Die Aardklopfees sal afgelas word, het die bestuur Woensdagaand aangekondig. Vir talle is dit nie slegte nuus nie, want die fees was in elk geval besig om te ontaard in ‘n linkse nes.
Maar maak plek vir die Kaboemfees!
Die twee het niks met mekaar uit te waai nie, sê Steve Hofmeyr, wat die nuwe kultuuruithangplek aangekondig het.
By Hofmeyr se fees, die Kaboemfees, mag almal sing en doen wat hulle wil.
“Aangesien ek geboikot word by elke tweede fees, gaan ek een maak waar ek nie geboikot kan word nie,” het die gewilde sanger aan Netwerk24 gesê.
“En ek dink ons gaan dalk die voortou neem deur ‘n kulturele spasie te skep waar jy nie een keer hoef te dink oor wat jy mag en nie moet nie en of jy polities korrek is nie. Mag ek al vier versies van ‘Die Stem’ sing of net die eerste twee lyntjies? Niks van daai goed gaan jou stop nie.
“Toe ek die fees op Twitter aankondig was daar ‘n ontploffing. Soveel kunstenaars wil daar kom optree.”
Die kultuurfees sal op 26 en 27 Augustus op Nylstroom (Modimolle) plaasvind, met boeresport, boerekos, sang, musiek, boeremusiek, en dans.