Dan Roodt: Die taaloorlog en wat dit beteken

Deel op

Die huidige stryd wat daar rondom Afrikaans op kampusse woed, is gegrond op suiwer Boerehaat en rassehaat. Selfs sommige van die nugterder swart studente by Tukkies het al toegegee dat die bestaan van ‘n minderheid Afrikaanse lesings op die kampus hulle “glad nie raak nie”. Trouens, die Universiteit van Pretoria het al dermate verengels dat ‘n mens skaars nog tekens van die vorige voer- en doseertaal, Afrikaans, raaksien. Maar selfs hierdie oorblyfsels van Afrikaans aan die universiteit “gee aanstoot” en moet daarom uitgewis word. Op die duur – so lyk dit – moet Afrikanerkinders toegang tot universiteitstudie ontsê word deur die invoer van rassekwotas en ‘n beleid van antiwit diskriminasie.

In ‘n insiggewende onderhoud wat PRAAG gister gevoer het met een van die anti-Afrikaanse agitators op die Tukkie-kampus, ene Samkelo Cetyiwes van die ANC-jeugliga en Kommunisteparty-jeugliga en binnekort op ons YouTube-kanaal beskikbaar sal wees, blyk dit dat die “afskaffing van Afrikaans” bloot die eerste stap in ‘n omvattende revolusie is wat by Tuks beplan word. Soos Sydney Gregan onlangs gevra het, Wie sit agter Malema? En waarom? kan mens tereg ook vra: Wie sit agter die Boerehaatveldtog by Tuks? En waarom?

Die volgende twiet noem die aantal organisasies op wat teen Afrikaans by Tuks baklei:

As ons dus ‘n lys van die Afrikaansvyandige studenteorganisasies moes maak, sou dit só daar uitsien:

  1. ANC-jeugliga
  2. Kommunistiese jeugliga (wat met die ANC-jeugliga verstrengel is)
  3. EFF-jeug
  4. SASCO
  5. PASMA
  6. Tuks UPrising

Die boonste vier organisasies is redelik aan ons bekend, maar wat van die onderste twee? Daar bestaan ‘n kort Wikipedia-inskrywing oor PASMA:

The Pan Africanist Student Movement of Azania (PASMA) is a revolutionary student movement born at the University of the Western Cape, Cape Town, South Africa. It was founded in 1989 as the “Pan Africanist Student Organisation of Azania” (PASO) in Roodepoort, Johannesburg. Among its founders were Lungelo Mbandazayo (Founding President) or Lawrence “General” Nqandela (Secretary General), who led the Pan Africanist Congress of Azania youth wing.

Maar wie is “Tuks UPrising”? Dié organisasie beskik oor ‘n Twitter-rekening met 2 669 volgelinge en ‘n Facebookblad met 3 979 voorkeure. Omdat die organisasie blykbaar ook teen die benaming “Tuks” gekant is, het hy die term “Tuks” laat vaar en staan tans slegs as “UPrising” bekend.

Oor die afgelope week of twee het daar rassepolarisering op die Tukkiekampus plaasgevind, asook by Kovsies. Maar soos gewoonlik bespeur ‘n mens “die wit hand in die swart handskoen” want terwyl PRAAG gister by die kampus was, het ons opgemerk dat ‘n blanke Engelse dame, asook ‘n Indiërvrou, ‘n leidende rol by Tuks UPrising speel en waarskynlik al hul verklarings opstel en die strategie bepaal. Dit wil ook voorkom asof Tuks UPrising “die agenda bepaal” en die ander swart jeugorganisasies soos die ANC, Kommuniste en Effers koördineer. Daar word van ‘n anti-Afrikaanse “kollektief” gepraat.

As ‘n mens na die radikale eise van Tuks UPrising kyk, moet Afrikaans nie net afgeskaf word nie, maar Afrikanerseuns en -meisies ook uit die koshuise gesmyt word. Kortom, dit moet so moeilik as moontlik gemaak word vir Afrikaners om hoegenaamd te studeer! Dít op ‘n kampus wat vir dekades deur Afrikaners bedryf, befonds en opgebou is.

