Uganda se opposisieleier in vangwa gesmyt

Deel op

Die hoofleier van die opposisie in Uganda, dr. Kizza Besigye, is Maandag deur die polisie in hegtenis geneem en agter in ‘n vangwa gesmyt toe hy probeer het om sy huis aan die buitewyke van Kampala te verlaat.

Hy wou die verkiesingskommissie­ se hoofkantoor besoek om gedetailleerde afskrifte van die uitslae van die presidentsverkiesing te bekom, het AP berig.

Die polisie met hom weggejaag en hy is later by ’n landelike polisiekantoor opgemerk.

Besigye, ‘n medikus, was verbonde aan die Ugandese weermag. Dit is die vierde keer in agt dae dat hy aangehou word.

Hy het Sondag ondersteuners­ aangemoedig om protes aan te teken teen sy voortgesette huisarres in die nadraai van die omstrede presidentsverkiesings wat deur pres. Yoweri Museveni gewen is.

Besigye is nie toegelaat om sy huis aan die buitewyke van Kampala te verlaat nie. Die polisie het aangevoer dat dit “voorkomende arres” is om hom te verhinder om betogings te lei teen Museveni se oorwinning wat tot geweld kan lei.

Gewapende polisiemanne het buite sy huis wag gestaan en ’n padblok­kade is opgerig om mense te verhinder­ om toegang tot Besigye te kry.

Kampala was kalm nadat die uitslae van die verkiesing aan­gekondig is, maar ’n streng teenwoordigheid deur veiligheids­personeel is gehandhaaf.

Museveni is Saterdag as die wenner van die presidentsverkiesing verklaar wat Donderdag gehou is. Besigye se party het die amptelike uitslae verwerp en beweer grootskaalse kullery het tydens die verkiesing plaasgevind.

Museveni het met meer as 60 persent van die stemme gewen en Besigye het 35 persent van die stemme op hom verenig.
Die 71-jarige Museveni het in 1986 aan bewind gekom.

Die Europese Unie se waarnemersending het Donderdag gesê die stemmery het ‘n tekort deursigtigheid getoon en het in ‘n “intimiderende” atmosfeer plaasgevind.

Die Amerikaanse minister van buitelandse sake John Kerry het Museveni geskakel om sy kommer uit te spreek oor die teistering van die opposisie asook ‘n oënskynlike sluiting van sosiale mediadienste.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.