Obama takel Trump

Deel op

Met die gewilde miljardêr, Donald Trump, steeds die voorloper onder die Republikeine, het pres. Barack Obama nou ook tot die stryd toegetree en in ‘n onderhoud gesê Trump sal nie president word nie, omdat hy vertroue in die oordeel van Amerikaners het.

“Om die president te word, is ernstige werk, en nie dieselfde as om die gasheer van ‘n geselsprogram of werklikheidsprogram op televisie, ‘n vermaaklikheidskunstenaar, ‘n promotor of ‘n bemarker te wees nie,” het Obama gesê.

Trump het egter dadelik teruggekap en gesê Obama moes bly wees hy wat Trump is, het nie as kandidaat in die vorige verkiesing gestaan nie.

Obama het in dié verkiesing geseëvier oor die Republikeinse kandidaat, Mitt Romney. “As ek die kandidaat was, sou Obama nie ‘n twee termyn president gewees het nie,” het Trump gesê.

Trump geniet volgens meningspeilings 38 persent van Republikeine se steun en is 16 punte voor sy naaste teenstaander, Ted Cruz.

Aan die Demokrate se kant, geniet Hillary Clinton 56 persent van die steun teenoor Bernie Sanders wat 38 persent van die steun geniet. Clinton se grootste steun kom van veral vrouens en swart kiesers.

Suid-Carolina, waar die volgende rondte voorverkiesings gehou sal word, word as belangrik geag vir kandidate omdat dit die deelstaat is waar die eerste voorverkiesing in die suide van die land plaasvind.

Die deelstaat is ‘n Republikeinse vesting, met 65 persent van die inwoners wat hulle as wedergebore Christene bestempel.

Ondertussen duur die debat oor die opvolger van die ontslape regter van die hooggeregshof, Antonin Scalia, voort.

Obama het reeds aangedui dat hy Scalia se opvolger sal aanwys, maar Republikeine sê hulle sal sy nominasie in die senaat blokkeer. Hulle meen dit behoort die prerogatief van die volgende president, wat in Januarie 2017 aan bewind kom, te wees om die posisie te vul.

Obama hou egter voet by stuk en sê hy sal iemand met wat erns het met “die demokrasie en die regstaat”, waarskynlik ‘n Demokraat, benoem.

Sommige Republikeinse senatore het egter aangedui hulle sal wag om te sien wie die genomineerde is, voor hulle besluit om die kandidatuur te steun al dan nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.