Danie Goosen: Oor Afrikaans buig universiteitsbesture agteroor

Die FAK wil hiermee sy diepe afkeur uitspreek oor die valse en diep misleidende standpunte wat
die afgelope tyd ten opsigte van Afrikaans aan universiteite ingeneem word. Veral die volgende
kwessies is ter sake:

1. Tydens die afgelope dekades het die een na die ander universiteitsbestuur plegtig belowe dat
universitêre Afrikaans nie in gevaar verkeer nie. Ter ondersteuning is talle mooiklinkende
taalbeleide in dié tyd voor die neuse van die Afrikaanse taalgemeenskap geswaai. Daarin word
plegtig belowe dat Afrikaans se plek aan die universiteite veilig is.

Vandag blyk hierdie beloftes toenemend niks anders te gewees het as ’n paaiboelie-strategie en
ten diepste ’n leuenagtige voorstelling van sake. Universiteitsbesture het oor jare openlik vir die
Afrikaanse taalgemeenskap gelieg.

Universiteitsbesture moet nie verontwaardig reageer as die Afrikaanse wêreld hul voortaan met
die grootste denkbare minagting hanteer nie. Dit sal enkel en alleen hul eie skuld wees.

2. Daar word tot vervelens toe aangevoer dat die getal Afrikaanssprekende studente afgeneem
het, en dat Afrikaans daarom afgeskaf moet word.

Die werklike toedrag van sake is dat die absolute getalle van Afrikaanse studente nie dramaties
afgeneem het nie, en dat hulle steeds ’n betekenisvolle aanwesigheid op kampusse soos die US,
die UP en die NWU is.

In hierdie verband mag nie vergeet word nie dat toe Engelssprekende studente slegs 14% van
die totale bevolking by UP uitgemaak het, was die aanbod van klasse in beide tale klaarblyklik
“ekonomies regverdigbaar”. Noudat Afrikaanssprekendes 30% van die totale bevolking van
dieselfde universiteit uitmaak, is dit skielik nie meer haalbaar nie.

Hierdie feit skep by Afrikaanssprekendes onwillekeurig die indruk dat daar met twee maatstawwe
gewerk word. Van ’n sin vir regverdigheid is daar, ondanks mooi klinkende beloftes, kennelik
geen sprake nie.

3. Die afgelope jare het dit ook mode onder universiteitsbesture, hulle akademiese meelopers en
raserige populiste geword om aan te voer dat Afrikaans op ons kampusse uitsluitend werk.
Inderwaarheid bestaan daar nie ’n enkele bewys daarvoor dat Afrikaanse klasse aan “ons”
universiteite per definisie teen enige anderstalige student diskrimineer nie. Inteendeel, eertydse
Afrikaanse universiteite het bykans tot die dood toe (blyk dit nou) agteroor gebuig om
anderstaliges (lees: veral Engelssprekendes) ter wille te wees.

Hoe is dit moontlik dat dié agteroorbuig ten gunste van anderstaliges nou met diskriminasie téén
hulle gelyk gestel word? Enigeen wat dit doen, ly aan kwaadwilligheid, misplaaste haat,
kollektiewe selfontkenning, werklikheidsvreemde denkbeelde oor ’n wêreld sonder taalgrense of
al hierdie patologieë tegelyk.

4. Tydens die afgelope dekades het dit mode in veral die geesteswetenskappe geword om aan
te voer dat daar nie iets soos die “werklikheid” is nie, maar dat alles deur ons “gemaak” of
“geskep” word.

Ironies hiervan is egter dat verskeie akademici wat so dink, baie gou is om aan te voer dat ons
onsself wat Afrikaans betref by die sogenaamde harde werklikheid van getalle moet neerlê.

Skielik vergeet hierdie einste akademici dat daar (ingevolge hul eie denke) planne gemaak en
nuwe uitweë gesoek kan word om die agteruitgang van Afrikaans te verhoed.

’n Tweede ironie wat hieraan knoop, is dat dit ook hierdie einste akademici is wat so graag na
buite voorgee om in opstand teen “die bestaande ordes” te wees, terwyl hulle inderdaad die
eerstes is wat hulle by die diktate daarvan neerlê. Van opstand is daar hoegenaamd geen sprake
nie.

5. Een van die grootste gekhede van vandag is die verwagting by populistiese groepe (nagepraat
deur leunstoel-akademici) dat die verwydering van Afrikaans uiteindelik daartoe sal bydra om hul
ekonomiese en sosiale nood te verlig.

