Totale gebrek aan leierskap dompel Kovsies in chaos

Studente op die Kovsie-kampus in Bloemfontein het Dinsdag hul koshuise ontruim het uit vrees vir verdere geweld.

Swart oproeriges het wit studente aangeval, en die hoofgebou en koshuise beskadig in die chaos wat op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat losgebars het weens die gapende gebrek aan leierskap van die rektor Jonathan Jansen.

Praag het Maandag berig hoe Jansen gevlug het voor die swart aanslag.

Hy het later by monde van ‘n verklaring die wit studente verantwoordelik gehou vir die geweld.

Die standbeeld van Suid-Afrika se eerste staatspresident, CR Swart is afgebreek en in ‘n fontein gegooi.

Die swart SR-president van die UV, Lindokuhle Ntuli sê hulle sal voortgaan met hulle protesoptrede totdat daar aan hulle eise voldoen is.

Hy sê rassisme het geen plek by die instelling nie en dat iets daaromtrent gedoen moet word.

Ntuli sê die studente eis dat die CR Swart-standbeeld verwyder word, dat rassisme beëindig word en dat skoonmakers ingekontrakteer word.

Die manskoshuis Huis Abraham Fischer, ook bekend as Vishuis, het ook onder die vandale deurgeloop wat glo teen die uitkontraktering van kampuswerk betoog.

Die universiteit het aangekondig dat die Bloemfonteinse kampus gesluit sal bly tot verdere kennisgewing omdat die veiligheid van studente, personeel en eiendom nie gewaarborg kan word nie.

‘n Verdere 60 veiligheidswagte is op die kampus ontplooi om uitgebreide vandalisme te probeer keer.

Nadat wit toeskouers die oproeriges Maandag van die rugbystadion verwilder het, het die swart horde wit koshuisstudente aangeval, veral in Vishuis. Dinsdagoggend is dieselfde koshuis weer bestorm en nog skade aangerig.

Jansen het Dinsdag op ‘n mediakonferensie gesê die geweld was ‘n terugslag vir transformasie. Hy het dit betreur dat die swart betogers “se regte letterlik en figuurlik vertrap en talle ou wonde oopgekrap is”.

Dit is nie duidelik waarom die swart oproeriges oor “regte” beskik wat hulle in staat stel om wittes aan te val en eiendom te beskadig in ‘n bestel wat self deur Jansen voorgehou word as ‘n matelose verbetering op die die vorige een nie.

Kennelik is die huidige regime se probleem met “witheid” iets waarmee Jansen saamstem nadat swart oproeriges die koshuis binnegestorm het en niksvermoedende wittes met stokke en klippe aangeval het.

Die polisie moes vrouestudente uit die Madelief-koshuis na veiligheid begelei toe swartes die plek bestorm het met die waarskuwing dat hulle “enige kind van ‘n wit man sal doodmaak”.

Die polisie is daarna met klippe en bottels bestook en daarvan beskuldig dat hulle net wit studente beskerm.

In Pretoria het die universiteitsbestuur studenteleiers Dinsdagaand in ‘n verklaring gewaarsku dat tugstappe en strafregtelike klagte geneem sal word teen diegene wat Maandag by kampusgeweld betrokke was.

Die UP bly steeds tot verdere kennisgewing gesluit.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.