NWU sluit Mafikengkampus nadat studente geboue afbrand

Deel op

Volgens ‘n mediaverklaring van die Noordwes-universiteit is die Mafikengkampus “onbepaald gesluit” nadat woedende swart studente verskeie geboue afgebrand het. Die studente was ontevrede oor ‘n nuwe studenteraad wat aangewys is. Op die universiteit se Facebookblad het hy die volgende verklaring gepubliseer, wat ons volledig hier aanhaal.

As gevolg van wydverspreide brandskade wat op 24 Februarie aan verskeie geboue op die Mafikengkampus aangerig is, is die kampus onbepaald gesluit. Studente is aangeraai om die kampus onmiddellik vir hul eie veiligheid te verlaat en huis toe te gaan aangesien dit ’n geruime tyd sal neem voor bedrywighede hervat sal word. Studente sal minstens ’n maand voor die tyd in kennis gestel word wanneer die kampus heropen sal word.

Die gebeure het soos volg ontvou:

’n Geleentheid is vir die oggend van 24 Februarie beplan waartydens die nuut aangewysde Kampus Verteenwoordigende Studenteraad (KVSR) ingehuldig is. Net voor die verrigtinge begin het, het ’n groep studente, na bewering van die EFF-studentebevelstruktuur en ondersteuners van die ontbinde KVSR, die geleentheid ontwrig. Die aanvanklike betogings het buite die Great Hall begin, waarna dit na binne uitgebrei het. Terwyl sprekers die studente toegespreek het, is die geleentheid deur ’n gesingery en geskree ontwrig.

Ná die geleentheid het die tydelik geskorsde KVSR-voorsitter, mnr Linda (Benz) Mabengwane op die kampus aangekom en ’n groep studente toegespreek. Sekuriteit wat op die kampus ontplooi is, het die groep uiteengejaag, wat tot botsings tussen hulle en die studente gelei het. Sekuriteit moes traangas en rubberkoeëls gebruik om die situasie onder beheer te kry. Die studente het sekuriteit met klippe bestook, wat tot verdere teenreaksie gelei het.

Teen laatmiddag het die situasie weer opgevlam en is voorvalle aangemeld waar studente ’n motorfiets wat aan ’n personeellid behoort het, asook ’n sleepwa van die sekuriteitsmaatskappy aan die brand gesteek het. Die personeel-kafeteria is ook geplunder.

Studente het voortgegaan om verskeie geboue op die kampus aan die brand te steek, waarvan die administrasiegebou hul hoofteiken was. Hierdie gebou is in totaliteit vernietig, insluitend alle amptelike rekords. Na berekening beloop die skade miljoene rande.

Arrestasies is klaarblyklik gemaak, maar dit kan nie in hierdie stadium formeel bevestig word nie.

Gerugte is versprei dat ’n student dood is as gevolg van ingryping deur sekuriteit, maar dit is van alle waarheid ontbloot. Daar word wel vermoed dat studente beseer is tydens die botsings met sekuriteit, maar geen bevestigde inligting is in hierdie stadium hieroor beskikbaar nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.