Ligte sportmotors: Stuttgart v. Ingolstadt

Deel op

Wat kry jy as jy twee van die wêreld se gesogte motorvervaardigers vra of jy dalk van hul sportmotors kan toetsbestuur? Van Stuttgart af het ons die Mercedes-Benz SLK 300 ontvang. Die manne in Ingolstadt het weer vir ons die Audi TT gestuur. Die twee motors is beide klein, ligte sportmotors met baie persoonlikheid en nog meer byt.

Voorkoms

Die SLK van die kant af
SLK van die kant

Die nuwe SLK is eintlik al weer oud: ‘n mens sien dit aan die naamsveranderinge wat Mercedes-Benz onlangs ondergaan het. Die ML is na die GLE en die GL na die GLS toe verander en terselfdertyd het hulle ook die SLK se naam na die SLC toe verander. Maar wag ‘n bietjie, was daar nie in die jare sewentigs ‘n SLC-model nie? Jip en die nuwe SLC het nou die omwenteling deurgemaak om terug te keer na dié benaming toe. Ons het nog die SLK in Suid-Afrika, maar vanaf Januarie is die nuwe SLC nou eintlik die nuwe SLK! In elk geval is dit in Europa en die VSA die geval. Die nuwe benaming sal baie binnekort ook plaaslik gebruik word.

Die SLK van agter
Die SLK van agter

Die oorspronklike resep van ‘n lang neus en baie kort stert met so min as moontlik gewig en ‘n uiters lae swaartepunt is die wenkombinasie van die SLK. Lyne is superslank met sagte kurwes op al die regte plekke en twee lang deure wat terughunker na die SLS McClaren. Luginlate aan die kante is baie aggressief maar tog stylvol terwyl groot 18-duim-allooivellings die sportiewe karakter van die SLK onderstreep. Die SLK is natuurlik ook ‘n sportkoepee wat met die druk van ‘n knoppie in ‘n afslaandak kan verander. Met die dak af verander die Benz se hele karakter van ratse sportmotor na luilekker Sondagmiddag-Chapmanspiek-mobiel. Die hele vorm van die SLK lyk sommer na somerson en see.

Die Audi TT van voor
Die Audi TT van voor
Die Audi TT van agter
Die Audi TT van agter

Die Audi TT aan die ander kant vertoon skerp en doelgerig van alle kante af en die nuwe baklyne bring dié eienskappe nog meer as ooit na vore. Hier is die lyne skoon, amper asof dit nog ‘n prototipe iewers op n draaivloer by ‘n motorskou moet wees. Daar is byna geen baklynnate nie, so asof die hele motor uit een stuk mataal gegiet is. Groot 19duim-allooivellings rond die motor se sportiewe voorkoms mooi af. Daar is geen tierlantyntjies en gate en vlerke en goed wat die lyne bederf nie. Die voorste lugskorte is groot en aggressief met slanke hoofligte wat naatloos in die bakwerk wegsmelt. Van agter lyk die TT onmiskenbaar soos ‘n Audi met skoon lyne wat mens onwillekeurig aan ‘n chirurg se skalpelmessie laat dink. Hierdie Audi lyk vlymskerp.

Binneruim

SLK-instrumentepaneel
SLK-instrumentepaneel

Maak die deur van die SLK oop en jy kom vinnig agter dat dit baie moeilik binne in jou motorhuis gebeur. Die deur is so lank dat dit werklik byna onmoontlik is om binne in die motorhuis uit of in die motor te klim sonder om die deur teen die muur te laat raak. Dan is die motor nog so laag dat jy letterlik inval en soos ‘n ou man eers bietjie sukkel voor jy uitkom. Sit jy egter agter die stuur, voel en lyk alles net reg. Al die skakelaars is van uitstaande gehalte en die paneel en deure, asook die sitplekke en middelste konsole is alles met sagte leer bedek. Luginlate en insetsels in die stuurwiel asook die ronde knop om die funksies van die aanboordrekenaar te beheer, is alles van aluminium.