Die vermetelheid van die Afrikanerhaatbeweging by Tukkies en in die land as sodanig skrei ten hemele. ‘n Woordvoerder vir die ANC en radio-omproeper, Shaka Sisulu, het gister getwiet:

Die taaloorlog of die oorlog teen Afrikaans, word dus ook eksplisiet as ‘n “rasseoorlog” gesien. Hoewel, soos ek hier bo noem, verkeer daar ook Engelstalige blankes en Indiërs aan die “swart kant” van die verdeling. Ek dink ons moet aanvaar dat, indien hulle moet kies tussen Afrikaners en radikale swartes, is daar ‘n deel van die Engelse wat eerder saam met die swartes sou staan. Net so is daar sekerlik ‘n klein minderheid Afrikaners van die Max du Preez-tipe wat insgelyks saam met marxistiese swartes en Engelse sou staan om Afrikaners en die Afrikaanse kultuur uit te wis. Aan die ander kant bestaan daar moontlik ‘n “stille meerderheid” van ander rasse en selfs Engelse wat net orde en voorspoed in die land sou wou sien en nie aktief aan die radikale politiek deelneem nie. Dalk sou hulle selfs ‘n Afrikanerbeweging teen die revolusionêre en marxistiese elemente steun. Dog daarop kan ons geensins reken nie. Wesentlik staan die Afrikaner alleen teen die huidige aanslag, en sal ons ons eie planne moet maak om dit die hoof te bied.

Die De Klerk-geslag se oorgawepolitiek het nou sy logiese uiteinde bereik: van oorgawe kom ondergang. Afrikaans moet afgeskaf word, maar ook die kaart en transport op jou plaas of jou huis. Vandeesweek het die parlement die Onteieningswet goedgekeur. Só strompel die land voort op pad na ‘n Zimbabwe wanneer alle blankes se besittings toegeëien sal word en ons met die klere aan ons lywe oorsee sal kan vlug, as ons gelukkig is. Op sosiale media word sulke dinge al openlik gesê: dat ons nie in die land hoort nie en in die see gejaag behoort te word.

Ons moet die huidige vlaag van Boerehaat, waaronder die intense renons in die Afrikaanse taal, sien vir wat dit is: ooglopende tekens van etniese konflik. Hier op my rak het ek twee boeke van die Amerikaanse spesialis oor etniese konflikte, Donald L. Horowitz: The deadly ethnic riot en Ethnic groups in conflict. Groepe wat op dieselfde grondgebied of binne dieselfde staat om hulpbronne of mag meeding, gaan dikwels tot geweld oor wanneer onluste uitbars, geboue afgebrand en lede van die teikengroep voor die voet gedood word. Dit noem Horowitz die “dodelike etniese onlus” wat hy soos volg omskryf:

“Anyone who studies severely divided societies at close range will probably encounter the deadly ethnic riot sooner or later. Deadly riots are not ubiquitous, merely episodic, but when these attacks occur a good many people lose their lives in the most brutal sort of killing, typically accompanies by mutilation, and many more become refugees. The deadly ethnic riot has an element of fury that signals widespread hostility and portends worse. This form of violence produces memories that linger, coloring group relations long afterward.” (Deadly ethnic riot, bl. xiii)

Joe Slovo, Ronnie Kasrils en ander kommunistiese leiers het in die verlede Suid-Afrika se etniese verdeeldheid tussen Zoeloe en Xhosa, Afrikaner en Engelsman, kleurling en Indiër, meesterlik uitgebuit om geweld en selfs massamoorde soos by Boipatong, Trust Feed en KwaMashange of tydens die “volksoorlog” (“people’s war”) in Natal aan te blaas. Tans word dieselfde taktiek op kampusse gebruik om etniese onluste teen Afrikaners aan te hits. Dít wat ons die afgelope paar dae op die Vrystaatse kampus gadegeslaan het, waaronder die afbreek van adv. C.R. Swart se standbeeld of die onderbreking van die Shimla-rugbywedstryd Maandag, pas reg binne dié definisie van etniese onluste.

