Die tydelike skorsing van ses swart studente, hangende ’n dissiplinêre ondersoek ná Vrydag se betoging deur stakende werkers op die NWU se Potch-kampus, hou nie verband met hul velkleur nie.
Waarnemende rektor, Fika Jansen van Rensburg het aan OFM gesê dit is gedoen op grond van ’n berekende oortreding van prosedure-maatreëls en beleid.
Dit volg na ’n verklaring wat vroeër uitgereik is deur die SR-lid, Grantham Jonkers.
In die verklaring beweer Jonkers dat die betrokke studente die slagoffers van ’n rassistiese veldtog is, aangesien wit studente van die Laureus-manskoshuis, wat glo ’n swart student aangerand het, nie geskors is nie.
Jansen van Rensburg voer egter aan dat die studente nog nie geskors is nie omdat die ondersoek na hul beweerde wandaad pas eers begin is.
Verder sê hy Jonkers staar nou moontlik self dissiplinêre stappe in die gesig.