Audit TT-instrumentepaneel
Audit TT-instrumentepaneel

Die Audi se binneruim is net soos die buitelyne skerp en skoon. Weereens is daar leer met aluminiuminsetsels en in tipiese R8-styl ‘n klein sportstuurwiel met ‘n dikraamgreep en afgeplatte onderkant. Die Audi se binneruim is ook meer prakties met nog twee klein sitplekkies agter. Alhoewel dit glad nie enige passasiers groter as ‘n kleuter sou kon huisves nie, is dit darem ekstra pakplek vir ‘n sportsak of so iets. Die SLK het slegs twee sitplekke en met die dak in die bagasieruim ingevou is die laaiplek nog meer beperk. In die TT kan die agterste sitplekke nog platvou om werklik ‘n ruim bruikbare bagasieruim te skep.

Enjin

SLK-bagasieruim
SLK-bagasieruim

Ons twee toetsmodelle was beide met 2.0-liter-viersilinderturbo-enjins toegerus. Die SLK 300 klink so asof dit ‘n 3.0-liter-V6-enjin moet huisves, maar in die lig van die tegnologiese vooruitgang is die SLK 300 in werklikheid slegs ‘n 2.0-liter met ‘n fris turbo. Die enjin lewer 180 KW en 370 NM se wringkrag met die bykomende voordeel van slegs 144g/km se koolstofuitlaatgasse. Die ligter enjin en 9-spoed- outomatiese ratkas stel die SLK dan in staat om die magiese 250 km/u-maksimumspoed te bereik. Die 100km/u-kerf blits in slegs 6 sekondes verby. Om dit in perspektief te stel, is dit dieselfde syfers as wat die SLK 350 met sy V6 van 3.5 liter kan behaal. Die V6-model lewer 225KW maar is heelwat swaarder. Wat die Audi aanbetref, word die TT ook deur ‘n 2.0-liter-viersilinderenjin aangedryf. Die enjin ontwikkel 169 KW en 370 NM met 151g/kg se koolstofuitlaatgasse. Die groot veskil is dat die Audi deur al vier wiele aangedryf word en dus van rus tot 100km/u in slegs 5,3 sekondes vesnel. Die TT is toegerus met n 6-spoed- outomatiese ratkas wat seepglad die ratte kies.

Elke dag

Audi TT-bagasieruim
Audi TT-bagasieruim

Om elke dag met enige van die twee motors saam te leef, laat ‘n mens spesiaal voel. Die SLK trek baie meer aandag as die TT, maar die TT is heelwat makliker om te parkeer, sy neus is nie so lank nie en hy is nie so laag soos die SLK nie. Daar is ook baie meer ruimte in die TT en die bagasieruim is groter. Die SLK se dak kan afslaan en daarby kan die TT nie saamgesels nie. Die TT se padhouvermoë is stukke beter as dié van die SLK as gevolg van die vierwielaandrywing.

Gevolgtrekking

Teen R745 000 is die SLK nie goedkoop nie, maar steeds in sportmotorgeselskap goeie waarde vir geld. Vergelyk die Alfa 4C Spider met die SLK en jy sal sien dat jy byna twee SLKs sal kan koop vir die Alfa se prys, die BMW Z4 kos R756 000 en die Porsche Boxster sal jou R772 000 uit die sak jag. Kyk ons na die Audi TT, sal jy R678 000 moet opdok vir die Audi TT 2.0T Quattro. So in hierdie geselskap is die Audi TT die onomwonde wenner as gevolg van die praktiese aspek, asook die ware sportmotorverrigting.

Mercedes Benz SLK 300

Prys 3   uit  5
Voorkoms buite 5   uit  5
Binneruimgehalte en afwerking 5   uit  5
Ruimte en praktiese toepassing 3   uit  5
Agter die stuur 4   uit  5
Enjin en ratkas 5   uit  5
Op die pad 4   uit  5
Veiligheid 5   uit  5
Totaal 34 uit 40

Audi TT 2.0T quattro

Prys 4   uit  5
Voorkoms buite 4   uit  5
Binneruimgehalte en afwerking 5   uit  5
Ruimte en praktiese toepassing 5   uit  5
Agter die stuur 5   uit  5
Enjin en ratkas 5   uit  5
Op die pad 5   uit  5
Veiligheid 5   uit  5
Totaal 38 uit 40

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.