Namibiër sal regsaksie teen US voortsit

Deel op

Dr. Joggie Briedenhann het Dinsdag by navraag aan die Republikein bevestig dat hy die siviele regsaksie teen die Universiteit van ­Stellenbosch (US), Open ­Stellenbosch en die studenteraad gaan voortsit ondanks die rektor van dié unversiteit, dr. Wim de Villiers, se skriftelike verskoning aan hulle.

Die regstappe sal gedoen word hangende die verslag wat deur ’n onafhanklike kommissaris opgestel word om die instansie se hantering van die beweerde rassevoorval vroeër die maand te ondersoek.

Briedenhann se dogter en ‘n vriendin het hulself pers geverf vir ‘n partytjie. Hulle is deur die instansie se verteenwoordigers as rassiste uitgekryt nadat foto’s van hulle gemanipuleer is om na “black-face” te lyk.

Danksy die kwade wil van die US se fotomanipulasie is die twee daarna uit die koshuis geskors.

“Ons is nie agter die US se geld nie. Ons gaan voort met die siviele saak om die universiteit die dwing om die ondersoek af te handel. Ons wil ook verhoed dat dit net nóg ’n verslag is wat gaan stof vergaar,” sê Briedenhann.

Die aanstelling van ’n onafhank­like kommissaris volg ná openbare woede oor die universiteit se optrede rakende die saak in die media en hoe dit op sosiale media bekend gemaak is.

Luidens De Villiers se verklaring Vrydag is hy spyt oor die trauma wat die voorval vir die betrokke studente en hul ouers veroorsaak het.

Briedenhann meen egter die siviele saak sal die US noodsaak om die verslag se ­bevindinge aan die publiek bekend te maak én om erns te maak met die verslag se aanbevelings.

“Dit gaan oor die beginsel van die saak,” sê Briedenhann.

Die optrede van ene Mathew Smorensburg, verbonde aan die universiteit se sentrum vir ­studentestrukture, gaan onder meer ondersoek word.

Toe die klag van rassisme en “blackface” by die universiteit ingedien is, is Christine en haar vriendin na sy kantoor ontbied. Hy het hulle na bewering ontmoedig om ’n ­regsverteenwoordiger aan te stel en het hulle ook afgeraai om hul vriende of ouers te kontak.

Smorensburg het die twee daarna gedwing om ‘n inkriminerende boodskap wat hyself geskryf het, onder hul eie name uit te stuur.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.