Dan Roodt: Dis nou tyd om ANC te looi oor Afrikaans

Deel op

Soos ons reeds Vrydag op hierdie webblad berig het, het Solidariteit en provinsiale leiers van die ANC in Gauteng, asook studenteorganisasies van die Universiteit van Pretoria (UP), Woensdag byeengekom om ‘n kompromie oor die taalkwessie by Tuks te vind. Dit word vandag met groot fanfare in Rapport aangekondig.

Volgens Rapport is:

“Een van die eerste besluite wat gevolg het op Woensdag se hoëvlak-vergadering by die Pretoriase stadsraadkantore tussen onder meer Solidariteit, AfriForum en AfriForum Jeug aan die een kant, en die ANC, SAKP, Sasco, Cosatu en Nehawu aan die ander kant, was die opskorting gister van Tukkies se plan om op aandrang van die EFF Afrikaans as onderrigtaal te skrap.”

Die ANC het reeds beheer oor swart studente op die kampusse verloor, wat deesdae erg antiwit en EFF-gesind is. Selfs die Thuli Madonsela, wat oor die algemeen as DA-gesind gesien word, se dogter by Tuks is ‘n EFF-ondersteuner.

Ook die jeugleier van die ANC op die kampus, Samkelo Cetyiwe, met wie PRAAG vandeesweek ‘n video-onderhoud gevoer het, het onomwonde gesê dat Afrikaans “afgeskaf moet word”.

Kennelik is hy nie geken in die besluit van sy provinsiale partybase nie. Na alle waarskynlikheid gaan radikale groepe op die kampus soos die EFF-jeug en UPrising dit nie aanvaar nie en aanhou moeilikheid maak. Die polisie sal egter in die komende week op die kampus ontplooi word om studente wat wil studeer teen onlusmakers te beskerm. Hopelik werk dit.

Enersyds is mens verheug dat daar moontlik nou vrede na die UP-kampus kan terugkeer, dog andersyds weet ‘n mens dat die ANC nooit sy beloftes hou nie. Ooreenkomste, veral met Afrikaners, word maklik aangegaan en ewe maklik verbreek. Ek en Steve Hofmeyr het destyds ‘n stel met Jacob Zuma by die fameuse braaivleis in Houghton afgetrap toe hy ons hart en siel belowe het dat Afrikaners, synde ‘n “spesiale groep in Suid-Afrika” op ‘n ewe spesiale bedeling geregtig is, veral wat die behoud van hul kultuur en onderwysinstellings betref. Daarvan het natuurlik dadels gekom.

Sluit aan by PRAAG!

Vroeër of later sou Afrikaners vir hul regte moes begin opstaan. Toe dit rugbaar raak dat Afrikaans summier by Tuks op aandrang van die EFF en die skaduagtige Engelse organisasie “UPrising” afgeskaf sou word, het beide studente en ouers in Pretoria hul stem begin dik maak. Bykans 14 000 mense het PRAAG se petisie vir die behoud van Afrikaans by Tukkies onderteken.

As u nog nie u naam en e-pos hier ingevul het nie, kan u dit steeds doen. Ons gaan môre ‘n memorandum aan prof. Cheryl de la Rey stuur, tesame met die 14 000 name.

[emailpetition id=”7″]

Soos in die negentiende en vroeë twintigste eeue, het Afrikaans weereens die sluitsteen van die Suid-Afrikaanse politiek geword. Afrikaans verteenwoordig ‘n skans teen amptelike ANC-beleid wat feitlik op alle gebiede diskriminasie teen blankes toepas. Engelse onderrig in Suid-Afrika is derdewêreldonderrig. Aan Engelse universiteite soos Wits of Kaapstad is daar ook so ‘n substraat van marxisme en radikalisme dat standaarde in alle vakke daaronder ly, selfs waar dosente nog in ‘n mate op meriete aangestel word. Maar omdat Afrikaanse skole en universiteite steeds ‘n tradisie van uitnemendheid voortsit, word Afrikanerjongmense toegerus om in die arbeidsmark mee te ding. Hier en daar knyp maatskappye selfs die oë vir rassewetgewing toe en stel blankes aan, bloot “om die werk gedoen te kry”.

Indien Afrikaans dus, soos die EFF en die Engelse groep UPrising dit wil, “afgeskaf” sou word, sou ons Afrikaanse kinders binne enkele jare hul enigste mededingende voordeel in ‘n antiwit stelsel – ‘n goeie opvoeding – verloor.

