatoriaal-Afrika gebore is.

Dié land het in 1960 onafhanklik geword en het verdeel om Gaboen, Tsjad en die Sentraal-Afrikaanse Republiek te vorm.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.