Oscars: Rasvenyn, godsdiensagendas, geslagloosheid

Deel op

In ‘n seremonie wat meer na ‘n rasse-integrasiepreek deur Chris Rock, seremoniemeester, geklink het as ‘n glinsteraand, het die Katolieke Kerk verbasend ook kwaai deurgeloop.

Vanjaar se toekennings is eers oorskadu deur klagtes dat daar nie swart akteurs in die toekennings is nie. Die groot Moslembedreiging was ook nêrens te vinde nie ten spyte van sulke waarskuwings deur die Pentagon self.

Kennelik is die Oscars baie meer as net vermaak; dit was dié naweek weer pure politiekery, lukraak agendas en denkprulle waarvan die rakleeftyd al verstryk het.

Spotlight ‘n drama oor die Rooms-Katolieke toesmeerdery van seksuele misbruik deur priesters, het met die louere by die 88ste Academy Awards Sondag weggestap.

Dit het The Revenant uitgestof wat wyd beskou is as die gunsteling, maar het nogtans ‘n beste akteur-prys aan Leonardo DiCaprio, en sy eerste Oscar, besorg. DiCaprio is ses keer vir Oscars benoem voordat hy nou sy eerste toekening gewen het.

DiCaprio het op sy beurt ‘n prekie afgesteek oor klimaatsverandering nadat die oorlewingsrolprent nie die eerste prys by die Oscar-toekenningsaand in Los Angeles kon losslaan nie.

Hy het sy toekenning opgedra aan inheemse gemeenskappe wêreldwyd, soos die Amerikaanse Indiane wat in The Revenant uitgebeeld word.

Dit het ook ‘n beste regisseur-toekenning vir Alejandro G. Iñárritu beteken. Hy is vir die tweede jaar in ‘n ry as beste regisseur bekroon.

Die produsent van Spotlight het gesê hy hoop die oorwinning sal “al die pad na die Vatikaan weerklink”.

Alicia Vikander is aangewys as die beste ondersteunende aktrise in die rolprent The Danish Girl. Die 27-jarige Sweedse aktrise het die beeldjie gekry vir haar rol as die vrou van die “trans-gender” kunstenaar.

‘n Hongaarse rolprent wat by die Auschwitz-konsentrasiekamp afspeel, die soveelste een, Son of Saul, is as die beste rolprent in ‘n buitelandse taal aangewys.

Die rolprent Amy, oor die sangeres en harde dwelmgebruiker Amy Winehouse, het die toekenning vir beste dokumentêre rolprent ontvang.

Die avontuurkomedie InsideOut is aangewys as die beste animasierolprent.

Brie Larson is aangewys as beste aktrise vir haar rol in Room.

Rock het al die stekelrige vrae oor ras in Hollywood met venynige humor beantwoord. Feitlik sy hele monoloog het gehandel oor die onderwerp van “diversiteit”, ‘n kodewoord vir swart.

Hy het onder meer ‘n huldeblyk vir swart mense wat “geskiet is deur die polisie op pad na die flieks” gelewer.

Hy het die twee wit aktrises verwelkom as “Emily Blunt en iemand nog witter, Charlize Theron”. Hulle het die aand se eerste toekenning aangebied vir die beste oorspronklike draaiboek.

Theron het juis haar witheid probeer afskud deur twee swart kinders aan te neem.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.