Daarom gaan die stryd vir Afrikaans om veel meer as bloot die behoud van ons taal en kultuur, hoe kosbaar albei ook al vir ons is. Wesentlik verteenwoordig Afrikaans ‘n laaste reddingsboot tussen ons en volslae ondergang en verarming, selfs volkmoord. Want as ons nie meer ekonomies kan oorleef nie, sal ons nie meer enige veiligheid kan bekostig nie en sal ons op nóg groter skaal as tans uitgemoor word.

Oor die afgelope 20 jaar het ons gesien hoe Afrikaners stap vir stap agteruit geboer het. Een na die ander het die skanse of die domino’s geval, tot hier waar ons feitlik daagliks om oorlewing moet stry. Net Vrydag ontmoet ek ‘n Afrikanervrou wat in ‘n woonstelgebou vol swartes en kleurlinge in Linden, Johannesburg woon. Toe sy kla oor die lawaai wat haar bure maak en hulle vriendelik vra om hul kinders in toom te hou dat hulle minder skree en amok maak, is sy onmiddellik as “rassis” uitgeskel. Selfs die eienaar van die gebou, ‘n welaf Duitser, het die kant van sy ander huurders teen haar gekies en wil haar summier uit die gebou smyt, sonder enige hofprosedure. Binnekort sit sy en haar kind op straat, bloot omdat sy wit en Afrikaans is.

Eintlik is ons reeds totaal uitgelewer: aan staatsmag, maar ook die mag van getalle. Die verskillende anti-Afrikaanse organisasies op die UP-kampus voel dat hulle nou demografies sterk genoeg is om Afrikaners toegang tot hul eie universiteit wat hulle en hul voorouers opgebou het, te ontsê. Tuks moet tot ‘n Afro-marxistiese universiteit met lae standaarde waar min bruikbare kennis gedoseer word, “getransformeer” word.

Maar die streep is nou getrek. Ons aanvaar nie meer om, soos in die verlede onder NP-leiding, willoos tot oorgawe gedwing te word nie. Afrikaners het ook regte, hoe polities onkorrek dit ook al mag klink.

Wat PRAAG betref, gaan ons nou tot die aanval oor. Ons gaan nie betoog of fisiek die EFF te lyf gaan nie. Maar ons gaan alle middele gebruik, soos die howe en ons verhoudinge met simpatiek gesinde groepe oorsee, asook ons toegang tot internasionale organisasies, om taaldiskriminasie en taalvertrapping te stuit. Die ANC verkeer onder die indruk dat hy alles oor die boeg van “ras” kan gooi, en geen blanke kan ooit ‘n rassestryd wen nie, so word daar geredeneer.

Dog benewens ras in hierdie land, is daar ook taal. En Afrikaans sou nie teen die Britse Ryk geseëvier het as ons nie in die verlede gedugte taalstryders was nie. Op ‘n stadium in die 1890’s het Olive Schreiner voorspel dat daar oor ‘n honderd jaar nêrens in Suid-Afrika meer Afrikaans of “Afrikander Dutch” gepraat sou word nie, slegs Engels. Wel, die honderd jaar het verbygegaan; en Afrikaans is steeds hier!

Die bres is geslaan. Die swetterjoel anti-Afrikaanse organisasies op die Tukskampus het oor die afgelope weke met geweld en histerie – waaronder die bekende aanklag van “rassisme” – gepoog om Afrikaans die doodskoot toe te dien. Daarin kon hulle egter nie slaag nie.

Toe PRAAG oorspronklik in 2000 gestig is, was ons versiende genoeg om in te sien dat die Afrikaanse stryd uiteindelik ons voortbestaan in dié land gaan bepaal.

Die oomblik van waarheid het nou aangebreek.

Die opstand het begin. Die ANC moet nou gelooi word soos nog nooit vantevore nie. Hulle moet ons naderhand smeek om op te hou baklei vir Afrikaans.

Vir ons gaan dit oor intellek teen blinde, Raka-agtige geweld. Ons moet die stoomroller van getalle met slim strategie beantwoord. Teenoor die kanon, die sluipskutterskoot wat sekuur tref. In die aangesig van die panga wat soos in Rwanda lukraak geswaai word, die rapier.

Die magtige mediagroep Naspers en sy Netwerk24 het reeds teen Afrikaans en vir die EFF gekies, want hy sanik aanmekaar dat ons “ter wille van die vrede” ons aansprake op taalregte en ‘n ordentlike opvoeding vir ons kinders moet laat vaar.

Die slagordes is opgestel: Netwerk24 + ANC + EFF téén Afrikaans en die Afrikaner. Dis Dawid teen Goliat. Maar ná alles het Dawid gewen.

Sluit asseblief by PRAAG aan, want in dié stryd wat nou ontketen is, kan ons nie sonder u steun oorleef nie.

Sluit aan by PRAAG!

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.