Soos Carl Schmitt gesê het, kies ‘n mens nie jou vyand nie: hy kies jóú. Bepaalde revolusionêre, Engelstalige groepe in die land het die Afrikaner en Afrikaans tot vyand verklaar. Dis ‘n feit wat nie eens die mees werklikheidsontkennende, apatiese Afrikaner kan ontken nie. Dit behoort ons nie te ontstel nie; immers leef ons al dekades of selfs eeue lank daarmee saam. By tye in die negentiende eeu is die land byna permanent in konflik en chaos gedompel, maar danksy leiers soos Paul Kruger is orde telkens herstel en kon die land van daardie punt af ontwikkel.

Op ‘n manier is ons vandag terug in die negentiende eeu. Daar is geen reëls meer nie en aanvalle geskied skielik en lukraak, soos die veiligheidsbeampte by Tukkies wat deur ‘n swart student van agter af aangeval is.

Die vyandelike, anti-Afrikaanse organisasies op kampusse gaan aanhou agiteer totdat hulle hul doelwit bereik het om Afrikaans en die Afrikaner te vernietig.

Wat nou nodig is, is dat ons soos van ouds sal groepeer, ongeag ons verskille in ouderdom of wat sienswyses betref, om die aanslag die hoof te bied. Afrikaans is omtrent al wat ons oorhet, nadat soveel van ons bates reeds van ons afgevat en geplunder is.

Maar dit gaan om meer as net Afrikaans. Dis ons voortbestaan self wat op die spel is. Danksy die vorige geslag se oorgawepolitiek, word ons as swak en besluiteloos – en dus ‘n maklike prooi – gesien. Tensy ons die teenoorgestelde sein na die vyand toe uitstuur, gaan ons probleme bloot vererger.

Agter die taaloorlog skuil ‘n etniese stryd wat min of meer openlik teen ons gevoer word. Dit help nie ons bly passief en verdedigend nie. Die stryd woed op morele en propagandavlak, toenemend ook fisiek. Ons sal op alle vlakke weerstand moet bied en waar nodig selfs offensief moet begin optree.

Teenoor die slagspreuk, “Skaf Afrikaans af”, kan ons sê: “Skaf Engels af”! Hoewel Engels in die land baie sterk lyk, moet ons onthou dat die anglofiele ‘n bonte versameling van groepe sonder ‘n natuurlike etniese kern verteenwoordig. In teenstelling met Engels wat in Suid-Afrika ‘n soort “nuttigheidstaal” is, beskik Afrikaans wel oor ‘n sterk etniese volkskern in die vorm van Afrikaners. Soos wat die spanning verhoog, sal daar wel krake in die Engelse alliansie verskyn terwyl die samehorigheid van die Afrikaanse groep behoort toe te neem. Sonder ordentlike Afrikaners wat ander goedgunstiglik in die taal van die vyand onderrig en pamperlang, sal die hele hoër onderwysstelsel in elk geval tot stilstand kom.

Geen Afrikaner behoort meer enige onderrig in Engels aan vyandelike groepe te verskaf nie. Laat hulle dosente ten duurste uit Engeland of Amerika invoer. Of beter: laat hulle oorsee aan Engelstalige universiteite gaan studeer. Net soos die “Rhodes must fall”-beweging van Kaapstad na Oxford uitgebrei is, kan Suid-Afrika se etniese onluste gerus na die buiteland verplaas word.

Dis nog ‘n logiese teenstrydigheid wat ek nie kan begryp nie: As die minagting vir Afrikaners so groot is, waarom dan hoegenaamd op ‘n kampus soos Tuks van Afrikanerdosente onderrig ontvang, sy dit dan in Engels? Immers is geen Afrikaner werklik gekwalifiseer om in Engels klas te gee nie, behalwe dié wat ‘n TOEFL-eksamen by die British Council afgelê het.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.