Metrorail gaan vanoggend voort met ‘n afgeskaalde treindiens aan die Oosrand nadat treindienste in Springs, Nigel en Daveyton vroeër opgeskort is weens intimidasie en vandalisme.
Dit volg te midde van toenemende voorvalle waar pendelaars treindrywers en wagte intimideer.
Treinwaens is in sommige gevalle ook aan die brand gesteek, het RSG berig.
Dinsdag is treindienste tussen Johannesburg en Pretoria erg ontwrig. Metrorail sê op sy Twitterblad dat sy hoofverbinding tussen die Pretoria- en Fonteinestasies herstel is en sy treindiens na Johannesburg weer normaal is.
Aan die Oosrand sal daar slegs tydens spitstyd vanoggend en vanmiddag twee treine wees. Die saketrein is vir eers gekanselleer. Die naweektreinskedule bly dieselfde.
Intussen is die inkomende bane van die N2 in die omgewing van die Kaapstad Internasionale Lughawe weer vir verkeer oopgestel.
Inwoners van informele woongebiede langs die hoofweg het omstreeks drie-uur vanoggend die hoofweg met bande en rommel versper.
Die polisie en verkeersbeamptes is nog ontplooi.