Die tragiese ironie hiervan spreek vanself: die grootse prestasie wat universitêre Afrikaans is, is
juis ’n voorbeeld wat deur dié groepe nagevolg en nie afgebreek behoort te word nie. Afrikaans
se ontwikkeling tot op die hoogste vlak het daartoe meegewerk dat talle Afrikaners in staat gestel
is om ook ekonomies suksesvol te wees. Indien universitêre Afrikaans afgebreek word, word ’n
belangrike voorbeeld en selfs bondgenoot vernietig.

6. Afrikaanssprekendes word tot vervelens toe daaraan herinner dat Afrikaans nie sal uitsterf
solank as wat ons dit praat nie. Hieruit word die gevolgtrekking gemaak dat ons moet ophou om
oor die stand van Afrikaans aan ons universiteite te kla.

Ook hierdie punt is ongegrond. Afrikaans sal inderdaad, soos beweer word, nog lank sonder
universitêre Afrikaans kan oorleef. Maar blote oorlewing is juis nie waaroor dit in die taalgesprek
gaan nie. Die vraag is eerder “hoe” Afrikaans in die toekoms sal oorleef.

Sonder haar aanwesigheid op universiteit loop Afrikaans die wesenlike risiko om haar status as
taal van die intellek, die verbeelding en die morele bewussyn prys te gee. En tot ’n informele
taaltjie van die sypaadjie en die kombuis gereduseer te word.

7. Apologete vir Engelse eentaligheid voer dikwels aan dat die beskerming van tale (en kulture)
nie die taak van ’n universiteit is nie. Ook hierdie stelling is louter bog. Dit strook eenvoudig nie
met die werklikheid nie.

By verre die meeste universiteite in die moderne ontwikkelde wêreld is nie net tot stand gebring
om studente vir die beroepslewe voor te berei nie, maar ook om hulle in die breë sin van die
woord op te voed. En ’n onlosmaaklike deel daarvan is dat studente eers werklik as opgevoed
(of gekultiveerd) beskou is as hulle hul wêreld met behulp van ’n veelheid van tale (ook en veral
hul moedertale) oop kan maak.

Die kultivering van moedertale aan universiteite staan nie in spanning met die akademiese lewe
nie, maar verteenwoordig eerder ’n onontbeerlike deel daarvan. Die oppervlakkige Engels wat
vandag as normatief aan ons universiteite beskou word (en op ’n ondemokratiese wyse aan almal
opgedwing word), verteenwoordig ’n ernstige verskraling van dié opvoedingsideaal. Die volle
ontwikkeling van ons moedertale op universiteit kan help om dié ideaal weer sy regmatige plek
aan ons universiteite te gee.

Afrikaanssprekendes het by ’n skeidingsoomblik aangekom. Indien daar voortgegaan word om
universitêre Afrikaans af te breek, sal groot getalle van ons mense slegs een gevolgtrekking
daaruit maak: dat ons nie welkom is aan die bestaande universiteite nie, en dat ons voortaan vir
Afrikaans ’n eie universitêre toekoms sal skep.

Prof. Danie Goosen
Voorsitter van die FAK-direksie

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.
  • Götterdammerung

    Ja nee, toe die snotsambok van realiteit in Afrika tref toe skarrel hierdie krokodil-voerders verskriklik. Al ooit gehoor van of ‘n Afrikaan of ‘n Kommunis wat sy woord gestand doen? Hel, hulle kan dan nie eers wettige kontrakte nakom nie

  • Flip Kriel

    Hierdie artikel van Prof Goosen behoort wyd gepubliseer te word sodat die ou spul lamsakkige Afrikaners in magsposisies by die ou Afrikaanse universiteite en die ander vyande van Afrikaans dit kan lees. Dit sal nie hulle harte verander nie maar die laaste sin van die artikel is ‘n duidelike kennisgewing aan hulle dat die Afrikaners hulle eie universiteite sal ontwikkel soos hulle in die verlede gedoen het. Alles hang af van die huidige geslag studerende Afrikaanse jeug. Miskien is die voortslepende verwoesting en geweld van die barbare vir hulle ‘n wekroep.

  • coendemilander

    Dankie Danie Goosen vir ‘n goed beredeneerde stuk. Inderwaarheid het die Afrikaner sy universitêre ruimte met die Engelssprekendes gedeel en nou boemerang dit op ons. Lyk my al wat van ons eens trotse instellings gaan oorbly is die verskroeide geboue en puin wat die media aan ons wys. Dit, omdat die gewetes en denke van die liberaal en barbaar verskroeid en leeg aan inhoud en substansie is. En wanneer ons weer ons eie opgerig het, sal hulle net weer kom om ook dit op te eis op grond van een of ander verdraaide en begogelde denkrigting.