Rand daal skerp na Gordhan se begrotingsrede

Deel op

Die minister van Finansies, Pravin Gordhan het in sy Begrotingsrede in die Parlement gesê die land kan nie geld bestee wat hy nie het nie en kan nie meer geld leen as wat hy kan terugbetaal nie.

Hy het gesê die begroting sal eerder fokus op fiskale konsolidasie, maar markte het nogtans negatief gereageer.

Gordhan moes probeer voorkom dat Suid-Afrika na rommelstatus afgegradeer word. Die rand het kort na die begrotingsrede met sowat 30 sent teen die Amerikaanse dollar gedaal.

Gordhan het verwys na die tekort op die begroting wat binne drie jaar van 3,2 persent tot 2,8 persent verminder behoort te word.

Hy sê maatreëls om die ekonomiese toestande te verbeter sluit die inkorting van besteding en die verhoging van belasting in.

Gordhan sê tot ekonomiese groei gestimuleer kan word en sodoende ‘n groter inkomste vir die staat meebring, moet uitgawes beperk word, dus moet skuld as ‘n persentasie van die Bruto Binnelandse Produk gestabiliseer word.

Die minister sê die regering beoog om belastinginkomste in die 2016/2017 belastingjaar met agtien miljard rand te verhoog en volgende jaar met ‘n verdere vyftien miljard rand.

Die minister van Finansies het belastingverligting van R5,5 miljard vir middel- en laerinkomstegroepe aangekondig, maar nuwe belastings ingestel.

Die regering beoog om vanaf 1 April aanstaande jaar ‘n nuwe belasting op koeldrank en vrugtesap in te stel wat suiker bevat.

Die brandstofheffing word met 30 sent per liter verhoog en ‘n belasting op voertuigbande sal ingestel word.

Aksynsbelasting op drank en tabak sal tussen ses en agt persent styg.

Bejaardes sal maandeliks 80 rand meer ontvang in ouderdomspensioen, wat die toelae op R1500 per maand te staan bring. In Oktober sal ‘n verdere tien rand per maand bygevoeg word.

Kindertoelae word tot R350 per maand verhoog, en die toelae vir pleegsorg styg tot R890 per maand.

In totaal word ‘n bykomende 11,3 miljard rand oor die volgende drie jaar begroot vir maatskaplike toelaes.

Die DA se skaduminister van Finansies, David Maynier sê intussen die begrotingsrede het nie ‘n sterk genoeg impak gemaak deur nuwe maatreëls aan te kondig om die ekonomie ‘n hupstoot te gee en werksgeleenthede te skep nie.

Maynier sê dat die beplande besnoeiings nie ver genoeg gaan nie.

Hy sê Gordhan kon President Jacob Zuma se kabinet kleiner gemaak het, wat R4,7 miljard rand kon bespaar het.

Gordhan het ook tydens die begrotingsrede gesê die begroting is deur die Nasionale Ontwikkelingsplan gerig.

Hy sê dit is gemik op inklusiewe groei, beklemtoon vennootskappe tussen rolspelers in die ekonomie, en lê klem op onderwys en infrastruktuurontwikkeling.

Gordhan het ook gesê die begroting steun werkskepping en die bou van ‘n volhoubare ontwikkelingstaat.

Die minister het sy verbasing oor die skerp daling in die rand en staatseffekte uitgespreek nadat hy sy begrotingsrede in die Parlement gelewer het.

Gordhan sê hy voel hy het genoeg gedoen om ‘n afgradering in die land se beleggingsgradering te voorkom.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.