Gaan EFF Afrikaans by Tuks afgeskaf kry?

Deel op

In weerwil van die interdik wat die Universiteit van Pretoria teen die EFF-jeugbeweging op die kampus verkry het, lyk dit asof die universiteit reeds die weg berei op ‘n oorgawe oor die taalkwessie. In ‘n verklaring wat gister op die universiteit se webblad – slegs in Engels – verskyn het, word daar gepraat van ‘n verandering aan die taalbeleid van Tuks om dit ‘n Engelstalige instelling te maak.

Die verklaring lui soos volg:

As deel van sy voortdurende raadpleging oor die Universiteit van Pretoria se taalbeleid, het die universiteitsbestuur ‘n reeks vergaderings met studenteliggame op 18 en 19 Februarie gereël om terugvoer oor die Taalbeleidstaakspanverslag te verskaf, asook die voorgestelde wysigings aan die taalbeleid wat die verslag bevat. Ongelukkig kon die vergaderings wat vir 18 Februarie gereël is, nie voortgaan nie. Die vergadering wat vir 19 Februarie bestem is, word uitgestel.

Afrikaans word aan Sepedi gelykgestel

Onder die nuwe taalbeleidsvoorstelle wat voorgestel word, is dat Afrikaans aan Sepedi gelykgestel word en dat Engels tot die “hooftaal in alle lesings” bevorder word. Volgens die universiteit se verklaring het die Taalbeleidstaakspan die volgende “wysigings” aan die huidige taalbeleid voorgestel:

  • Dat Engels die hooftaal in alle lesings moet wees.
  • Dat die universiteit veeltaligheid behoort te bevorder as ‘n middel tot studentevordering en die bou van maatskaplike samehorigheid.
  • Dat Afrikaans en Sepedi gebruik word om bykomende ondersteuning aan studente in tutoriale, praktiese klasse en gesprekke te bied.
  • Oorgangsmaatreëls sal toegepas word, vir geval die voorgestelde wysigings aanvaar word.

Vanweë onluste op die kampus, wat hoofsaaklik deur die EFF-jeugbeweging veroorsaak is, sal raadpleging nie meer plaasvind nie en word studente en personeel toegelaat om “per epos” kommentaar op die voorgestelde wysigings – wat op klakkelose verengelsing neerkom – te lewer.

‘Veranderende studente-demografie’

Op vrae van PRAAG aan die skakelbeampte van Tuks, Anna-Retha Bouwer, het sy soos volg gereageer:

Die Hersiening van die taalbeleid is reeds in Februarie 2015 van stapel gestuur in die lig van veranderende studente-demografie en om die Universiteit in staat te stel om studente se akademiese sukses te koester.

Die verslag van die aangewese taakspan is op 27 Januarie 2016 by die Senaatsitting bespreek. Daar word nou verder gekonsulteer met studente en fakulteite.

Na die konsultasieproses, sal die Raad die voorstelle vir die toekomstige taalbeleid oorweeg. Implementasie van enige veranderinge sal in ooreenstemming wees met die relevante wetgewing aangesien die taalbeleid ‘n statutêre kwessie is wat voor die Minister van Hoër Opvoeding en Opleiding moet dien.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.